Die Verhaal van Jesus

19 November, 2019
Luister Na Hierdie Dagstukkie Die Verhaal van Jesus

Johannes 1:1-5

Ek het oor die afgelope paar jaar oor ‘n paar baie interessante karakters in die Bybel geskryf, Petrus, Paulus, Dawid, Moses, Noag. Maar die héél belangrikste van almal het agterweë gebly: Jesus!

Wie is Jesus? Johannes gee die antwoord in helder, duidelike taal. Hy begin sy boek met ‘n reuse “WOW!!” deur die vraag te antwoord op so ‘n wyse dat ons absoluut géén twyfel sal hê oor presies Wie Jesus is nie. En daarom begin hy dit dan ook met ‘n baie mooi en dramatiese lied - eintlik ‘n loflied: “In die begin was die Woord, en die Woord was by God, en die Woord was self God.” In Grieks staan daar: Én àrché yn ò lògos, kaì ò lògos yn pròs ton Øeòn, kaì Øeòs yn ò lògos. (Ek het Grieks probeer weergee in gewone skrif.)

Wanneer ons hierdie eerste verse lees, kan ons nie anders nie as om in aanbidding voor Jesus neer te val, want Sy almag en grootheid en oneindigheid word hier beskryf.

Die eerste vyf verse van Johannes neem ons terug na die begin van alles nog lank voordat die heelal bestaan het. Wanneer was daardie begin? Niemand weet nie, en niemand kan dit ooit bepaal nie. Die totaal onbegrypbare is dat Hy van ewig af was. Die sterrekundiges se teorie is dat die heelal sy begin gehad het 15 duisend miljoen jaar gelede. Ja, Jesus wás alreeds, lank voor dit!

Nog meer indrukwekkend, is die feit dat Jesus die Een was wat verantwoordelik was vir die skepping van hierdie einste heelal. Hoe groot is die heelal werklik? Kom ek verduidelik: ek is maar ‘n ou spikkeltjie op die aarde, maar net so is die aarde ‘n klein spikkeltjie in die hemelruim, totaal verdwerg deur die ster waarom ons wentel, die son. Op sy beurt, is die son een van 300’000 miljoen sterre wat in ‘n reuse plat skyf, genaamd die Melkweg draai. Dit is ‘n galaksie wat 100’000 ligjare in deursnee is. Die son is slegs 8 lig-minute van ons af, dus is die Melkweg reusagtig groot. Die Melkweg is egter sélf maar ‘n ou spikkeltjie in die heelal! Daar is miljoene soortgelyke galaksies in die heelal, sommige selfs nog baie groter as die Melkweg. En nou wil sommige slim manne beweer dat die heelal dalk maar een van 'n klomp heelalle is!

Waarom gee ek vir jou hierdie verskriklike syfers? Maar net om jou weereens te laat besef hoe groot en almagtig die Skepper van dit alles, Jesus, is. En die wonder is dat selfs die kleinste detail, ‘n skoenlappertjie, blommetjie of kleurvolle tropiese vissie, nie vergeet is nie.

n Verdere punt wat Johannes vir ons wil laat verstaan, is dat Jesus die Een is wat lewe gee. Die wetenskap het baie ver gevorder, en hulle beweer dat hulle al selfs lewe kan verwek uit chemiese stowwe. Die feit is egter dat slegs Jesus, die Skepper van lewe, ware, sinvolle lewe kan gee. Die mens beweer dat hy ook kan skep, maar om iets te skep, het jy materiaal nodig. Om byvoorbeeld ‘n pot te kan skep, het jy klei nodig. Jesus het alles geskep uit niks. Hy het ook lewe geskep uit niks!

Maar die lewe waarna hier verwys word, is nie maar net gewone lewe nie, maar dit dui op die ewige lewe wat alleen Jesus kan gee.

In hierdie beknopte geskiedenis van die ontstaan van alles, verwys Johannes ook na een van die wondere van die skepping: Lig. Ja, Jesus het ook lig gegee, en hierdie Lig het in die duister geskyn. Die duister waarna Johannes hier verwys, is natuurlik die duister van die sondeval, wat gedreig het om die wêreld te oorweldig.

Het jy al ooit ware duisternis beleef? Ek was ‘n jong seun, toe ons eendag ‘n grot in die Laeveld gaan verken het, gewapen slegs met flitsligte. Dit was indrukwekkend, met reuse sale en indrukwekkende kunswerk van druipsteen. (Jare later word dit ontwikkel en kry dit die naam: Sudwala.) In die grot skakel ons almal ons flitsligte af. Die pik-giet-swart-nag donker is oorweldigend. Dan skakel iemand ‘n flou flitsie aan, en skielik is al die duister verdryf.

As een enkele klein gloeilampie die duisternis in daardie reuse grotsaal kon verdryf, hoeveel te meer nie die helder ligglans van Jesus nie! Toe die duisternis van die sonde op sy ergste was, het Jesus se versoening aan die kruis eensklaps alles verander, en die duister is vir ewig oorwin. Ja, inderdaad is die duister steeds daar, maar dit kan die helder lig van Jesus nooit uitdoof nie.

Die woord “Uitdoof” kan egter ook anders vertaal word: dit kan beteken dat die duisternis die lig nie kon aanvaar nie. Ja, daar is menige mense wat daardie lig van Jesus sien, maar dit steeds nie wil aanvaar nie. “Ek is nog nie gereed nie”, hoor ek dikwels, of “Ek moet eers beter word!” Van die eerste verse tot aan die heel einde van hierdie boek van Johannes kom die uitnodiging om daardie wonderbare lig te aanvaar. Regdeur die boek hoor jy Jesus klop aan die deur van jou hart. Jy is die enigste wat daardie deur kan oopmaak en Jesus inlaat. As jy dit nog nie gedoen het nie, is nóú die regte tyd!

Gebed:

Here, ek aanbid U, want U is groot en almagtig, die Skepper, die enigste ware Lig.

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

‘n Warm Patat
21 August, 2026
Die Ark is Gebuit!
20 August, 2026
Luister en Doen
19 August, 2026
Wanneer die Here Praat
18 August, 2026
Om Kinders Groot te Maak
17 August, 2026