Die Tekens van die Tyd

25 August, 2023
Luister Na Hierdie Dagstukkie Die Tekens van die Tyd

Matteus 24:15-31

VIDEO | OUDIO

Ons is steeds besig met Jesus se profetiese rede oor Sy wederkoms. Jesus skilder hier verskriklike dinge wat die wederkoms sal vooruitgaan. In vers 15 haal Hy ‘n gedeelte aan uit die profesie van Daniël (Dan. 9:27 en 11:31) waar Daniël verwys na die “ding wat ‘n gruwel is in die oë van God”. Dit laat jou dink aan die verskriklike goed wat die Siriese koning, Antiogos Epifanes IV aan die Jode gedoen het, toe hy onder meer ‘n altaar vir die Griekse oppergod, Zeus, bo-oor ‘n gedeelte van die offeraltaar in die tempel in Jerusalem gebou het, en die Jode verplig was om vir Zeus te offer – nogal met varkvleis! Onwillekeurig dink jy ook aan die Al Aqsa-moskee wat gebou is presies waar die tempel voorheen gestaan het en wat elke Jood vervul met afgryse.

Die verskrikking van die eindtye word deur Jesus geskilder, dat mense na die berge toe sal vlug. Die dringendheid van hierdie vlug word beklemtoon in die feit dat daar nie eers tyd sal wees om jou nodigste besittings of selfs om klere te gryp nie. Dit sal ‘n verskriklike noodsituasie wees, iets wat ons herinner aan die verskrikking van die tsoenamies wat die wêreld die afgelope klompie jaar so geruk het, waar daar vir die meeste mense nie eers die geleentheid was om te kon vlug nie. Die see het net eenvoudig alles in sy pad ingesluk.

As ons vandag die boosheid van die wêreld aanskou, staan jy in verwondering dat God nog nie ‘n einde aan alles gemaak het nie! Hoe lank sal God se genade nog hou oor hierdie bose geslag? Hoe lank nog voor God sal sê: “Tot hiertoe, en nie verder nie!”

Die troos is egter dat die gemeente van God, Sy kinders vir hulle die beskerming van God in hierdie groot eindverdrukking kan toeëien. God maak dit alles vir Sy uitverkorenes draaglik deur die duur daarvan te verkort.

Een van die kenmerke van die eindtyd is die vals profete en selfs vals christusse wat die uitverkorenes met groot tekens en wonderwerke sal probeer verlei. Is dit dan nie net Christen-gelowiges wat wonderwerke kan doen nie? Nee, ook God se vyande doen wonderwerke deur die mag van Satan. Ek dink onwillekeurig aan die berugte “Doom-profeet” en die geestelike wat sy gemeente slange laat eet het!

Hoe toets jy die persoon wat wonderwerke doen? Deur sy gehoorsaamheid aan die wil van God in die uitleef van liefde en geregtigheid.

Daar was inderdaad al in die tyd van die vroeë kerk verwarring onder die gelowiges oor die koms van Christus. Daar was allerhande opvattings oor presies hoe en waar Jesus se wederkoms sou plaasvind en so byvoorbeeld het die Koemraanbeweging verwag dat Hy in die woestyn sou kom. Hulle het hulle in die woestyn, weg van die “bose” Jerusalem gaan vestig en 'n asketiese lewe gelei. Ander het gedink dat Jesus se wederkoms eers geheim sou bly totdat Hy te voorskyn tree (slaapkamer) - Matt. 24:26.

Jesus het dit egter beklemtoon dat Sy wederkoms onmiddellik deur almal herken sou word. Wanneer Hy die dag kom, sal niemand hoef te wonder of twyfel nie want Hy sal so sigbaar wees soos ‘n weerligstraal in die lug. Die spreuk in vers 28 bevestig dit: soos wat aasvoëls onmiddellik aas uit die lug herken, net so opsigtelik sal die koms van die Seun wees. Ons hoef dus nooit bekommerd te wees dat ons Hom nie sal herken wanneer Hy kom nie!

Vandag is daar nog steeds dieselfde soort verwarring. Hoeveel keer het ons nie al die afgelope ruk gehoor van die einde wat sou aanbreek op ‘n sekere datum nie? Jy sal onthou hoe die mense opgewerk geraak het oor die heidense Maya-priesters se voorspellings dat die eindtyd in Desember 2012 sou plaasvind.

Dan was daar die onsigbare “Wilde-als” Astroïede (Wormwood) wat die aarde sou tref en alles eensklaps verwoes. Dit het nie gekom nie, ook nie die einde nie!

Die feit is bloot dat ons nie weet nie. Niemand weet nie! Nie eers die engele nie! Maar hieroor sal ons meer gesels in ‘n volgende dagstukkie.

Daar is vyf sake uit hierdie gedeelte wat ons vir onsself vandag kan toeëien:

1. Die geskiedenis beweeg na 'n punt toe: die koms van Christus in heerlikheid.

2. Die tekens is nie 'n tydbepaler nie en ons moet gedurig gereed wees vir Sy koms, en alle spekulasie oor die presiese tyd vermy. Jy kan in 'n ongeluk sterf, en dan is jou tyd daar!

3. Ons word betrek by die voorbereiding van Sy koms deur die evangelie te verkondig. Ons durf nie bloot terugsit en net wag nie. Ons moet so veel as moontlik mense na Jesus lei, want diegene wat nie glo nie gaan die ewige verderf in.

4. Die bose is 'n werklikheid in die wêreld en hy het mag.

5. Ons lewe onder die bewaring van God en dit is genoeg vir ons om getroos te lewe en te sterwe.

Gebed:

Here Jesus, wanneer ons met beangste harte die boosheid van die wêreld rondom ons sien, dan is ons gebed vandag: Kom, Here Jesus, kom tog gou!

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Moses Protesteer Alweer
13 June, 2025
Die Israeliete Kerm
12 June, 2025
Ontmoeting met Farao
11 June, 2025
Terug na Egipte
10 June, 2025
Drie Wondertekens
9 June, 2025