Die Vrou by die Put (vervolg)

8 June, 2021
Luister Na Hierdie Dagstukkie Die Vrou by die Put (vervolg)

Johannes 4:19-30

Video

Audio

Jesus het ‘n groot risiko geneem: as Jood was dit in die eerste plek ongehoord dat Hy met ‘n Samaritaanse vrou ‘n gesprek sou aanknoop. Mense sou Hom daaroor minag. En die feit dat haar reputasie so guur was, het nou nie juis die situasie verbeter nie. Omdat Hy 'n Leermeester met twaalf voltydse leerlinge was, het dit Sy risiko verder vergroot. Boonop was daar die reuse skares van aanhangers wat Hom gedurig gevolg het. Hy kon sy geloofwaardigheid verloor, en Sy volgelinge kon opdroog. In kort: Hy kon baie verloor deur hierdie gesprek. Nogtans het Hy gekies om dit te doen, want nie alleen het hierdie arme vrou Hom op daardie stadium in haar lewe bitter nodig gehad nie, maar sy sou ook baie vir Sy bediening onder die Samaritane beteken.

As Jesus vir die verbaasde vrou wys dat Hy alles van haar af weet, en dat sy selfs haar diepste hartsgeheime nie vir Hom kan wegsteek nie, begin sy besef dat sy hier met iemand baie spesiaal te doene het. Hoe het hierdie vreemde Man geweet van haar huwelikskatastrofe? En hoe het Hy geweet dat sy in sonde saam met ‘n ander man bly? Hy moet beslis ‘n profeet wees, ‘n Man van God. Maar net om seker te maak, sal sy Hom ‘n bietjie toets met ‘n strikvraag waarop niemand werklik ‘n antwoord het nie. Sy sleep dus die groot twispunt tussen die Jode en Samaritane in: die ding oor die tempel. Waar sou nou eintlik die regte plek wees om te aanbid, Jerusalem of Sigem?

Hierdie ding het eintlik begin toe die tempel in Jerusalem gebou is. Die Samaritane wou saam met die Jode aan die tempel bou, maar die Jode wou hiervan niks weet nie. Samaritane is mos onrein, onthou! En daar begin die hele kwaaivriendskap ding. Maar dit het ook nie daar geëindig nie. Die Samaritane het ‘n bietjie gaan grawe in die geskiedenis, en toe ontdek hulle dat Abraham daar by Sigem ‘n altaar vir God gebou het nadat die Here Sy verbond met Abraham bevestig het. Hierdie sou mos nou die éintlike plek wees waar die tempel gebou moes word. (Gen 12:6,7). Uiteindelik bou die Samaritane dan ook hulle eie tempel op die Geresimberg by Sigem, maar later vernietig die Jode dit weer. En nou is almal vir almal kwaad!

Jesus verduidelik vir haar dat dinge totaal gaan verander, en dat dit nie meer gaan saakmaak waar ‘n mens aanbid nie. Dit sou gladnie meer nodig wees vir enige heilige plekke nie, nie eers Jerusalem of Sigem nie. Maar sy moet haar oë oophou, want die groot verlossing is op hande. Die Here kanaliseer hierdie verlossing na die wêreld deur die Jode.

Maar Jesus verduidelik ook vir die vrou hoe ware aanbidding lyk. Hulle het aanbid sonder om waarlik te besef wat hulle doen. Wanneer hierdie dinge gebeur het, sal mense werklik eers besef hoe om die Here te aanbid, en wat Hy van hulle verlang. Gelowiges sal Hom dan “deur die Gees en in waarheid aanbid” (Joh 4:24). Dit het natuurlik vooruit gewys na die wonderlike werking van die Heilige Gees. Mense sou nou nie meer in tempels of op berge vir God hoef te gaan soek nie, maar die Heilige Gees sal binne-in elke gelowige wees. Dit gee jou natuurlik direkte toegang tot God. In plaas daarvan dat gelowiges na God moet gaan, gaan Hy nou na die gelowiges toe. Wat ‘n wonderlike gedagte!

Ek weet nie hoeveel hierdie vrou werklik van die gesprek verstaan het nie. Om die waarheid te sê, verstaan ons vandag nog steeds nie, want hoe is dit moontlik vir die Gees om in elkeen van ons te woon? Verstaan ons die alomteenwoordigheid van God? Sal ons ooit Jesus se soenverdienste verstaan? Die vrou se antwoord is dan ook baie insiggewend, dat die Messias, die Christus, alles eendag sal kom bekend maak. Hy sal al die antwoorde op haar vrae hê. Eintlik is dit baie ironies, want sy het steeds nie besef dat dit in werklikheid die Messias was wat daar met haar staan en praat het nie. Dan antwoord Jesus haar: “Dit is Ek, Ek wat met jou praat.”

Ek dink dat die vrou se oë oopgegaan het en dat sy begin besef het dat hierdie nie sommer maar ‘n Profeet is nie. Sy het haar kosbare kruik net daar gelos en vir die mense in die dorp gaan vertel. Sy het haar vrees vir wat die mense van haar sou sê opsy geskuif om die goeie nuus aan almal uit te basuin. In hulle hordes het die dorpsmense na die put gestroom om te kom sien oor wie die vrou so opgewonde was. Hierdie vrou se getuienis was so kragtig dat ‘n groot aantal Samaritane daar tot geloof in Jesus gekom het!

Hierdie woorde van Jesus laat jou en my ook voor ‘n besliste keuse. Die eerste ding waaroor ons moet besluit, is of ons gaan aanvaar dat Hy waarlik die Messias is, en nie sommer maar net die een of ander wonderlike Profeet nie. Aanvaar ons dit, dan bring dit ook sekere implikasies mee. In die eerste plek beteken dit dat ek Sy verlossingsgeskenk moet aanvaar, en dus in ‘n persoonlike verhouding met Hom moet staan. Maar daar is ook verdere implikasies. Hierdie geskenk is so groot, dat ek nie anders kan nie as om ‘n lewe van dankbaarheid te leef. Hierdie vrou het haar dankbaarheid betuig deur te vergeet van wat mense sê van haar, en die blye nuus uit te blaker. Hoe doen ek en jy dit?

Gebed:

Here, dankie dat U ook aan my die waarheid openbaar het. Ek wil dankbaar leef en u Naam verheerlik met alles wat ek doen.

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Samuel Salf Dawid
9 September, 2026
Gehoorsaamheid
8 September, 2026
Saul Verloor Vertroue
7 September, 2026
Samuel se Afskeidsboodskap
4 September, 2026
Saul se Vuurdoop
3 September, 2026