Die Slinkse Bestuurder

14 October, 2021
Luister Na Hierdie Dagstukkie Die Slinkse Bestuurder

Lukas 16:1-13

VIDEO OUDIO

Wanneer dit by geldsake kom, dan kry jy baie “slim” mense, ouens wat elke truuk onder die son uitdink om vinnig stinkryk te word, en in die proses gee hy nie om hoeveel mense in die slag bly nie. Dag-vir-dag lees ons in die koerante van die slinkse manne wat uitgevang is, en elke keer is daar sommer baie miljoene op die spel. Die hartseer is dat dit dikwels pensionarisse is wat hulle pensioengeldjie wou belê, wat die onderspit moes delf en alles verloor. En dit terwyl die swendelaar baiekeer skotvry daarvan afkom, bloot op ‘n tegniese punt in die hofsaak. Ja, en wat van al dié wat nooit eers uitgevang word nie?

Jesus vertel juis vir Sy dissipels ‘n storie van so ‘n kêrel wat sy baas se sake baie verdag bestuur het. Die baas het snuf in die neus gekry en toe vra hy die bestuurder om te kom verslag doen. Die kêrel het sommer dadelik gesien dat hier gróót moeilikheid kom en toe begin hy plannetjies beraam om sy eie bas te red. Hy probeer nie eers verskonings maak by sy baas nie want hy wéét dat hy so skuldig is soos die houtjie van die galg.

Wat doen hy? Al die mense wat vir sy baas geld skuld, koop hy om, hopende dat hy in hulle goeie boekies sou kom en dat hulle hom weer op hulle beurt sou help as hy later werkloos was! Hy het al die stewel sien aankom!

Toe die baas agterkom van die gekonkel, sê hy vir hom: “Dit was nou baie slim!” Eintlik was dit sarkasties bedoel, want die baas was die een wat gely het onder die kêrel se kullery!

Jesus se kommentaar oor hierdie storie was: “Die kinders van hierdie wêreld tree verstandiger teenoor mekaar op as die kinders van die lig.(v.8) Met ander woorde, die wêreldling is nie bang om allerhande wêreldse beginsels tot sy eie voordeel toe te pas nie. Mense van die lig (gelowiges) kan by die wêreldlinge gaan leer, nie om oneerlike beginsels te gebruik nie, maar om die beginsels van die lig - God se voorskrifte te gebruik en prakties toe te pas tot hulle eie voordeel sowel as die voordeel van ander mense.

Die volgende uitspraak van Jesus word dikwels ook verkeerd verstaan: “Maak vir julle vriende deur middel van die oneerlike Mammon, sodat, wanneer dit tot 'n einde kom, hulle julle in die ewige wonings mag ontvang.(v.9) Mammon is ‘n benaming vir jou aardse besittings of jou rykdom. Dit kan jou baie maklik van God af weglok en jou ‘n slaaf maak. Dit is vals sekuriteit! Met hierdie uitspraak wil Jesus sê dat jy jou geld moet gebruik op ‘n goeie manier. Jy moet dit letterlik gebruik om vriende te maak. Prakties beteken dit dat ‘n gelowige die geld wat God onder jou bestuur geplaas het só moet gebruik dat dit ‘n instrument word in die hand van God. Jy (én jou finansies) word dus ‘n werktuig in God se hand waardeur Hy vir ander mense sorg.

n Gelowige moenie lewe soos ‘n dief nie, want ‘n dief sê: “Jou geld is myne! Baie dankie, ek sal dit maar vat!” Aan die ander kant is die vrek se lewe ook verkeerd, want hy sê: “My goed is mý goed, los dit uit!”. Die humanis het ‘n baie “edel” uitkyk met: “My goed is joune, vat gerus daarvan vir jou...”. Nou wat moet die gelowige se leuse dan wees? “Alles wat ek besit behoort eintlik aan God, en om daardie rede sal ek dit met jou deel.

Die vraag wat ons elkeen vanoggend vir onsself moet afvra, is hoe hanteer ek my finansies? Klou ek krampagtig vas aan die goed en geld wat die Here aan my toevertrou het? Ons lewe toenemend in ‘n wêreld waar die verskil tussen ryk en arm al hoe groter en groter word. Aan die een kant is daar die mense wat in peperduur blink motors rondrits en in paleise bly. En aan die ander kant is daar die miljoene wat in haglike omstandighede kop bo water probeer hou - dalk selfs snags op ‘n sypaadjie iewers in die bittere koue moet slaap. Dalk is jy een van die bevoorregtes. Dink jy ooit aan die nood van die brandarmes? Geld het in die toekomstige lewe absoluut géén sekuriteitswaarde nie! Dit isn baie beter belegging as jy besluit om in menselewens te belê. Ja, ek ken baie welaf gelowiges wat altyd ‘n oop hand en ‘n oop beursie het vir armes. Die een kenmerk van hulle lewens is die geluk en blydskap wat uit hulle straal!

Jesus sluit die vertelling af met die woorde dat jy ‘n besluit moet neem. Jy kan nie tegelyk vir God en Mammon, die geldgod dien nie. Dit is óf die een óf die ander. Jy moet besef dat alles wat jy het, aan God behoort en dat jy dit dus slegs vir Hom bestuur. Ek moet myself dus gereeld die vraag afvra: “Bestuur ek God se bates op ‘n doeltreffende manier? Bestuur ek dit op die wyse wat God wil hê dat ek dit moet bestuur?” Weereens is die maatstaf wat Jesus gegee het in die liefdesgebod, dat ek God moet liefhê maar terselfdertyd ook my medemens, van kardinale belang. As ons waarlik liefde leef, sal ons bereid wees om God se gawes met minderbevoorregtes te deel.

Gebed:

Here, ek moet vanoggend bieg dat ek nie eers náástenby ‘n goeie bestuurder is van die bates wat U my gegee het nie. Help my asseblief om U goed reg te gebruik.

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

‘n Warm Patat
21 August, 2026
Die Ark is Gebuit!
20 August, 2026
Luister en Doen
19 August, 2026
Wanneer die Here Praat
18 August, 2026
Om Kinders Groot te Maak
17 August, 2026