Markus 11:12-26
Johannes dink weer terug aan daardie snaakse insident die week voor Jesus se kruisiging. Daardie vyeboom – hy het net mooi gladnie verstaan waaroor dit gegaan het nie. En toe Jesus agterna verduidelik het, was dit vir hom nóg ‘n groter raaisel. Jesus se optrede was onverstaanbaar, dalk selfs onregverdig.
O ja, vandag besef hy maar ál te goed dat hierdie handeling van Jesus ‘n simboliese daad was. Wat wou Hy hiermee sê? Jesus wou hiermee aantoon dat die Joodse volk en die stad Jerusalem vergelyk kon word met hierdie vyeboom wat nie vrugte gedra het nie. God het van hulle as Sy volk verwag dat hulle geestelike vrug sou dra, maar daar was net mooi niks! God het selfs so ver gegaan om Sy Seun, Jesus te stuur om vir drie jaar lank vir hulle te sê dat Sy Koninkryk aangebreek het. Hy het daardie wonderlike nuus nie alleen met woorde uitgebasuin nie, maar Hy het met die dinge wat Hy gedoen het vir hulle op ’n praktiese manier gewys dat die Koninkryk daar was. Asemrowende wonderwerke was aan die orde van die dag, maar hulle het Hom verwerp.
Die ergste was dat die kerkleiers, die mense wat verantwoordelik was om die volk te lei op Godsdienstige vlak, Jesus gedurig teengestaan het. In plaas daarvan dat hulle die volk aangemoedig het om Jesus te volg, het hulle Hom probeer doodmaak. Deur die vyeboom te vervloek, het Jesus simbolies gewys dat Hy die deel van die volk wat weier om Hom te volg, verwerp het.
En pas daarna was daar die geldwisselaars se tafels wat Hy omgegooi het en toe het Hy die handelaars uitgejaag. Johannes het maar ál te goed verstaan dat die tempel die spil was waarom alles in die Joodse Godsdiens gedraai het. Dit was as’t ware die hartklop van die kerk en die volk. Daar was altyd ‘n gewoel en gewerskaf in en om die tempel. Daar was offers gebring en mense het hulle gawes na die tempel gebring. In die pilaargange was daar onderrig gegee en dit was ‘n bymekaarkomplek.
Maar daar was iets baie tragies besig om te gebeur: Waar die tempel die sentrum moes wees wat die koms van die Seun van God moes uitbasuin, het daar absoluut niks van gekom nie. Die lewe het bloot voortgegaan soos wat dit elke dag voortgegaan het vir die afgelope paar honderd jaar. Alhoewel Jesus sélf in die tempel die Evangelie verkondig het, het niemand hulle daaraan gesteur nie. Niemand in die tempel, die huis van God, het ag geslaan op die koms van die Seun van God nie.
Eintlik was dit nog veel erger, want die Tempel het in ‘n sekere sin ontaard in ‘n rowersnes, waar die rowers baie vroom gesigte aangeplak het en mense laat glo het dat hulle eintlik vir hulle ‘n guns bewys het. Intussen is die arme mense uitgebuit met buitensporige pryse wat hulle moes betaal vir die voorreg om ‘n offer aan God te kon bring.
Met Jesus se skoonmaakveldtog wou Hy nie alleen die rowers aan die kaak stel nie, maar ook wys hoe ver die “vroom” mense wat die tempel beman en besoek het werklik van God afgedwaal het.
En dan gebeur die ding met die vyeboom. Oornag het dit totaal uitgedor! Die vloek het ‘n werklikheid geword! Die boodskap is baie duidelik vir Johannes: as jy God se genade en liefde ondankbaar van die hand wys, is die gevaar daar dat jy uiteindelik ook deur God verwerp kan word.
Wat in die tempel aan die gang was, was op die oog af baie mooi en edel. Daar is offerandes aan God gebring en mense is gehelp op ‘n georganiseerde wyse om geld en diere te kon kry om te offer. Onder was dit egter vrot! Dit was leeg, want God was nie in hulle Godsdiens nie.
Dit is vandag ook ‘n waarskuwing aan ons, die kerk van Jesus, dat Jesus altyd die middelpunt van ons aanbidding moet wees.
Jesus roep dan ook die dissipels op tot die ware Godsdiens. Hy gee vir hulle drie baie belangrike sleutelwoordjies: Geloof, Gebed en Vergifnis. Wat beteken dit om in Jesus te glo? Daar is ‘n paar elemente in die woordjie “geloof” saamgevat, die belangrikste natuurlik om te glo dat Jesus vir my gesterf het en dat Hy my Verlosser is. Maar ook dat ons Jesus ten volle sal vertrou vir wie en wat Hy waarlik is, naamlik God Almagtig. Dat ons geloof sal hê in Sy krag, en dat selfs die onmoontlike met Jesus moontlik is.
Die tweede sleutelwoordjie is natuurlik gebed, want daardeur gee Jesus ons toegang tot Sy krag. Ons moet egter onthou dat Hy ons nie hiermee vrye teuels gee om allerhande “sirkustoertjies” met gebed uit te oefen nie. Wat ons vra moet in ooreenstemming wees met die wil van God.
Derdens, vergifnis. God vergewe al ons sondes in Jesus. Maar dit plaas op ons as gelowiges ‘n baie groot verantwoordelikheid, want soos God ons vergewe, moet ons ook bereid wees om ander mense te vergewe. Kan ons verwag dat God ons vergewe as ons selfsugtig weier om ons medemens te vergewe?
Gebed:
Here, gee my asseblief ‘n vergewensgesinde hart.