Die Spioene en die Prostituut

7 November, 2025
Luister Na Hierdie Dagstukkie Die Spioene en die Prostituut

Josua 2:1-24

VIDEO | LUISTER

In die kamp van Israel is alles in rep en roer: “Ons trek!” is die woord op almal se lippe. Holderstebolder word oral geraap en geskraap om alles gereed te kry want oor ‘n skamele drie dae val hulle in die pad!

Intussen is Josua hard besig om die inval te beplan. Hy besluit dat mens mos nie sommer so blindelings in 'n vyandige land kan instap nie. Jy moet eers weet wat die situasie anderkant die rivier is. So amper veertig jaar tevore was hy deel van 'n ekspedisie om die land te verken. Sou dit nie dalk 'n goeie idee wees om weer een te stuur nie? Maar hierdie slag stuur hy net twee betroubare manne. Hulle moes Jerigo gaan verken want dis die eerste stad in sy visier, reg oorkant die Jordaanrivier.

En só steek die twee spioene die grens oor. Die stadspoorte van Jerigo staan wawyd oop en hulle glip ongesiens in. Maar hulle is vreemdelinge in 'n klein stadjie waar almal mekaar ken. Met groot ontsteltenis sien hulle hoedat die mense hulle met wantroue aankyk. “Ons sal 'n plan moet maak!” sê die twee vir mekaar. En dan sien hulle dit: op 'n bordjie by een van die huise in die stadsmuur staan die uitnodiging: “Besoek Ragab vir 'n goeie tydjie.”

Desperaat om van die nuuskierige oë weg te kom, glip hulle daar in. En dan, tot hulle groot ontsteltenis, moet hulle uitvind dat hulle hulleself in 'n prostituut se bordeel bevind. “Wat nou?” wonder hulle hardop.

Ek weet nie wie van hulle die grootste geskrik het nie, Ragab die prostituut of die twee spioene. “Wat maak julle hier?” Sy herken hulle sommer dadelik as Israeliete. Jy kan hulle 'n myl ver uitken! En die dinge wat sy gehoor het van Israeliete is dat hulle 'n gevaarlike klomp is. Hulle reputasie het hulle vooruitgeloop. Die wonderwerk toe hulle deur die Rietsee getrek het en toe al die Egiptenare versuip het, is veertig jaar later steeds op almal se lippe. En kyk net hoe hulle van die ander groot vyandelike volke totaal uitgewis het sodat daar nie 'n lewende siel oorgebly het nie! Maar hierdie twee lyk dan gladnie so wreedaardig nie! Hulle is doodgewone manne. “Spioeneer julle op ons?” wil sy weet. “Gaan julle Jerigo ook kom uitwis?”

Die twee manne besef sommer dadelik dat hulle doppie geklink is. “Assblief, moenie ons weggee nie!” pleit hulle.

Haar hart word sommer dadelik sag vir die twee weerlose manne. Boonop het sy gehoor van hierdie God wat hulle aanbid en van die groot wonderdade wat Hy gedoen het. Sy wou meer weet van Hom, want sy het nou al agtergekom dat die klipgode wat hulle aanbid 'n mite is. “Julle kan maar hier wegkruip. Wees gerus, ek sal niks sê nie!”

Dan is daar 'n gehamer aan haar deur. “Gou! Hardloop op na die dak toe!” beveel sy hulle. Daar kruip hulle weg onder 'n groot hoop vlas.

Dit klink asof die manne haar deur wil afbreek. Met 'n gesig wat oorloop van vriendelikheid, maak sy die deur oop vir haar “kliënte”.

“Waar is hulle?” bulder die soldaat. “Lewer dadelik daardie twee manne uit wat hier by jou is!”

“O, daardie twee?” vra sy onskuldig, en dit lyk asof botter nie in haar mond kan smelt nie. “Hulle is netnou weg. Is daar 'n probleem?”

“Waar is hulle heen?” wil hy woedend weet. “Hulle is spioene en hulle wil ons land kom verken!”

Gemaak verbaas vertel sy vir hulle dat sy nooit besef het wie hulle is nie, maar dat die twee manne hier uit is net voor die stadspoorte gesluit het. As hulle gou maak, haal hulle dalk nog die twee in! Wanneer die soldate weg is, sluit sy die deur en hardloop op na die dak waar die twee spioene steeds onder die vlas wegkruip.

“Ek weet die Here gee vir julle die land; ons is skrikbevange vir julle, al die inwoners van die land bewe uit vrees vir julle.” Die vrou is baie bang. “Ek het julle goed behandel. Lê dan nou vir my 'n eed voor die Here af dat julle my familie ook goed sal behandel,” smeek sy. Die manne belowe haar dat sy niks sal oorkom nie. Sy moet net sorg dat haar familie by haar in die huis is en dat sy 'n rooi lap by haar venster sal laat uithang. Op haar beurt belowe sy dat sy niks sal uitlap nie.

Wanneer alles bedaar het, laat sak sy die twee manne met 'n tou deur haar venster buite die stadsmuur af met die opdrag dat hulle eers vir drie dae in die berge moet wegkruip om seker te maak dat hulle nie agtervolg word nie.

Wanneer die twee spioene weer veilig oor die Jordaan is en by Josua aankom, is hulle woorde aan hom: “Die Here gee die hele land oor in ons mag. Al die inwoners van die land bewe van vrees vir ons.” Hoe anders as die vorige ekspedisie waar die verspieders so verskriklik negatief gestaan het teen die inval.

Drie keer het Josua bevestiging gekry dat hy die land moet inval en is hy bemoedig deur die Here. Die derde keer is dit sy eie volksgenote wat dit vir hom gee.

Die Here bemoedig en ondersteun ons, Sy kinders op talle maniere met beloftes. Ons is medewerkers in die vervulling van God se beloftes!

Gebed:

Here, dankie vir die voorbeeld van Josua wat U ten volle vertrou het. Gee my asseblief ook daardie onwrikbare vertroue in U!

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Het Jy MY Lief?
11 December, 2025
God se liefde in die Psalms
10 December, 2025
Die HERE is My Herder
9 December, 2025
Hoe Wyd is God se Liefde?
8 December, 2025
Onverganklike Liefde
5 December, 2025