Die Vrou op die Dier

26 June, 2020
Luister Na Hierdie Dagstukkie Die Vrou op die Dier

Openbaring 17:1-6

In die laaste twee dagstukkies het ons gesien hoedat die sewe bakke van God se oordeel oor die aarde uitgegiet word. In die volgende twee hoofstukke gaan ons meer volledig kyk na die uitgiet van die sewende bak. Dis ‘n riller! Die doel hiervan is egter nie om ons as gelowiges bang te maak nie, maar eerder om God se regverdigheid te illustreer, asook die feit dat Hy nie sonde ongestraf kan laat bly nie. Johannes begin deur die val van Babilon eers in besonderhede te beskryf, en daarna die gevolge daarvan, as die sakemanne, konings en seelui in sak en as sit oor haar val.

n Engel nooi vir Johannes om te kom kyk hoe die sedelose vrou tot ‘n val kom. Babilon word met ‘n berugte sedelose vrou vergelyk. Dit was algemene praktyk om afgodery met ‘n sedelose vrou te vergelyk, moontlik omdat afgodery dikwels gepaard gaan met sedeloosheid. Dikwels was prostitute ’n integrale deel van ’n tempel en veral tydens groot feeste. So is stede ook dikwels as vroue beskryf. Jerusalem is per geleentheid ‘n prostituut genoem. In hierdie geval is Babilon simbolies van die stad Rome en al haar goddelose praktyke.

Vandag besef ons nie werklik hoe korrup die stad waarlik was nie. Om maar ‘n paar te noem: die godin Roma, die goddelike aansprake van die Romeine om wêreldheersers te wees, finansiële uitbuiting van almal in haar mag, die keiserkultus, die genadelose vervolging, marteling en uitroei van Christene en nog baie meer. Die stad was totaal sedeloos en korrup, en rugstekery en verraad was deel van die daaglikse lewe. Kortliks kom dit daarop neer dat Rome die hoofsetel was van afgodery en goddeloosheid, en dat sy almal rondom haar óók verlei het.

Johannes word saamgeneem na die woestyn om na die vrou te gaan kyk. Hier is die woestyn die plek van die bose, asook die plek waar die oordeel voltrek gaan word. Die vrou sit op die rug van die helderrooi dier, die Antichris. Ons sien dat die dier oortrek is met godslasterlike name. Dit verwys waarskynlik na die lasterlike aansprake van die keisers, dat hulle goddelik is en redders. Die dier se tien horings en sewe koppe simboliseer sy mag en gesag.

Die vrou se kleredrag laat jou dink aan ‘n Hollywood glansgeleentheid. Die pers en rooi klere getuig van uiterste weelde, want slegs konings kon sulke duur klere bekostig. Ook die goud, edelstene en pêrels praat van rykdom. Die goue beker van losbandigheid wat sy in haar hand hou vertel hoedat sy die nasies verlei. Haar naam, “Groot Babilon” pryk op haar voorkop. Dit was praktyk dat ‘n prostituut haar naam op haar voorkop gedra het. Inderdaad was hierdie vrou die moeder van sedeloses en losbandigheid op aarde. Sy was die oorsprong en voedingsbron van alle goddeloosheid. Dat die vrou dronk is van die bloed van gelowiges (vers 6) getuig van die bloedige en wrede vervolging van Christene, veral onder die heerskappy van Nero. Dit is egter nie alleen die fisieke vervolging wat Christene so wreed geraak het nie, maar ook sielkundige en geestelike ondermyning.

Vandag beleef ons “Rome” op ‘n ander, meer moderne en dikwels subtiele manier. As ons maar Suid Afrika as ‘n voorbeeld noem: die regering van ons land is alles behalwe Christelik. In die parlement sit Moslems, Hindoes, mense wat openlik voorvadergees-aanbidding bedryf en nog baie meer. Die Christene kan op die vingers van jou een hand getel word. Korrupsie, diefstal, onsedelikheid ens. is aan die orde van die dag. En dan is dit nog maar net die parlement!

Hoe is die mense in ons land nie al verlei deur al hierdie goddelose praktyke nie. Selfs satanisme is ‘n aanvaarde praktyk en godsdiens! Skakel jy die TV aan, dan wemel dit van onsedelikheid, geweld, bloedvergieting, moord en godslastering. Intussen loop die kerke leeg, en gemeentes gaan bankrot. Christene word verlei deur die glans en glorie van die wêreld, en dié wat hulle nie laat verlei nie, kry dikwels bitter swaar. Leef ons nie dalk in ‘n moderne “Rome” nie? Inderdaad leef ons nog in ‘n vry land, maar in baie lande in die wêreld gaan dit baie erger, en word Christene wreed vervolg.

Hierdie dinge moet ons egter nie moedeloos maak nie. Ons moet ons nie blind staar teen die Sedelose Vrou op die dier, en al haar glorie nie. Sy is net tydelik van aard, en bestem tot die ewige verderf. As ons verby haar kyk, sien ons God in hemelse glorie sit op die troon, en Hy regeer! Hy het steeds alles onder beheer.

Wanneer Johannes hierdie visioen sien, verstaan hy nie mooi al hierdie dinge nie. Daar is ‘n verborge betekenis agter alles. Die engel neem daarom nou vir Johannes en dan verduidelik hy vir hom baie mooi waaroor dit eintlik gaan. DV. kyk ons more na die engel se verduideliking.

Gebed:

Here, as ons die “vrou” aanskou, dan wil ons harte ineenkrimp van vrees. Hou asseblief ons oog gevestig op Jesus, waar al ons hulp vandaan kom, en hou ons geborge in U, ons Vader.

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Wát ‘n Wonderwerk!
16 May, 2024
Geloofsontploffing
15 May, 2024
Onverskrokke
14 May, 2024
Vuur uit die Hemel
13 May, 2024
Om te Wag op die Gees
10 May, 2024