Handelinge 1:1-8
Ek kry eendag die uitnodiging om by 'n toneelgeselskap aan te sluit wat die musiekblyspel: “Pirates of Penzance” sou opvoer in die Playhouse Teater in Durban. Ek was sommer dadelik in die wolke, want die verhoog hou vir my ‘n groot bekoring in, al het ek nooit enige drama opleiding gehad nie. Dalk was my besluit om deel te neem nie so ‘n baie wyse een nie, want vir die volgende paar maande beteken dit drie keer per week inpiekel Durban toe van Ballito af om te gaan oefen. Dit was harde werk, maar uiteindelik begin dit vorm aanneem. Op ‘n dag kom die Durbanse Filharmoniese Orkes by, en die musiekblyspel kry ‘n totaal ander dimensie, ek is opgewonde! Uiteindelik is die voorbereidings klaar - dekor, swaarde, ‘n seerowerskip. Maande se sweet en trane en harde oefening het ons gebring by die openingsaand. Die verhoog is gereed vir die groot gebeurtenis wat wag om te ontplof in ‘n heerlike ervaring van musiek en teater. En ek was deel van dit alles!
Dokter Lukas skryf vir Teofilus, ‘n gesiene Romeinse amptenaar. Hy is waarskynlik die man wat die geld voorsien het om die boek aan te pak. In die eerste verse van sy boek, skets Lukas die voorbereidings wat gemaak word vir sékerlik die grootste gebeurtenis in die geskiedenis van die wêreld.
Jesus se dissipels het drie jaar se intense opleiding en oefening deurgemaak. Na Jesus se kruisiging en opstanding het Hy begin om die verhoog gereed te kry vir daardie groot gebeurtenis. Die dissipels het soveel opleiding gehad as wat hulle sou nodig hê vir hulle reuse taak, maar hulle het nog ‘n bietjie finale afronding gekort. Daarom kry hulle ‘n intensiewe toerustingskursus.
Hulle sou voortaan nie meer leerlinge wees nie, maar apostels, uitgestuurdes. Hulle sou ook Jesus se amptelike verteenwoordigers op aarde wees. Vir veertig dae duur hierdie finale opleiding. Gedurende hierdie tyd verskyn Jesus gereeld aan die manne. By een so 'n geleentheid braai Hy selfs saam met hulle vis op die strand.
Natuurlik is hierdie beskrywing wat Lukas van Jesus se bedrywighede na Sy opstanding gee, verdoemend vir daardie teoloë wat Jesus se opstanding bevraagteken. Sommige slim manne wil mos beweer dat Jesus net “in die harte van die dissipels” opgestaan het. Lukas beskryf ‘n fisiese, lewende Jesus wat hier met die dissipels werk.
Wanneer Jesus tevrede is dat al die voorbereidings behoorlik getref is, vaar Hy op na die hemel. Maar eers is daar ‘n paar opdragte: hulle verantwoordelikheid was nou om die Evangelie te versprei, nie alleen hier plaaslik in Palestina nie, maar na al die uithoeke van die aarde! 'n Byna onmoontlike opdrag! Om dit moontlik te maak, was daar nog een laaste stukkie voorbereiding wat hulle moes deurgaan. Hierdie was van kardinale belang, en sékerlik die belangrikste van ál die voorbereidings wat hulle reeds gehad het. Hiervoor moes hulle geduldig wag tot met die “Groot Openingsaand”.
Opgewonde kom hulle bymekaar, en hulle wonder oor wat sou gebeur. Ek is seker dat daar talle vrae was: “Hoe kan ons, doodgewone swakkelinge dit ooit regkry om die Evangelie so wyd uit te dra?” “Ons word vervolg - sal ons dit ooit kan oorleef?” “Sal ons staande kan bly teen al die aanslae?” Petrus tree na vore as ‘n ware leier, maar hy het sélf ook maar ‘n baie wisselvallige lewe gehad. Die een oomblik ‘n heethoofdige vegter, en net die volgende ‘n miserabele papbroek. Sal hy ooit die mas kan opkom? Wat was hierdie ding wat op “Openingsaand” sou gebeur?
Jesus het vir hulle die antwoord gegee voor Sy hemelvaart: hulle sou “met die Heilige Gees gedoop word.” Hulle het dit egter nie verstaan nie. Jesus het telkemale gepraat van die “Koninkryk wat sou kom.” Wat sou hierdie Koninkryk behels? Die meeste van Jesus se volgelinge was van mening dat dit sou beteken dat daar ‘n “Nasionale Koninkryk” sou ontstaan, en dat Jesus al Sy vyande van die aardbol sou afvee sodat Israel weer in permanente harmonie met God sou kon leef. Is hierdie gebeurtenis waarop hulle moes wag dalk die een of ander wonderwerk wat sou plaasvind waar God alles sou herstel?
Jesus het hierdie voorbarige gedagte van hulle in die kiem gesmoor: God het Sy tyd vir alles! Maar hulle moes bloot wag vir die Heilige Gees, want as Hy eers oor hulle gekom het sal hulle die krag kry om die Evangelie te kan versprei oor die ganse aarde. Hulle sal Jesus se getuies wees, nie alleen in Israel nie, maar tot in die uithoeke van die wêreld.
Niemand wat daar teenwoordig was het ooit die geweldige omvang van Jesus se woorde besef nie. Niemand kon in hulle wildste drome ooit dink dat daardie gebeure van Pinksterdag so ‘n geweldige impak sou hê, nie alleen op die mense daar teenwoordig nie, maar op miljoene der miljoene mense oor die volgende tweeduisend jaar.
Die verhoog was gereed; al die “spelers” was bymekaar. In spanning en opgewondenheid het hulle gewag. Die sekondes het afgetel……..
Gebed:
Here, dankie dat ek vandag ook deel kan wees van daardie groot plan van U wat tweeduisend jaar gelede in volvoering gegaan het. Ek is opgewonde oor dít wat steeds vandag gebeur!