Die Son Staan Stil

20 November, 2025
Luister Na Hierdie Dagstukkie Die Son Staan Stil

Josua 10

VIDEO | LUISTER

Die Gibeoniete waarvan ons gister gelees het, was nou nie juis ‘n minderheidsgroepie nie. Hulle stad was heelwat groter en sterker as dié van Ai. Toe hulle dus by Israel gaan vlerksleep en dit regkry om ‘n verdrag te sluit met Josua se magte, was die ander konings van Kanaän baie bekommerd. Hier kon vir hulle gróót moeilikheid kom as hulle nie baie gou ‘n plan maak met Gibeon nie. En só organiseer die koning van Jerusalem, Adoni-Sedek toe ‘n veldtog saam met vier ander Amoritiese konings om Gibeon van die kaart af te gaan vee voordat hulle hulle mag by die vreesaanjaende leër van Israel gaan voeg.

Dikwels gebeur dit dat mense wat by God se kinders gaan hulp soek, as gevolg daarvan in lewensgevaar kom. Mense raak jaloers op hulle of sien hulle as ‘n bedreiging vir hulle eie waardes. In sommige van die Moslemlande is bekering tot die Christendom vir daardie persoon ‘n doodsvonnis!

Die manne van Gibeon het te hore gekom van hierdie komplot teen hulle en aangesien hulle dan nou hierdie verbond met Israel bekom het, besluit hulle om by Josua om hulp te gaan aanklop. En Josua stem in, want selfs al het hierdie Gibeoniete hulle om die bos gelei, het Israel vir hulle hulle woord gegee. Hierdie slag raadpleeg Josua egter éérs die Here, want hy het ‘n duur les geleer.

Die Here verseker vir Josua dat Hy met hulle is, en dan snel hulle die Gibeoniete te hulp. Die vyf formidabele konings het alreeds hulle magte rondom Gibeon ontplooi wanneer Josua daar aankom. Wanneer hierdie magte egter die Israeliete sien, raak hulle paniekbevange, en hulle slaan op die vlug met Josua agterna. Wanneer God betrokke is, kan Josua se teentanders nie staande bly nie. God se mag is groter, selfs as hierdie gedugte alliansie van vyf magtige konings! Dan tref die Here hulle met groot haelstene as ‘n ongekende haelstorm losbars. Die hael saai verwoesting onder die vyand en talle sterf, selfs meer as wat Israel se magte kon doodmaak.

Maar dan gebeur die volgende wonderwerk. Al vlugtende veg die vyand terug, maar die Here gee aan Josua die oorhand sodat duisende soldate sneuwel. Daar is egter ‘n probleem: die dag is te kort! Hierdie vyand moet wortel en tak uitgeroei word, maar daar is net eenvoudig nie genoeg tyd in die dag oor om dit te vermag nie. Dan vra Josua die Here om hulp. Wat moet hy doen? Die Here se antwoord is dat Josua maar net die woord moet spreek, en die son sal stilstaan om hom genoeg tyd te gee.

Dan roep Josua in ‘n sterk stem uit sodat almal hom kan hoor: “Son, staan stil!” En dan gebeur die wonder: vir ‘n volle dag lank hang die son op een plek in die hemelruim totdat Josua se magte die vyand totaal uitgewis het. Israel se magte het totaal ongeskonde van hierdie hele geveg daarvan afgekom. God het Sy belofte gestand gedoen wat Hy aan Josua gemaak het in Josua 10:8 : “Moenie vir hulle bang wees nie, want Ek gee hulle in jou hand. Niemand van hulle sal voor jou staande bly nie.

Die vyf konings het intussen in ‘n grot gaan wegkruip. Josua laat hulle haal, en dan word hulle doodgemaak.

Jy het sekerlik al die WhatsApp gekry waarin beweer word dat NASA navorsing gedoen het en bevind het dat daar iewers ‘n dag “weggeraak” het. Hulle het toe die afleiding gemaak dat dit Josua se dag was.

Hierdie is egter nie die waarheid nie. Die storie is begin deur Harold Hill alreeds in 1969. Hy het beweer dat hy ‘n konsultant by NASA was. NASA ontken dit egter asook dat daar ooit sulke navorsing was.

Hierdie storie kom egter al ‘n baie verder pad. In 1890 het ‘n sekere Professor Totten alreeds ‘n boek geskryf waarin hy beweer dat die aarde op Sondag 22 September 4000 vC geskep is. Toe hy egter sy berekeninge doen, kom hy agter dat 22 September op ‘n Maandag geval het, en toe besef hy dat dit Josua se dag was wat sy berekeninge omver gegooi het!

Ons moenie probeer om die Bybel met allerhande foefies as waar te bewys nie, en veral nie deur die waarheid te verdraai nie. Met sulke soort leuens, hoe edel hulle ookal vir ons mag lyk, veroorsaak jy baie meer skade as wat jy dink. Dit is in elk geval nie nodig om die Bybel waar te bewys nie, want die Bybel IS waar!

Na hierdie geveg het Josua voortgegaan en sistematies sewe stede verower. Sewe is die volmaakte getal en dit beklemtoon simbolies dat die totale gebied deur Israel ingeneem is. Ons moet die geskiedenis egter saamlees met die boek Rigters, waar die prentjie ietwat anders geskilder word. Hierdie stede is oor ‘n tydperk verower en alles het nie so glad verloop as wat in Josua beskryf word nie. Boonop is die verowerings nie deur die hele volk gedoen nie, maar deur verskillende indiwiduele stamme.

Hierdie is nie teenstrydighede in die Bybel nie, maar die skrywers het uit verskillende oogpunte gekyk na dieselfde gebeurtenis en elkeen het sy eie unieke en baie spesifieke boodskap hiermee gehad. Dan besef mens net weereens dat jy die Bybel in sy geheel moet lees om spesifieke gedeeltes te kan verstaan!

Gebed:

Vandag kan ek net my hande saamslaan in verwondering oor die ongelooflike dinge wat U gedoen het. Here, U is groot en almagtig!

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Die Ark is Terug
24 August, 2026
‘n Warm Patat
21 August, 2026
Die Ark is Gebuit!
20 August, 2026
Luister en Doen
19 August, 2026
Wanneer die Here Praat
18 August, 2026