Johannes 4:19-30
Jesus het ‘n groot risiko geneem. Dit was onbetaamlik vir enige Jood om met ‘n Samaritaanse vrou ‘n gesprek aan te knoop. Mense sou Hom daaroor minag. Haar reputasie het boonop nou nie juis die situasie verbeter nie. Omdat Hy 'n Leermeester met twaalf voltydse leerlinge was, het dit Sy risiko verder vergroot. Boonop kon Hy sy geloofwaardigheid by die groot skares wat Hom gedurig gevolg het, verloor. Sy volgelinge kon opdroog! Hierdie gesprek kon Hom dus duur te staan kom! Nogtans het Hy gekies om dit te doen, want nie alleen het hierdie vrou Hom op daardie stadium in haar lewe bitter nodig gehad nie, maar sy sou ook baie vir Sy bediening onder die Samaritane beteken.
As Jesus vir die verbaasde vrou wys dat Hy alles van haar af weet, en dat sy selfs haar diepste hartsgeheime nie vir Hom kan wegsteek nie, begin sy besef dat sy hier met iemand baie spesiaal te doene het. Hoe het hierdie vreemde Man geweet van haar huwelikskatastrofe? En hoe het Hy geweet dat sy in sonde saam met ‘n ander man bly? Hy moet beslis ‘n profeet, ‘n Man van God wees! Net om doodseker te maak, sal sy Hom ‘n bietjie toets met ‘n strikvraag waarop niemand werklik ‘n antwoord het nie. Sy sleep dus die gróót twispunt tussen die Jode en Samaritane in. Waar is nou eintlik die regte plek om te aanbid, Jerusalem of Sigem?
Hierdie groot onenigheid het eintlik begin toe die tempel in Jerusalem herbou is. Die Samaritane wou saam met die Jode aan die tempel werk, maar die Jode wou hiervan niks weet nie. Samaritane is mos onrein! En daar begin die gróót kwaaivriendskap. Dit het egter ook nie daar geëindig nie. Toe die Samaritane ‘n bietjie grawe in die geskiedenis, ontdek hulle dat Abraham daar by Sigem ‘n altaar vir God gebou het nadat die Here Sy verbond met Abraham bevestig het. Hierdie sou dus mos die éintlike plek wees waar die tempel gebou moes word (Gen 12:6,7). Uiteindelik bou die Samaritane dan ook hulle eie tempel op die Geresimberg by Sigem, maar later vernietig die Jode dit weer. En nou is almal vir almal kwaad!
Jesus verduidelik vir haar dat dinge totaal gaan verander, en dat dit nie meer gaan saakmaak waar ‘n mens aanbid nie. Dit sou gladnie meer nodig wees vir enige heilige plekke nie, nie eers Jerusalem of Sigem nie. Maar sy moet haar oë oophou, want die groot verlossing is op hande. Die Here kanaliseer hierdie verlossing na die wêreld deur die Jode.
Maar Jesus verduidelik ook vir die vrou hoe ware aanbidding lyk. Hulle het aanbid sonder om waarlik te besef wat hulle doen. Wanneer hierdie dinge gebeur het, sal mense werklik eers besef hoe om wáárlik die Here te aanbid, en wat Hy van hulle verlang. Gelowiges sal Hom dan “deur die Gees en in waarheid aanbid” (Joh 4:24). Dit het natuurlik vooruit gewys na die wonderlike dinge wat sou gebeur na die uitstorting van die Heilige Gees. Mense sou nou nie meer in tempels of op berge vir God hoef te gaan soek nie, maar die Heilige Gees sal binne-in elke gelowige wees. Dit gee jou natuurlik direkte toegang tot God. In plaas daarvan dat gelowiges na God moet gaan, gaan Hy nou na die gelowiges toe. Wat ‘n wonderlike gedagte!
Ek weet nie hoeveel hierdie vrou werklik van die gesprek verstaan het nie. Om die waarheid te sê, verstaan ons vandag nog steeds nie, want hoe is dit moontlik vir die Gees om in elkeen van ons te woon? Verstaan ons die alomteenwoordigheid van God? Sal ons ooit Jesus se soenverdienste verstaan? Die vrou se antwoord is dan ook baie insiggewend, dat die Messias, die Christus, alles eendag sal kom bekend maak. Hy sal al die antwoorde op haar vrae hê. Eintlik is dit baie ironies, want sy het steeds nie besef dat dit in werklikheid die Messias was wat daar met haar staan en praat het nie. Dan antwoord Jesus haar: “Dit is Ek, Ek wat met jou praat.”
Die vrou se oë het uiteindelik oopgegaan, en sy het begin besef dat Jesus nie sommer maar ‘n Profeet is nie. Sy het haar kosbare kruik net daar gelos en vir die mense in die dorp gaan vertel. Sy het haar vrees vir wat die mense van haar sou sê opsy geskuif om die goeie nuus aan almal uit te basuin.
Hierdie woorde van Jesus laat jou en my ook voor ‘n besliste keuse. Die eerste ding waaroor ons moet besluit, is of ons gaan aanvaar dat Hy waarlik die Messias is, en nie sommer maar net die een of ander wonderlike Profeet nie. Aanvaar ons dit, dan bring dit ook sekere implikasies mee: in die eerste plek beteken dit dat ek Sy verlossingsgeskenk moet aanvaar, en dus in ‘n persoonlike verhouding met Hom moet staan. Maar daar is ook verdere implikasies: Hierdie geskenk is so groot, dat ek nie anders kan nie as om ‘n lewe van dankbaarheid te leef. Hierdie vrou het haar dankbaarheid betuig deur te vergeet van wat mense sê van haar, en die blye nuus uit te basuin. Hoe doen ek en jy dit?
Gebed:
Here, dankie dat U ook aan my die waarheid openbaar het. Ek wil dankbaar leef en u Naam verheerlik met alles wat ek doen.