Galasiërs 3:15-25
Oom RykGert stel met bewende hande sy laaste testament op. Hy was ‘n suksesvolle sakeman, en hy het sy onderneming deur die jare opgebou tot ‘n uiters winsgewende maatskappy. Maar nou het Oom RykGert nog net ‘n kort tydjie oor om te leef. Hy het nooit getrou nie, en daar is dus niemand om sy rykdom te erf nie. Tóg is daar ‘n hele paar hoopvolles wat wag om te aas!
En dan sterf hy. Sy testament lê opgesluit in die prokureur se kluis. Een-vir-een kom lê die hoopvolles by die regsman besoek af om te verneem hoe die testament lees, maar sy lippe is gesluit. Hulle probeer die prokureur oorreed om die testament te verander in húlle guns, maar hy weier. Wat geskryf is, is geskryf. Dit is finaal.
Op ‘n dag roep die prokureur al die hoopvolles saam, en baie dramaties maak hy die verseëlde koevert met Oom RykGert se testament oop. Binne is een velletjie papier met die woorde: “Aan my nefie Bennie bemaak ek my héle sakeonderneming.” Dis al! Net daardie enkele sinnetjie!
Bennie is verslae: “Wat het ek gedoen om dit te verdien? Ek het nog nooit werklik iets vir Oom RykGert gedoen nie, ek ken hom skaars! Ek verstaan dit nie!”
Die res is almal hoogs ontstoke. Hulle het so hard probeer om Oom RykGert te beïndruk, en hulle kry nie ‘n bloue duit nie! “Ek gaan prosedeer!” gil Hendrik. Sannie, ‘n verlangse niggie, skree met ‘n skril stemmetjie: “Ek gaan dit in die hof beveg!” Ou Karel is woedend: “My hele lewe lank het ek my afgesloof vir simpele ou RykGert. Wat kry ek? Niks!”
En Bennie? Hy loop oor van dankbaarheid! Dan neem hy ‘n besluit: “Ek gaan my bes probeer om ‘n reuse sukses te maak van die onderneming, en ek gaan die winste terugploeg in die arm gemeenskap.”
Vandat ons oor die wet en genade begin gesels het, het ‘n paar mense al wenkbroue gelig, want wat was dan die doel van die wet van Moses as dit vandag nie meer geld vir ons nie? Waarom het God in die eerste plek die Wet gegee? Moet ons nou totaal-en-al van die Wet vergeet?
Paulus het dit baie mooi gestel toe hy dit met ‘n testament vergelyk het. God het Sy testament aan Abraham bekend gemaak. Daarin beloof Hy onder meer vir Abraham dat al die nasies in sy nageslag geseën sal word. Hiermee sê God eintlik vir Abraham dat Hy Jesus uit Abraham se nageslag sou laat voortkom, en dat Jesus die volkome vryspraak sou gee.
Soos ons reeds gesien het, was Abraham ‘n diep gelowige mens. Ongelukkig kan ons dit nie sê van al sy nakomelinge nie, en dikwels het hulle die Here baie diep bedroef. So byvoorbeeld, wanneer Moses op die berg Sinaï in heilige oomblikke in God se teenwoordigheid verkeer, raak die wagtyd vir die volk te veel en hulle begin met afgodsaanbidding. En dít terwyl die heilige gesprek tussen God en Moses plaasvind! Hierdie volk het géén begrip gehad van hóé om met God te verkeer, soos hulle voorvader Abraham nie.
God móés ingryp en vir hulle riglyne neerlê oor wat van hulle verwag word. Hy moes vir hulle uitspel oor hoe jy aan God eer moes bewys en jou medemens moes behandel. Steeds was dit nie genoeg nie, en later moes Moses allerhande Godsdienstige rituele inbring om die rebelse en hardkoppige klomp Jode se gedagtes op God te vestig. Spesiale feeste moes sorg dat die mense onthou dat dit God alleen was wat redding kon gee. Hy het hulle immers uit die slawerny van Egipte gered! Ander rituele moes hulle herinner aan die heiligheid en reinheid van God.
Steeds was hierdie dinge nie genoeg nie, en die arme moedelose Moses moes in fyn detail vir die weerbarstige klomp elke titteltjie en jota kom uitspel, nes jy vir ‘n stout kind reëls en regulasies moet neerlê. Hulle was soos ‘n klomp babas wat elke oomblik van die dag opgepas moes word. Die doel van die wet was dus om as “babawagter” hierdie rebelse klomp op te pas. Nóóit was die doel van die wet om redding te gee nie. God se genade alleen kon redding gee. As die saak tussen jou en God reg is, sal jy Hom mos liefhê en outomaties die regte dinge teenoor Hom doen! Dat jy aan Hom liefde en respek sal gee en dat dieselfde liefde en respek sal oorloop na jou medemens.
In God se testament aan Abraham beloof Hy vir Jesus. Die wet moet dien as ‘n “tussenganger” totdat daardie belofte in vervulling gaan. Die belofte is intussen vervul en die beloofde Messias hét inderdaad gekom. Dit maak dan ook uiteraard die wet “oorbodig”. Beteken dit dat ons gladnie meer die dinge wat in die wet vervat is hoef na te kom nie? Nee, beslis nie om die saligheid te verkry nie! Dit moet egter ‘n natuurlike uitvloeisel wees om hierdie dinge natuurlik te doen uit dankbaarheid, want dit is mos hoe jy optree teenoor God en jou medemens. Die belangrike punt wat Paulus hier wou tuisbring is dat die wet nooit ‘n verlossingsmiddel is nie, maar dat GELOOF in CHRISTUS die enigste weg na verlossing is.
Gebed:
Here, dankie vir U verlossingswerk, want my beste werke sou my nooit verlossing kon gee nie!