Diep Ingedagte

17 April, 2019
Luister Na Hierdie Dagstukkie Diep Ingedagte

Johannes 1:1-14

Sewentig jaar het soos ‘n oogwink verbygevlieg, sewentig jaar sedert sy eerste ontmoeting met Jesus van Nasaret, daar op die strand van die See van Galilea. Hoe baie dinge het daar nie gebeur in daardie tyd nie!

n Glimlag sprei oor die ou man se gesig. Wat ‘n asemrowende voorreg was dit nie om vir ‘n volle drie jaar elke dag saam met die Here Jesus te kon deurbring. Dit was baie, baie spesiaal en ‘n uiters kosbare tyd vir hom.

n Ruk gelede het hy die groot taak aangepak om die verhaal van Jesus neer te skryf, want soveel gelowiges het nie mooi verstaan waaroor dit alles gaan nie. O ja, Markus het alreeds die verhaal neergeskryf so kort voor die groot tragedie Jerusalem getref het, toe die Romeine die tempel verwoes het. En toe, ‘n paar jaar later het Matteus óók die verhaal neergeskryf. So ook daardie knap doktertjie, Lukas.

Maar hy, Johannes wou iets totaal anders bereik. Sy boek sou nie maar net die verhaal van Jesus wees nie. Hy wou die gebeure in Jesus se lewe gebruik om die boodskap van die Evangelie vir mense duidelik te maak. Daarom begin hy sy boek nie soos Matteus en Lukas deur te vertel hoe Jesus gebore is nie, maar hy val met die deur in die huis deur te vertel presies Wie en Wat Jesus was, en inderdaad nog steeds is. Daarom het hy sy boek met die treffende woorde begin: “In die begin was die Woord (dis natuurlik Jesus waarvan hy skryf) en die Woord was by God, en die Woord was sélf God!” Kan jy dit duideliker uitspel?

Johannes moes dit baie duidelik maak dat hierdie Jesus selfs die Skepper was van die hemel en die aarde! Absoluut niks wat ons ken is NIE deur Hom geskep nie! Hy was nie sommer maar ‘n gewone mens nie, of selfs ‘n profeet nie. Hy was en is God almagtig. Uit en gedaan!

Johannes was al gekritiseer dat hy nie die verhaal van Jesus in streng volgorde geskryf het soos dit gebeur het nie, maar dit was nooit sy bedoeling om alles mooi netjies agtermekaar te skryf nie. Hy het bloot grepe uit Jesus se lewe geneem om waarhede te probeer beklemtoon.

En dan wou hy natuurlik probeer verduidelik van hoe belangrik liefde is. Daardie wonderlike woordjie Liefde! Natúúrlik begin alles by God se liefde vir ons. Johannes raak sommer skoon opgewonde as hy weer dink oor wat God se liefde alles beteken! Daarom skryf hy sommer hier vroeg-vroeg al in die boek van Jesus se nagtelike gesprek met Nikodemus. Die arme man moes Jesus in die donker opsoek omdat hy bang was sy mede-Fariseërs sien dat Hy met Jesus gesels. En dan vertel Jesus hom hoe asemrowend lief God die wêreld gehad het, só lief dat Hy Sy enigste Seun na hierdie einste goddelose wêreld gestuur het om ons die ewige lewe te kom gee.

God se liefde is oneindig groot! Johannes kan net nie uitgepraat raak daaroor nie!

Maar dit is baie, baie belangrik dat ons, die gelowiges ook liefde moet uitleef, nie alleen teenoor mekaar nie, maar ook teenoor ongelowiges en selfs ook teenoor ons vyande! Johannes kan dit nie genoeg beklemtoon hoe ontsettend belangrik liefde is nie. Jesus het dit immers by verskillende geleenthede herhaal, dat ons liefde moet uitleef! Só belangrik is dit vir Jesus, dat Hy enkele ure voordat Hy gevange geneem is om gekruisig te word, dit weer ‘n slag oor en oor herhaal. “Soos die Vader My liefhet, het Ek julle ook lief,” het Hy daardie nag gesê. “Julle moet in my liefde bly.”

Dit was nie maar net ‘n versoek van Jesus nie. Nee, net daarna sê Hy vir hulle dat dit eintlik ‘n opdrag, ‘n bevel is: “Dit beveel Ek julle: Julle moet mekaar liefhê!”

Vir Johannes was dit so ‘n wonderlike voorreg om hierdie boek te kon skryf. Sy gebed is dat baie mense dit sal lees en Jesus sodoende beter verstaan. Inderdaad besef hy baie goed dat dit nie uit sy eie krag is wat hy die boek kon skryf nie. Hy is immers maar ‘n eenvoudige visserman!

Hy glo egter vas dat dit die Heilige Gees is wat vir hom die woorde in sy gedagtes neergelê het sodat hy dit kon skryf. Op sy oudag het hy nou nie meer die kragte om die wêreld aan die brand te gaan preek, soos hy gedoen het toe hy nog jonk was nie. Maar nou het God hom die geleentheid gegee om steeds die Evangelie te kan uitdra, al is dit dan ook net met ‘n gansveer en ink. Natúúrlik is daar baie maniere om Jesus se Goeie Nuus uit te basuin aan die wêreld.

Johannes sug swaar. Ja, hy is ál een wat nog oorgebly het van die twaalftal. Hulle sit nou almal aan Jesus se voete. Hoe verlang hy nie, smag hy daarna om weer by Jesus te wees!

Gebed:

Here, soos Johannes, sien ek ook uit na die heerlike dag wanneer ek saam met soveel ander gelowiges aan U voete kan sit.

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Die Ark is Terug
24 August, 2026
‘n Warm Patat
21 August, 2026
Die Ark is Gebuit!
20 August, 2026
Luister en Doen
19 August, 2026
Wanneer die Here Praat
18 August, 2026