Johannes 15:1-8
Die vrug van die wingerdstok het ‘n baie groot rol gespeel in Jesus se bediening op aarde. Keer op keer word dit gebruik om God se almag te beklemtoon of om die een of ander waarheid tuis te bring of om te dien as simboliek. Jy sal nog onthou dat Jesus se eerste groot wonderwerk juis was om wyn te maak van water. Hier voorsien Hy die vrug van die wingerdstok in oorvloed en kwaliteit uit niks! Tydens die laaste maaltyd saam met Sy dissipels word wyn die simboliek van Sy kosbare bloed wat gestort word sodat die gelowiges kan lewe.
En nou gebruik Jesus, enkele ure voordat Hy gevange geneem gaan word, die beeld van druiweboerdery om te wys hoe die interaksie is tussen God en die gelowiges.
In die mooiste Kaap staan jy dikwels verstom oor ‘n boer se piepklein stukkie grond onder wingerd, met iewers selfs nog ‘n wynkelder ook. Hoe is dit moontlik dat so min so baie kan produseer? In die Vrystaat strek die mielielande dikwels tot ver oor die horison en dan krepeer die arme boer steeds van die ellende. Dit is absoluut verstommend hoe ‘n groot klomp druiwe een enkele ou wingerdstokkie kan produseer! Maar daar is sekere voorwaardes wat nagekom moet word vir só ‘n goeie produksie! En dit is juis hierdie voorwaardes wat Jesus uitspel, want wat vir die wingerd geld, geld ook vir die gelowige.
Die eerste waarheid wat ons baie deeglik moet besef, is dat daar drie elemente is waarsonder ‘n wingerd gladnie kan bestaan nie. Die eerste is die wingerdstok. Sonder daardie stam is daar géén vrugte, lote of lewe nie. Die tweede is die lote, die stingels waaraan die druiwekorrels groei. Die derde, baie belangrike element is die druiweboer, want sonder sy intensiewe aandag sal die wingerd so wild rank dat daar geen krag oor sal wees vir vrugte nie.
In die beeld wat Jesus gebruik, stel Hy Homself voor as die Wingerdstok - die Bron van lewe. Die Vader word voorgestel as die Boer wat alles in stand hou. Die gelowiges word gesien as die lote. Nou moet ons baie deeglik besef dat die lote aan ‘n wingerdstok van uiterste belang is, want sonder lote gaan daar géén vrugte wees nie. Kyk jy mooi na ‘n wingerdstok, dan merk jy ook dat daar nie ‘n hoofloot is wat al die druiwe dra en ‘n klomp mindere lote wat net ondersteun of saamgroei nie. Nee, ál die lote is ewe belangrik en álmal dra vrugte. Pas ons dit toe op die kerk, dan is dit nie die dominee of pastoor wat al die vrugte moet dra en die gemeente draf maar net saam om te ondersteun nie. Almal het ‘n ewe groot taak.
Jesus sê ‘n skrikwekkende ding oor die lote wat niks doen nie. Hulle word afgesny, want hulle is waardeloos! Wat presies beteken dit? Beteken dit dat gelowiges wat nie hulle kant bring nie, uit die Koninkryk uitgesmyt word? In vers 6 sê Jesus dat sulke lote selfs verbrand word! Sal iemand wat eenmaal in Jesus geglo het, skielik verlore gaan? Nee, ek dink nie dat dit die bedoeling is nie. Jesus sê immers in Johannes 10:28 dat niemand ‘n gelowige uit Sy hand sal ruk nie!
Daar is egter baie mense wat onder die vaandel van die Christelike geloof hulleself rondom die Wingerdstok skaar. Hulle kom selfs kerk toe en doen dikwels aktief mee aan gemeentebedrywighede. Hulle het egter nog nooit daardie stap geneem om Jesus se verlossing te aanvaar nie. Ek weet - ek was sélf daar! Dit is hulle waarvan Jesus sê dat hulle afgesny en verbrand sal word. Skrikwekkend! Moenie dat jy so ‘n loot wees nie.....
Maar die belangrike deel is dit wat met die ware lote gebeur. As jy kyk hoe ‘n wingerdstok lyk kort voor die groeiseisoen, dan wonder jy of daar ooit ‘n enkele korreltjie aan so ‘n plant kan groei. Dit is net die kaal stam en oral waar daar die vorige seisoen nog welige lote was, is daar nou net stompies - kaal gesnoei! En dan gebeur die wonder: binne ‘n kort tydjie begin die lote bot en rank om ‘n lowergroen boskasie te vorm, gelaai met sappige druiwe. Daardie snoeiproses is van uiterste belang om nuwe groei en vrugte te stimuleer. Hoe meer drasties die snoei, hoe beter die vrugte.
In die gelowige se lewe is hierdie ook ‘n baie belangrike beginsel. Die Vader snoei ons dikwels baie drasties en dit maak soms bitter seer. Die resultate is egter dat ons geestelik bloei en groei en dat ons vrug kan dra. Dikwels gaan ons deur so ‘n snoeiproses en dan wil ons dit uitskreeu: “Here, dit is nou genoeg!” Maar ons moet besef dat Hy die Boer is wat beter weet as ons en Hy sal ophou snoei wanneer Hy tevrede is.
‘n Ander baie belangrike aspek, is dat ‘n loot nie los van die wingerdstok kan groei nie. Hy is totaal afhanklik van hom, want die lewenssap vloei juis uit die wingerdstok om die loot te laat vrug dra. Net so is ons totaal afhanklik van Jesus. Ek moet in Hom bly om te kan oorleef, geestelik sowel as liggaamlik. Hy bly egter ook in my. Hy is die Een wie se “lewenssap” deur my are vloei en die Een wat die vrug in my lewe gee. Sonder Hom is ek totaal verlore en absoluut waardeloos.
Gebed:
Here, dankie dat ek ‘n loot kan wees aan U Wingerdstok. Gee my asseblief die krag om die snoeiproses te oorleef, sodat ek baie vrug kan dra vir U!