Die Slinkse Advokaat

4 December, 2024
Luister Na Hierdie Dagstukkie Die Slinkse Advokaat

Handelinge 24:1-23

VIDEO | OUDIO

Ons het die afgelope paar jaar hofsake beleef wat ‘n mens se hare laat regop staan. Sommige van hierdie sake was in ‘n sekere sin selfs lagwekkend en die manier wat advokate rondgespring het om hulle saak te stel, het jou kop laat duisel.

En nou sit ons met nóg ‘n hofsaak: die Paulus-verhoor. Maar wag, kom ons begin by die begin!

Antonius Feliks word in 52 nC. aangestel as goewerneur, 'n pos wat hy in Sesarea beklee tot 59 nC. Wat sy aanstelling merkwaardig maak is dat hy aanvanklik 'n slaaf was. Sy broer se kontak met keiser Klaudius besorg hom egter sy fenominale opgang in die lewe. Onder die Jode was hy nou nie juis gewild nie en daar was gedurig konflik tussen hulle. Hy was die hoofoorsaak dat die Jode hulle toenemend verset het teen die Romeinse owerhede. En nou kry hy die “voorreg” om Paulus te verhoor!

Vyf dae na Paulus se aankoms in Sesarea daag 'n hoëvlak afvaardiging op uit Jerusalem om 'n formele aanklag teen Paulus te kom lê. Die hoëpriester Ananias word vergesel van 'n klompie familiehoofde en 'n advokaat met die naam Tertullus. Die advokaat se strategie is om Paulus voor te hou as 'n Joodse onrusstoker en dus 'n gevaar vir die samelewing. As hy in sy doel slaag, sal Paulus deur die Romeine tereggestel word.

Wanneer hulle voor die goewerneur te staan kom, haal Tertullus eers die heuningkwas uit en smeer dit mildelik om Feliks se mond. Feliks word geprys dat hy vir die Jode rus en vrede gebring het en dat hy baie verbeteringe aangebring het vir die volk. Hy kan nie genoeg beklemtoon hoe dankbaar hulle is vir wat Feliks alles vir hulle gedoen het nie. Dit is natuurlik die toppunt van skynheiligheid want ons wéét mos hoe die Jode die man haat! Na hierdie heuningsmeerdery stel Tertullus sy aanklag teen Paulus: daar is drie ernstige klagte teen hom.

Klag een is dat Paulus skeuring bring in die Joodse geledere regdeur die wêreld. Hy word voorgehou as 'n politieke onrusstoker wat die harmonie binne die Joodse geledere versteur. Hierdie is 'n baie ernstige aanklag, want die Romeine is baie gesteld daarop dat vrede ten alle koste in die Romeinse ryk gehandhaaf moet word.

Klag twee is dat Paulus 'n leiersfiguur is in die “dwaalrigting van die Nasareners.” Hy word met ander woorde beskou as een van die leiers van hierdie sogenaamde afskeidingsbeweging wat baie beslis nie die goedkeuring wegdra van die Joodse Raad nie.

Klag drie is dat hy die Tempel verontreinig het. Die Romeine het die Jode baie vryheid gegee oor hoe hulle die tempel kon inrig volgens hulle eie godsdienstige voorskrifte. Hulle het selfs die reg gehad om enige heiden wat dit sou waag om die tempel te betree en sodoende verontreinig, dood te maak! Volgens Tertullus het Paulus géén eerbied vir die tempel nie.

Tertullus is baie seker van sy saak: “U kan hom gerus maar onder kruisverhoor neem,” sê hy vir Feliks, hoogs tevrede dat hy 'n waterdigte saak het. Hier het Paulus beslis nie 'n kat se kans om los te kom nie!

Feliks knik sy kop in Paulus se rigting en dadelik val Paulus weg deur vir Feliks te sê dat hy vertroue het in die goewerneur se integriteit.

Op die eerste aanklag sê Paulus dat hy slegs twaalf dae in Jerusalem deurgebring het. Dis mos gans onmoontlik om 'n hele stad in beroering te bring in só 'n kort tydjie! Hy het na Jerusalem gekom met één doel voor oë, om God te aanbid. Nêrens het hy met enigeen gestry nie of enigiemand probeer aanhits nie. Hierdie aanklaers het géén bewyse in hierdie verband nie!

Die aanklag dat hy 'n leier in die kerk is, verdedig Paulus gladnie. Hy wil dit egter baie duidelik stel dat hierdie gladnie 'n dwaalleer is soos hulle beweer nie en dat dit volkome in ooreenstemming is met alles wat in die Joodse geskrifte geleer word. Hy glo steeds elke woord wat in die Bybel staan! Hy glo stééds in slegs een God en hy aanvaar die wet en die profete asook die opstanding uit die dood en die finale oordeel van God.

Die derde klag, dat hy die tempel ontheilig het, is óók ongegrond want hy het júís na Jerusalem gekom om Jode te kom help. Hy het 'n kollekte saamgebring om vir die Jode te gee. En sy besoeke aan die tempel was allesbehalwe ontheiliging, dit was in der waarheid deel van 'n reinigingshandeling! En terwyl hy daarmee besig was het die Jode uit Asië hom gegryp en vals beskuldig. Hy wys vir Feliks daarop dat dit eintlik hierdie Jode uit Asië moet wees wat aanklagte teen hom moet bring maar hier is nie 'n enkele een van hulle teenwoordig nie!

Hy sê verder dat die enigste dispuut wat óóit ter sake gekom het, die een is oor die opstanding uit die dood. Die goewerneur kan hom tog nie vonnis oor sy standpunte oor die lewe na die dood nie? Verder is daar absoluut géén grondige regsaak teen hom nie!

Druipstert is die Joodse afvaardiging weg. Paulus bly egter in aanhouding maar hy het 'n groot mate van vryheid. Hy kan selfs besoekers ontvang en hy word toegelaat dat sy mense vir hom sorg.

Die Here het nog 'n groot taak vir Paulus gehad en daarom kon selfs die skerpste advokaat nie hond haaraf maak met sy verhoor nie. Wanneer die Here vir my en jou 'n taak het, sal niks in ons pad staan nie. Dit beteken nie dat ernstige probleme nie sal opduik nie, maar ek hoef my vir géén oomblik te bekommer wanneer die struikelblokke kom nie, want God is in beheer en géén struikelblok is vir Hom te groot nie!

Gebed:

Here, dankie dat ek vanoggend kan weet dat U ook ‘n plan het met my lewe. Gee my die geduld om te wag dat U plan ten uitvoer kom!

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

‘n Warm Patat
21 August, 2026
Die Ark is Gebuit!
20 August, 2026
Luister en Doen
19 August, 2026
Wanneer die Here Praat
18 August, 2026
Om Kinders Groot te Maak
17 August, 2026