Die Tyd Raak Min

30 September, 2021
Luister Na Hierdie Dagstukkie Die Tyd Raak Min

Lukas 12:49-59

VIDEO OUDIO

Daar kom ‘n spannende dringendheid in Jesus se preek. Die tyd is besig om uit te hardloop en daar is nog so baie dinge wat Sy volgelinge moet leer en weet. Die dikwels on-ingeligte vrae wat Sy binnekring-dissipels Hom vra, laat jou wonder of hulle óóit die pyp gaan rook!

In hierdie perikoop gebruik Jesus beelde van vuur en doop. Die vuur waarna Hy verwys is die oordeel van God en die doop is die beeld van Sy verskriklike kruisdood. Die oordeel waarvan Hy hier praat is nie die eindoordeel nie, maar eerder die oordeel wat oor die mense van hierdie wêreld kom, oor diegene wat nie in Sy versoenings-doop inkoop nie. Johannes 3:18 stel dit baie duidelik dat dié wat nie in Jesus glo nie, reeds veroordeel is omdat hulle nie in die enigste Seun van God glo nie.

Die hartseer is dat hierdie oordeel van God noodwendig verdeeldheid gaan bring, nie alleen tussen vreemdelinge nie maar dikwels selfs binne gesinne! Jare gelede het ‘n vrou bitterlik by my kom huil. Sy het baie groot erns gemaak met haar verhouding met Jesus maar haar man was totaal antagonisties teenoor hierdie “Godsdiens-nonsens” van haar. Hy het gedoen net wat hy wou! Sy wou niks met wêreldse goed te doene hê nie, maar hy het die wêreld met al sy sondes en plesier liefgehad. Een oggend word daar ‘n kartondoos by haar huis afgelewer. Haar man het vir hulle ‘n TV stel gekoop. In groot in rooi letters staan daar op die kartondoos geskryf: “Nou het jy die wêreld rég in jou huis!” Dit was die laaste strooi!

Jesus voorspel hierdie verdeeldheid, en ek het al talle hartseer briewe gehad van gebroke mense wat skryf van die onenigheid in die huis omdat die eggenoot ongelowig en totaal onverskillig is.

Jesus draai nou na die skare toe. Daar is twee dringende sake waaraan hulle moet aandag skenk. Die eerste handel oor hulle totale onvermoë om die tyd reg te beoordeel. Jesus sê vir hulle dat hulle baie goed weet hoe om weerpatrone raak te sien en te weet wanneer dit gaan reën of wanneer dit ‘n bloedige warm dag gaan word. Maar wanneer dit kom by die belangrikste, om die tekens te herken wat God gee, dan slaan hulle totaal toe. Dit is nou al drie jaar wat Jesus besig is om te preek en wondertekens te doen. Die hemele het al letterlik oopgegaan terwyl God uit die hemel praat. Nogtans wil hulle dit nie raaksien nie! Die tyd van beslissing het aangebreek! Dit is veral nou nader as óóit, noudat Jesus op pad is na Jerusalem om tereggestel te word!

Inderdaad was daar ‘n reuse skare mense rondom Jesus, maar slegs enkeles het ‘n keuse gemaak vir Hom. Die res was net nuuskieriges wat wou sien wat volgende sou gebeur.

Dan doen Jesus ‘n dringende oproep dat die mense hulle saak met ‘n teenstander moet skik voordat dit te laat is. Op die oog af lyk dit na ‘n praktiese manier om uit die hof te bly, maar eintlik gaan dit hier veel dieper. Die teenstander waarna Jesus verwys, dui eintlik op God as Regter. Hierdie mense met wie Jesus praat weet baie goed wat die regte ding is om te doen. Hulle weet hoe om te reageer op alledaagse gebeure en omstandighede in hulle lewe. Die tragiese is egter dat hulle gladnie reageer wanneer Jesus met hulle praat nie. ‘n Ware verhouding met God is iets wat totaal ontbreek. In hierdie uitspraak wil Jesus dan by hulle pleit dat hulle daaglikse verhouding met God verstandig moet wees. Hierdie is nie sommer maar net ‘n ou stukkie lewensraad nie, maar ‘n ernstige oproep tot bekering.

Vandag staan ons in ‘n ander tyd. Jesus se kruisiging is verby en die nuwe bedeling het aangebreek. Dit beteken egter nie dat ons nou maar op ons louere kan rus nie, want hier is ‘n baie ernstige dringendheid in die lug. Die tekens waarna ons vandag moet oplet, is dié van Jesus se wederkoms, en die lug is alreeds bloedrooi gekleur. Sy wederkoms lê voor die deur. Die hartseer is dat daar ‘n reuse skare van mense is wat hierdie tekens totaal ignoreer en ongeërg staan teenoor hierdie dinge. Ek praat van die “nuuskieriges” wat alreeds die Woord soveel keer gehoor het, maar nog steeds nie reageer daarop nie. Met die gelowiges praat hierdie tekens egter ewe hard, want daar is nog soveel mense daar buite wat nie die Woord gehoor het nie. Daar moet by alle gelowiges ‘n dringendheid ontstaan om die Woord uit te dra aan elkeen wat kan hoor.

Moontlik het die tyd dalk weer aangebreek dat ek moet vra dat jy die skakel van hierdie dagstukkie aanstuur na vriende, kollegas of familie wat dit nog nie ontvang nie. Hiermee dan ook ‘n groot dankie aan diegene wat dit gereeld verder versprei. Op hierdie manier word mense bereik wat dalk ‘n honger het om ook vir Jesus as Verlosser te kan hê. Onthou, dis nie net in Afrikaans nie maar ook in Engels.

Gebed:

Here, ek besef vanoggend dat die tyd min raak - gee vir my asseblief ‘n dringendheid in die hart om U boodskap van verlossing uit te dra.

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Die Ark is Terug
24 August, 2026
‘n Warm Patat
21 August, 2026
Die Ark is Gebuit!
20 August, 2026
Luister en Doen
19 August, 2026
Wanneer die Here Praat
18 August, 2026