Die Wingerd

6 March, 2020
Luister Na Hierdie Dagstukkie Die Wingerd

Matteus 21:33-45

Terwyl Jesus in die tempel besig was om mense te leer, word Hy deur ‘n groep priesterhoofde en familiehoofde gekonfronteer met ‘n strikvraag. Nadat Hy hulle mooi laat verstaan het dat Hy baie beslis nie vir hulle slim truuk sal val nie, vertel Hy hulle 'n storie oor 'n grondeienaar.

Dit is ‘n baie ontstellende verhaal, van ‘n man wat ‘n wynplaas gevestig en pragtig ingerig het vir optimale produksie, en toe verhuur hy die plaas. Toe hy egter na ‘n jaar die huurgeld wil invorder, word sy slawe wat hierdie takie moes verrig, by twee geleenthede mishandel, geslaan, gestenig en onverrigtersake teruggepos. Een word selfs vermoor!

Moedeloos stuur hy uiteindelik sy seun om die saak finaal te gaan uitsorteer. Hulle het egter óók sy seun vermoor! Hulle het gedink dat hulle sodoende die plaas vir hulleself sou kon opeis. Hierdie boere het egter nie met die bedroefde vader rekening gehou nie. Hy sou beslis toesien dat nie een van hulle ‘n wrede straf sou vryspring nie.

Dan maak Jesus ‘n baie ontstellende uitspraak. Hy wys die vinger na hierdie volksleiers - húlle is eintlik daardie huurboere in die storie! Die Koninkryk van God sal van hulle weggeneem word en aan ‘n ander volk gegee word!

Die manne was briesend kwaad. Hulle slim praatjies het op hulle teruggeplof. Hulle was bitter verleë, en hulle wou Hom nét daar en dan in hegtenis neem. Hulle durf egter nie 'n vinger lig teen Hom nie, want die skare wat aan Jesus se lippe gehang het, sou hulle stenig! Stomende van woede is hulle daar weg, met moord in hulle harte.

Wanneer ons hierdie storie lees, sê ons baie gou: “Lekker! Hulle het presies gekry wat hulle gesoek het! Hulle kierangkies gaan braai!” Maar moenie oorhaastig wees nie. Moenie sommer hierdie gelykenis “aanstuur” nie, want elke gelowige, ja ook ek en jy, word aangespreek in Jesus se storie.

Wat wou Jesus vir daardie manne sê? Die wingerd is natuurlik die volk van God, Israel en die boere die Joodse leiers. God verwag ‘n “druiwe-oes” van geregtigheid van hulle, maar met hulle eiegeregtigde optrede en verstikkende godsdienstige voorskrifte, verhoed hulle dat die volk daardie vrug van liefde, barmhartigheid en vrede kan oplewer. Die slawe waarvan Jesus praat is die profete wat telkemale by die volk moes kom pleit. Hulle is telkemale mishandel en selfs doodgemaak.

Uiteindelik word die Seun, Jesus gestuur. Hy sou wreed gemartel en doodgemaak word deur hierdie einste manne wat voor Hom staan en stoom.

In geen onduidelike terme word vir die volksleiers gesê dat Israel sy Godsvolk-status kwyt gaan wees. Daardie titel gaan aan ‘n ander volk gegee word! Inderdaad het dit presies net so gebeur, en vandag is ek en jy deel van daardie volk wat regoor die wêreld versprei is. En die wonderlike is dat hierdie volk selfs ook bekeerde Jode insluit!

Inderdaad kan ons jubel en juig, want ons is nou deel van God se volk. Hier is egter ook ’n baie ernstige waarskuwing opgesluit vir my en jou in hierdie verhaal. Ons moet oppas dat ons nie dalk dieselfde pad loop as die Joodse leiers nie! Ons moet besef dat dit nie gaan oor ‘n pragtige druiweboord nie, maar uitsluitlik oor die vrugte wat die boord dra. Daar moet Godsvrug in ons lewens wees, anders is ons as Christen-gelowiges absoluut niks werd vir God se Koninkryk nie.

Daar moet terselfdertyd ook ‘n baie fyn balans in ons lewens wees. Alhoewel ons heilig en naby God moet lewe, moet ons ook besef dat ons IN die wêreld lewe. Die verstikkende wettiese voorskrifte van die Joodse leiers het die volk doodgemaak. Moenie dat dit ook met ons gebeur nie! Daarmee bedoel ek nie dat alle wette oorboord gegooi word, en dat ons nou maar sommer soos varke in die sonde kan gaan rol nie! Ons moet egter die dieper sin van die wet deel van ons lewe maak. Dit gaan oor liefde, barmhartigheid, vrede en al die mooi deugde waarvan Paulus so baie geskryf het.

Ons moet egter ook in gedagte hou dat die Fariseërs eintlik nie “slegte” mense was nie, maar mense wat hulle Godsdiens met groot passie bedryf het. Hulle was egter so behep met Godsdiens, dat hulle nie vir God daarin kon herken nie. Dit het ontaard in 'n handeling eerder as 'n hartsverhouding met God.

Ons moet versigtig wees dat dieselfde nie ook met ons gebeur nie. Ons moet oppas dat ons so behep raak met Godsdiens dat ons vir Jesus daarin begin vergeet. Ware Godsdiens is om ‘n lewende verhouding met Jesus te hê. Dit is ‘n verhouding wat maak dat ek liefde uitleef op alle vlakke van die lewe, nie uit dwang nie, maar omdat ek dit graag wil doen uit dankbaarheid en liefde vir God.

Gebed:

Here Jesus, dankie dat ek vandag ook deel kan wees van U volk. Maak my asseblief ‘n waardige vrugdraende druiwerankie in U wingerd, en gee asseblief vir my ‘n oorvloed van liefde, blydskap, barmhartigheid, verdraagsaamheid, vrede, en weereens liefde in my lewe.

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Voorberei vir die Dood
26 October, 2026
Voetewas
23 October, 2026
Salf vir Jesus se Voete
22 October, 2026
Jerusalem, Jerusalem!
21 October, 2026
Die Groot Gebod
20 October, 2026