Die Tong, o die Tong!

18 January, 2022
Luister Na Hierdie Dagstukkie Die Tong, o die Tong!

Jakobus 3:1-3

VIDEO OUDIO

In my prille jeug het ek vuriglik politiek bedryf. Ek was ‘n Nasionalis in murg en been, en politieke vergaderings was vir my opwindend, veral die manier waarop mense mekaar kon slegsê en in die modder smeer. Natuurlik moes die ou wat die swartsmeerwerk doen aan mý kant van die draad staan. Dan was hy briljant! Staan hy egter aan die ander kant, is hy vuil en gemeen! Om die opposisie te beledig, kom natuurlik al ‘n lang pad. Die beroemde Langenhoven het een oggend woedend sy opposisie in die parlement toegesnou: “Die helfte van hierdie parlement is 'n spul bobbejane!” Natuurlik was daar ‘n heftige reaksie hierop, en die speaker dring daarop aan dat Oom Neelsie sy kwetsende woorde terugtrek, waarop hy ewe bedeesd toegee: “Goed dan! Die helfte van die parlement is NIE bobbejane nie!” Nou wonder ‘n mens waarom die spul steeds nie tevrede was met sy verskoning nie…...

Vandag word politiekery egter hééltemal te vêr gevoer. 'n “Goeie” dag in die parlement kan selfs as walglik beskryf word. Ek wil nie eers name uitsonder nie, want feitlik almal maak hulle skuldig aan skandelike gedrag. En hulle, die leiers van ons volk, is die mense waarna almal moet opsien as voorbeeld van hoe om jou te gedra!

Die punt is dat die dinge wat ‘n mens sê, veral as jy ‘n leier is, mense baie seer kan maak of groot probleme kan veroorsaak. Vat nou maar vir Hitler en hoe hy die massas opgesweep het met sy ongelooflike opruiende toesprake. Man-alleen het hy die dood van baie miljoene mense veroorsaak met sy skerp tong. Idi Amin het dieselfde reg gekry, maar op ‘n baie kleiner skaal. Vandag is daar talle ander vlymskerp tonge – ek sal liewer nie name noem nie!

In vanoggend se gedeelte gaan dit egter nie oor politieke leiers nie, maar oor geestelike leiers. Jakobus praat spesifiek met enigeen wat die Woord op die een of ander wyse verkondig, of jy nou 'n dominee, 'n pastoor of lekeprediker is. In die beginjare van die kerk was daar ‘n oor-aanbod van leraars. Iemand wat ‘n predikant wou wees, moes baklei vir daardie posisie, en die manier waarop hulle dit gedoen het was om ‘n openbare debat te hou oor die een of ander omstrede tema. Ongelukkig het die meedingende leraars nie net op die argument gekonsentreer nie, maar hulle het dikwels persoonlike aanvalle op hulle teenstanders geloots met beledigende taal. Om ‘n leraar te wees was ‘n baie gesogte posisie, want buiten vir die finansiële voordele en die status wat so ‘n beroep gee, is daar boonop geglo dat ‘n leraar voorkeurbehandeling in die hemel sou kry!

Julle moenie almal leermeesters wil wees nie!” So probeer Jakobus hierdie situasie beheer, maar sy betoog gaan eintlik oor die manier waarop hierdie mense mekaar beswadder. Inderdaad is leraars ook maar net mense wat dikwels in baie opsigte struikel. Dikwels sê ‘n leraar óók dinge wat hy later berou! As jy egter ‘n leraar wil wees, moet jy tweekeer so hard werk om die volmaaktheid na te streef, want jy stel die voorbeeld aan jou gemeente. As die leraar sou skinder, sal die gemeente ook skinder, net baie erger, want die dominee wys mos dat dit nie verkeerd is nie!

Om ‘n mooi, voorbeeldige lewe te leef is nie so moeilik nie, veral nie vir ‘n leraar nie. Met ‘n bietjie dissipline leer jy gou om jou drange te beheer en om ‘n voorbeeld te stel in alle aspekte van die lewe. Dit is maklik om die mooi dinge te doen soos om siekes te besoek en te troos waar daar droefheid is. Om egter jou tong te beheer, is 'n perd van 'n héél ander kleur! Dit vat net één enkele moedswillige kêrel wat jou goed kwaad maak om jou ‘n totaal onverantwoordelike ding te laat sê. ‘n Vorige predikant in ons gemeente is vir ‘n paar maande geskors deur een enkele ondeurdagte sinnetjie tydens ‘n preek.

Ek verkies dit natuurlik baie eerder om te skryf as om te praat, want wanneer jy jou gedagtes op papier neerskryf, veral wanneer hulle woedende en onstuimige gedagtes is, kan jy eers daaroor gaan nadink, dit bepeins, heroorweeg en veral daaroor bid voordat jy dit vir die betrokke persoon gee. Hopelik kom jy betyds tot besinning en haal alles wat kwetsend is uit. Hopelik koel jy betyds af. Ek bid gedurig dat ek nie iets kwetsend skryf in hierdie dagstukkies nie, want dit is so maklik om iets te skryf wat iemand dalk onnodig kan seermaak.

Wanneer jy praat, is daar ongelukkig nie geleentheid om wat kwetsend is later uit te haal nie!

Die spreekwoord sê mos: “Wat die hart van vol is, loop die mond van oor”. Alles begin deur die regte gesindheid. As jy die regte hartsgesindheid het, sal die regte woorde outomaties oor jou lippe kom. Jakobus noem die voorbeeld van ‘n fontein wat nie soet én bitter water gelyktydig lewer nie, en ‘n boom wat nie gelyktydig goeie én slegte vrugte dra nie. Die dinge wat jy sê weerspieël dít wat in jou binneste aangaan.

Gebed:

Here, my innige gebed is dat U my die krag sal gee om my tong in beheer te hou.

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Stille Nag
21 May, 2024
Die Ware Jesus?
20 May, 2024
‘n Omgee-gemeenskap
17 May, 2024
Wát ‘n Wonderwerk!
16 May, 2024
Geloofsontploffing
15 May, 2024