Die Verlore Skaap

12 October, 2021
Luister Na Hierdie Dagstukkie Die Verlore Skaap

Lukas 15:1-10

VIDEO OUDIO

Jare gelede staan ek eendag en gesels met ‘n vrou in Durban. Sy vertel my baie trots van haar seun wat so omgee vir mense. Sy vertel dat daar ‘n paar dae tevore ‘n bejaarde Zoeloe die steil bult voor hulle huis die straat opgesukkel het. Die ou man was in vodde geklee, duidelik baie arm, en hy het gesukkel om te loop. Sy sê dat haar seun skielik baie jammer gevoel het vir die ou man, en toe gaan hy na hom toe en tel hom op sy rug en dra hom die steil opdraende uit tot heel bo waar die pad gelyk is. 

Ek het in afsku na die vrou geluister - hoe kon die jong kêrel homself so verneder? Dit was in die apartheidsjare, en sulke kontak was net nie aanvaarbaar nie! Ek het jammer gevoel vir die vrou, dat sy so blind kon wees, en nie kon sien dat haar seun besig was om sy kultuur te verraai nie. Ek het skynheilig vir die vrou geglimlag en gesê: “How nice!” en toe het ek omgedraai en weggeloop.

Vandag voel ek skaam oor my gedagtes en optrede van daardie jare - hoe ongevoelig en hardvogtig was ek nie in my jong dae nie!

Die kerkleiers in Jesus se tyd het dieselfde probleem gehad. Lukas vertel dat die Fariseërs en Skrifgeleerdes in afsku vervul was omdat Jesus so laag gedaal het om Hom te meng met die skuim van die aarde, die sondaars en tollenaars. Gelukkig het hulle nie geweet van die Samaritaanse vrou by die put nie! Die kerkleiers het slegs na Jesus kom luister met die doel om Hom te kritiseer en Hom te probeer uitvang. Die tollenaars en sondaars het egter na Jesus kom luister omdat hulle besef het dat hulle verlore was en dat Jesus dalk net hulle redding kon wees.

Op grond hiervan het Jesus ‘n paar gelykenisse vertel, nie alleen om vir die Fariseërs te wys hoe verkeerd hulle was nie, maar ook om vir die tollenaars te sê dat daar vir hulle hoop was. Die gelykenisse handel oorWeggeraak en Gekry.” Hy wil wys hoe God waarlik omgee vir mense wat die spoor byster geraak het.

Die eerste storie vertel vann goeie skaapwagter wat baie omgegee het vir sy skape. As een afgedwaal het van die trop van 100, het hy die ander 99 skape nét daar in die veld gelos om eers die afgedwaalde een te gaan soek. Jou eerste reaksie is dat daardie skaapwagter dan mos nou sy skape aan hulle eie genade oorlaat? Maar eintlik is dit gladnie so nie, want waar hulle almal bymekaar is in die trop, is hulle veilig juis omdat hulle mekaar versterk. Die alleenskaap is egter jakkalskos!

Dan sien ons egter ook ‘n ander sy van die skaapwagter. Wat doen hy as hy die afdwaler kry? Gee hy hom ‘n loesing en knoop sy stert? Nee, hy is baie bly, en vertel opgewonde vir al sy vriende dat hy sy skaap gekry het! Liefderyk tel hy die skaap op sy skouers en dra hom terug na die trop.

Jesus sluit hierdie storie af: Ek sê vir julle, so sal daar in die hemel blydskap wees oor een sondaar wat hom bekeer het, eerder as oor die nege-en-negentig regverdiges wat nie nodig het om tot bekering te kom nie.

Gelowiges kan soms darem baie lelik wees met mekaar! As iemand wat afgedwaal het weer op ‘n dag terug is in die “kudde”, sê ons vir mekaar: “Het jy gesien wie is terug? Ek wonder hoe lank dit hierdie slag gaan hou?” Dan skud ons meewarig en alwetend die kop in die arme mens se rigting. Ons skryf hom af nog voordat hy nog behoorlik sy staan gekry het!

Die feit is egter dat ons Goeie Herder só besorg is oor elkeen van ons, selfs diegene wat afgedwaal het en in sonde verval het dat Hy ten alle koste wil verhoed dat enigeen verlore raak. En wanneer ‘n afgedwaalde terug is, dan jubel en juig die ganse hemel! Die waarskuwing wat ons in hierdie storie moet lees, is dat ons ook moet deel in daardie vreugde en dat dié van ons wat sterk staan in die geloof daardie een wat wankelend sy voete probeer vind, moet ondersteun en dra totdat hy weer ten volle deel is van die kudde.

In die tweede storie plaas Jesus bloot die stempel op die boodskap van die eerste een. Dit gaan oor ‘n vrou wat een van haar tien muntstukke verloor het. Daar is ‘n dringendheid in haar soektog na die verlore muntstuk, en wanneer sy dit na ‘n groot gespook kry, gaan vertel sy vir al haar vriendinne dat dit uiteindelik gevind is. Haar blydskap ken geen perke nie! God is verheug oor elke afgedwaalde wat weer tot bekering kom.

Die boodskap vandag aan elkeen van ons is dat as jy dalk vandag in sak en as sit omdat jy ‘n afgedwaalde is, kan jy verseker wees daarvan dat God naarstigtelik op soek is na jou. Hy soek jou nie om jou te straf nie maar om jou te red! Die tweede boodskap is dat as jy een van die bevoorregte 99 is, dan moet jy die afgedwaaldes in liefde en met ope arms terug verwelkom.

Gebed:

Here, vergewe my waar ek dikwels so afsydig staan teenoor iemand wat afgedwaal het. Gee my asseblief ‘n allesomvattende liefde in my hart.

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

‘n Warm Patat
21 August, 2026
Die Ark is Gebuit!
20 August, 2026
Luister en Doen
19 August, 2026
Wanneer die Here Praat
18 August, 2026
Om Kinders Groot te Maak
17 August, 2026