Kolossense 1:24-29
Suid-Afrika se liefling plaasboer-prediker, Oom Angus Buchan, het maar ‘n baie wankelrige begin gehad in sy prediking-loopbaan. Die meeste mense was maar bitter skepties oor hierdie eenvoudige plaasboer wat wou preek. Toe Angus begin om die Woord uit te dra, het mense (selfs predikante!) deure in sy gesig toegeklap. Hy het egter nie moed opgegee nie, en God het Sélf deure vir hom wawyd oopgemaak. ‘n Kind van God wat erns met sy geloof maak, kan gewoonlik teenstand verwag, want die duiwel is nie gelukkig daarmee wanneer iemand sy geloof ernstig opneem nie. Inderdaad het mense ook al by verskeie geleenthede probeer om deure in mý gesig toe te klap met hierdie internetbediening, maar God is groot en almagtig, selfs baie groter as die mense wat die Evangelie probeer stop! Hy het talle groot deure oopgemaak, sodat ek dikwels verbaas moes toekyk hoe wonderwerke gebeur en die Woord van God oor die wêreld heen versprei.
'n Paar jaar gelede het die NG Kerk van KwaZulu-Natal begin om gewone lidmate op te lei om te kan preek. Ek was baie bevoorreg om hierdie opleiding te kon meemaak. En weereens was feitlik elke persoon wat die opleiding voltooi het, begroet met teëstand. Baie gemeentelede wou hulle nie aanvaar nie, bloot op grond van die feit dat hulle nie geordende leraars was nie. Ek het self sulke teenstand beleef en ek het dit al selfs ondervind dat sommige mense weier om die erediens by te woon wanneer ek die dag preek!
Wanneer Paulus egter van lyding praat, kan ons nie werklik saamgesels nie, want wat hy deurgemaak het ter wille van die Evangelie, is niks minder as ‘n riller nie. Om mee te begin, was hy in die tronk terwyl hy hierdie brief geskryf het. Hy was verskeie kere in die tronk, dikwels onder baie haglike en pynlike omstandighede. Hy is verskeie kere soos ‘n sleg hond weggejaag, en hy is selfs per geleentheid gestenig - met klippe gegooi totdat die mense gedink het dat hy dood was. Wonder bo wonder het hy dit oorleef! En dan was hy ook ‘n slag of wat gegésel - met ‘n sweep geslaan totdat hy stukkend was. Daarna was hy met daardie rou wonde aan sy rug vasgeketting en sy voete in blokke in ‘n vuil kerker toegesluit!
Is ek en jy werklik bereid om ‘n bietjie lyding te verduur ter wille van die Evangelie? Is ons bereid om op te staan wanneer die heilige Naam van God misbruik word? Is ons bereid om Jesus se Naam te bely in alle omstandighede? Selfs wanneer vriendskap in die gedrang kom? Of wanneer dit skade kan doen aan my besigheid? Sou ek selfs my lewe waag vir die Evangelie? As ons maar net luister na die verhale wat vertel word deur organisasies soos Geopende Deure, oor die vervolging wat gelowiges bereid is om deur te gaan in sommige Moslemlande, dan kan jy jou hande saamslaan!
Daar is egter ‘n ander punt wat Paulus by ons wil tuisbring, en dit het implikasies vir leraars sowel as gemeentelede.
Paulus sien sy opdrag om mense te onderrig en te leer sodat hulle geestelike volwassenheid kan bereik. Vandag is dit dan ook gewoonlik die opdrag wat elke dominee/leraar/pastoor het. Die dieper betekenis hiervan is dat hierdie gemeenteleiers se grootste taak is om Christen-gelowiges op te lei om volwaardige dissipels van Jesus te kan wees, dissipels wat onder meer die Woord van God sal uitdra, elkeen op sy eie besonderse manier.
Daar is legio moontlikhede oor hoe om dit te doen. Sommige gaan huisbesoek doen en mense geestelik bearbei. Ander weer kuier by die oumensies wat dikwels baie eensaam is en uitgehonger vir geselskap. Iemand anders kan weer mense bemoedig, veral diegene wat bedroef is of swaarkry beleef. Ander gaan dalk voorbidding doen of ‘n selgroep lei of bemoedigende boodskappies uitstuur. In ons gemeente het ons ’n span wat elke Saterdag vir die Zoeloesprekende huiswerkers in ons dorp ’n diens hou. Daar word heerlik saam gesing en gebid en dan is daar ’n boodskap. Ons versprei gratis Bybels aan hulle en gee eetgoed en iets te drinke. Elke lid van die span het ’n ander taak. Myne is om die boodskap te lewer. Petro lei die lofprysing en Ria doen die organisering. Die pannekoekspan voorsien ons van heerlike eetgoed en ander gemeentelede voorsien weer Bybels sodat elkeen wat die dienste bywoon sy eie Bybel kan besit. Ja, inderdaad is sommige van die mense wat die dienste bywoon haweloses wat hier vir die eerste keer in hulle lewe 'n Bybel kan vashou! En so dra ons saam die evangelieboodskap uit.
Daar is ‘n legio maniere waarop elkeen van ons nuttig kan wees in God se Koninkryk, om elkeen op sy eie manier te help om die evangelieboodskap uit te dra. Hierdie is nie die taak van ‘n leraar nie, maar doodgewone lidmate soos ek en jy. Vind jou nis in God se Koninkryk!
Gebed:
Here, dankie vir mense soos Paulus en Angus wat vir ons ‘n voorbeeld kom stel het van hoe om lyding te weerstaan, en om waarlik nuttig te wees in U Koninkryk. Gee my asseblief die insig, ywer en kreatiwiteit om waarlik 'n nuttige burger van U Koninkryk te wees.