Die Stem van God

28 July, 2022
Luister Na Hierdie Dagstukkie Die Stem van God

Markus 1:9-13

VIDEO * OUDIO

Op die oewer van die Jordaanrivier staan die profeet: “Bekeer julle!” Sy harde, dringende stem weergalm deur die heuwels en klowe van die Jordaanvallei. “Bekeer julle en laat julle doop, en God sal julle sondes vergewe!”

Skielik verstar Johannes. Uit Nasaret se rigting kom ‘n Man aangestap. Johannes staar Hom oopmond aan. Almal draai hulle nekke om te sien wie Johannes se aandag skielik so vasvang.

“Wie is Hy?” Dit druis deur die skare, want Johannes is beslis diep aangeraak deur die opwagting van hierdie vriendelike, maar eenvoudige Man.

“Dáár is die Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem!” Johannes is skielik baie opgewonde.

“O, maar ek ken Hom mos! Hy is maar net ‘n skrynwerker uit Nasaret. Ek weet nie waarom Johannes so opgewonde raak oor Hom nie!”

“Hý is die Een van wie ek gesê het, ‘Hy wat ná my kom, is my voor, omdat Hy die eerste was.” *(Joh 1:15)

“Waarvan práát Johannes tóg?” Nou verstaan hulle Johannes gladnie. Die mense maak plek dat Jesus kan deurkom. Hier kom vandag ‘n ding! Wat is dit dan met Johannes? Jesus beduie vir Johannes dat Hy gedoop wil word, maar Johannes weier.

“Is die Man se sondes dan so groot dat Johannes hom nie eers wil doop nie?” ‘n Geskokte fluistering trek deur die skare.

Maar dan kreun Johannes dit uit: “Ek is nie waardig om U te doop nie! Ek moet eintlik deur U gedoop word, en U kom na my toe?”

“Wat bedoel Johannes? Is hier dan nou meer as een profeet?” Nou is die mense totaal verward!

Waarom wou Jesus Hom laat doop het? Hy het tog nie sonde gehad nie? Daar was veral twee redes waarom Jesus gedoop moes word: Eerstens om Homself te vereenselwig met die mense wat na Johannes toe gestroom het. Hy het homself nie bo die doodgewone mense verhef nie, al het Hy ook volle rede daartoe gehad. Later in die verhaal sien ons hoe laag Hy sou daal om maar net die verworpenes te bereik. Maar daar was ook ‘n ander rede. Deur Sy doop sou God Hom salf met die Heilige Gees.....

Baie teësinnig voer Johannes hierdie doop op Jesus, sy verlangse familielid uit. En dan gebeur dit: Wanneer Jesus uit die water kom, is dit asof die hemel bokant hulle oopskeur. Johannes staan verslae as hierdie onbeskryflike gesig hier reg bokant hom afspeel. Vanuit die geopende hemel daal daar iets absoluut onbeskryflik neer, reg op Jesus af. Dit lyk amper soos ‘n duif. En dan skielik besef Johannes: Dit is die Heilige Gees wat uit die hemel neerdaal op Jesus om Hom te salf vir Sy amp!

Johannes val in aanbidding neer op die grond, want vanuit die hemel weerklink daar ‘n Stem wat spreek van gesag en majesteit: “Jy is my Seun, my geliefde.” Johannes weet onmiddellik dat hierdie Stem met Jesus praat, en dat dit die Stem van God is. “Oor Jou verheug Ek My!” So weerklink die stem van God uit die hemel.

Die skare mense is verstom: “Wat het gebeur?” Hulle kon dit nie verstaan nie.

“Ek het die Stem van God gehoor,” prewel Johannes aanmekaar. “En ek het bly lewe! Ek is die mees geseënde van alle mense. Loof die Here!”

Het jy al die Stem van God gehoor? Iemand sê eenmaal vir my dat sy só graag die Stem van God hoorbaar wou hoor. Ek het daaroor nagedink en met ‘n groot skok agtergekom dat ek nog nooit geleer het om waarlik stil te word sodat ek God se stem kon hoor nie. Elke keer as ek in gebed voor God gaan, rammel ek ‘n gesprek af met Hom. Ja, ek bid dalk al die regte dinge, maar ek het nog nooit in absolute stilte aan Sy voete gaan sit nie.

Dit was eers een aand tydens ‘n “week van gebed” in ons gemeente, toe dit gebeur het. Dit was een van daardie tipiese snikhete, bedompige KwaZulu-Natal someraande. Ek het buite die kerk op ‘n boomstomp gaan sit terwyl die sweet my aftap. Ek het my oë toegemaak. En toe gebeur dit: ‘n Sagte, koel luggie het my hele gemoed verfris. In die stilte van die aandwindjie het ek net totaal stilgeword terwyl die Stem van God onhoorbaar saggies in my oor gefluister het.

Wat het Hy gesê? Nee, ek weet nie, maar my ganse gemoed het gelig en ek het ’n lofprysing voor Hom uitgeborrel. Het ek al ooit God se Stem fisies hoorbaar gehoor? Nee! Maar Hy praat elke dag met my deur Sy heilige Gees. Hy is die Een wat elke dag die boodskap van hierdie dagstukkies in my oor fluister. En elke dag staan ek verstom oor wat ek geskryf het, want dit is nie ek nie, maar die Heilige Gees wat my laat skryf. Ek is maar net die sekretaris.

Markus skryf ‘n notatjie waarin hy kortliks sê dat Jesus ná die doop die woestyn ingevaar het, weggevoer deur die Heilige Gees, en vir veertig dae lank daar oorleef het tussen die wilde diere, en dat die engele Hom daar versorg het. Soos Johannes en baie profete voor hom, het Jesus ook ‘n woestyntydperk gehad as voorbereiding vir die groot taak wat op Sy skouers gerus het. Maar daar was Hy ook deur die duiwel versoek. Nou was alles gereed vir Jesus se werk om te begin.

Gebed:

Here, dankie dat ek dag-vir-dag U stem kan hoor. Maak asseblief my geloofs-ore oop om U stem duidelik te herken, en te gehoorsaam.

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

‘n Warm Patat
21 August, 2026
Die Ark is Gebuit!
20 August, 2026
Luister en Doen
19 August, 2026
Wanneer die Here Praat
18 August, 2026
Om Kinders Groot te Maak
17 August, 2026