Die Storm

24 August, 2022
Luister Na Hierdie Dagstukkie Die Storm

Markus 4:35-41

VIDEO * OUDIO

Bewend van angs staan die Israeliete saamgedrom op die strand van die Rietsee. Voor hulle lê die uitgestrekte water, en agter hulle kan hulle die leërmag van die Egiptenare in ‘n reuse stofwolk sien aankom. Vandag is die dag dat die ganse volk hier uitgewis gaan word! Wanneer die son sak, sien die Israeliete die rye en rye strydwaens met hulle wrede ruiters op hulle afgestorm kom, en die volk kerm van angs. Maar dan gebeur die eerste natuurwonder: ‘n pikswart wolkbank sak voor die aanstormende Egiptenare in, sodat hulle niks voor hulle kan sien nie. Maar die wonder is nog nie verby nie, want aan die Israeliete se kant is hierdie selfde wolkbank helder verlig, sodat dit vir hulle amper soos daglig is. In Genesis 14:19 lees ons: “Die Engel van God, wat die hele tyd voor die leër van Israel uit getrek het, het toe agter hulle in beweeg.” (Terloops, die Engel van God verwys na die Seun van God, dus Jesus.)

Maar steeds is dit nie verby nie, want op God se bevel strek Moses sy hand uit oor die see. Daar steek ‘n sterk oostewind op wat die water van die see oopkloof, sodat daar ‘n wye pad drooggelê word waardeur die Israeliete van die aanstormende gevaar kan ontsnap. Soos een man beweeg die volk reg deur die nag deur die see. Aan weerskante van hulle sien hulle die wal water staan soos ‘n muur van glas.

Wanneer die son die volgende oggend begin opkom, sit die laaste Israeliete voet aan wal aan die anderkant van die see. As hulle terugkyk, sien hulle aan die oorkant van die see-pad die Egiptenare met hulle strydwaens. Hierdie selfde pad wat God so pas vir hulle gemaak het om van die vyand te ontsnap, word nou die pad vir die vyand om hulle te agtervolg en te vernietig! Maar dan gebeur daar ‘n asemrowende wonder, wanneer die vreesaanjaende Egiptiese strydwaens se wiele skielik begin loskom en afval. ‘n Reuse verwarring heers onder die aanstormende mag. Die finale slag kom wanneer die muur van water weerskante van hulle begin verkrummel, en hulle ingesluk word deur die see!

Baie jare later was daar weer ‘n klompie Israeliete wat in groot nood was, en weereens sou dit net ‘n wonderwerk wees wat hulle kon red, ‘n baie groot wonderwerk!

Alles het begin toe Jesus vir Sy dissipels gesê het dat hulle na die oorkant van die meer moes vaar. Die see van Galilea is eintlik maar net ‘n groot meer met kalm water. Maar dit is uiters bedrieglik, want aan die ander kant van die meer is daar baie strategies-geleë klowe wat soos tregters winde kan kanaliseer oor die meer en skielike, hewige storms kan veroorsaak. Binne minute kan die meer verander van ‘n rustige poeletjie na ‘n kookpot. Terwyl hulle op die meer was, het Jesus op ‘n bankie lê en slaap. Toe tref een van daardie skielike storms hulle. Reuse golwe het hulle skuitjie heen en weer geruk en oor die kant van die skuit geslaan. Vinniger as wat hulle kon uitskep, het die water die skuit binnegestroom!

Angsbevange het die manne vir Jesus wakkergeskud: “Meester, gee U dan nie om dat ons vergaan nie?”

En dan gebeur die wonderwerk as Jesus die storm aanspreek: “Wees stil, bedaar!” Onmiddellik het die wind gaan lê, en ‘n groot stilte het oor hulle toegesak.

In Die Beeld het ‘n sekere Ds. Cruywagen eenmaal geskryf dat dit nie help om te bid as jy in die nood is nie. Jy gaan verniet bid vir reën, want dit is slegs die natuurkragte wat reën kan maak!

Hierdie leraar het, soos dit vir my lyk, nog nooit die Bybel waarlik gelees nie. Hy het nie gelees van Moses nie, en van hoe Jesus die storm stilgemaak het toe Sy dissipels in die nood was nie. En hy het ook nie gelees van Elia wat gebid het dat dit moes ophou reën nie. En na die verskriklike droogte het hy weer gebid vir reën, en toe moes almal hardloop want die gróót reën was daar! Weet hy dan nie dat ons ‘n Almagtige God dien vir Wie absoluut niks onmoontlik is nie?

Oor die jare het ek talle kere die antwoord op gebed ervaar, oor dinge wat ek nie anders kan as om toe te skryf aan God wat luister na my stem, en my gebed verhoor het nie. Ja, verseker gee Hy nie altyd wat ek vra nie, maar ek sien die antwoord op my gebed dikwels verrassend anders! Dan wéét ek dat God beter weet as ek, en dat my gebed op ‘n ander wyse beantwoord word.

Sou Moses ooit kon droom dat die Here sy gebed op so ‘n wonderbaarlike wyse sou beantwoord? En het die dissipels ooit kon droom dat Jesus die mag het om selfs die natuurkragte te verander?

Ek het “toevallig” die storie in Die Beeld gelees voor ek hierdie dagstukkie geskryf het. Toevallig? Nee! Duisend maal nee! Niks is “toevallig” nie! Hierdie storie het gekom as antwoord op my gebed om my die woorde vir hierdie dagstukkie te gee. As dit nie ‘n antwoord op my gebed was nie, wat was dit dan?

Die twee voorbeelde uit die Skrif vanoggend, is enkeles van duisende voorbeelde van Goddelike ingryping op mense se gebede. Jesus word hier deur Markus beskryf as God vir Wie niks onmoontlik is nie. Vandag is Hy nog presies dieselfde as in Moses en ook Markus se tyd. Hy is ewig! Hy is almagtig! En Hy luister wanneer ons bid!

Gebed:

Here, dankie dat ek met U kan praat en ook my behoeftes na U kan bring. Dankie dat ek verséker kan weet dat U luister na my gebed.

                

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

‘n Warm Patat
21 August, 2026
Die Ark is Gebuit!
20 August, 2026
Luister en Doen
19 August, 2026
Wanneer die Here Praat
18 August, 2026
Om Kinders Groot te Maak
17 August, 2026