Die Siro-Fenisiese Vrou

8 September, 2022
Luister Na Hierdie Dagstukkie Die Siro-Fenisiese Vrou

Markus 7:24-30

VIDEO * OUDIO

Jesus was totaal uitgeput van ‘n nimmereindigende werk. Onthou, Hy was fisies ‘n gewone mens nes ek en jy! Die aaneenlopende stroom van derduisende mense met al hulle skete en kwale wat dag-vir-dag by Hom kom aandring het om hulp, van vroeg soggens tot laat saans, moes ‘n geweldige druk op Hom geplaas het. Boonop was daar nog die Fariseërs en Skrifgeleerdes wat Hom om elke hoek en draai probeer vastrek of van Hom probeer ontslae raak het.

Daar was boonop nêrens ‘n plekkie waar Hy kon gaan wegkruip om net ‘n blaaskansie te kry nie. Oral waar Jesus gekom het, het die mense Hom al geken en Hom oorval. Dus was Jesus verplig om na ‘n gebied te gaan waar Hy totaal onbekend was. Hy vertrek dus na Fenisië, en Hy gaan tuis in ‘n huis iewers in die omgewing van Tirus, ‘n hawestad op ‘n skiereiland aan die kus van Fenisië, sowat 50km. noord-wes van Kapernaum.

Maar selfs hier in die buiteland was daar tóg iemand wat Hom herken het, ‘n Griekse vrou van Siriese afkoms, dus ‘n heidense vrou. Toe sy Jesus herken, was dit soos manna uit die hemel vir haar, want sy was radeloos oor haar liefling-dogtertjie. Die kind was van ‘n onrein gees besete, en niemand kon iets daaromtrent doen nie. Ons weet nie of dit werklik demoon-besetenheid was nie, want alle geestesafwykings was geklassifiseer as besetenheid, selfs epilepsie. Al wat ons met sekerheid weet, is dat hierdie kindjie die slagoffer was van ‘n ongeneeslike toestand.

Die vrou moes sékerlik geweet het van die Joodse taboe, dat Jode nie kon meng met heidene soos sy nie. Sy het dus ‘n groot kans gewaag om Jesus te gaan opsoek. Sy het Jesus gaan opsoek in die huis waar hulle tuisgegaan het en toe haar versoek gerig. Jesus moes asseblief die onrein gees uit haar dogtertjie uitdryf. Die berigte het haar ore bereik dat Hy in Palestina al talle soortgelyke genesings gedoen het. Waarom sou Hy dit nie ook hier in Sirië vir haar kon doen nie?

Jesus se antwoord is verrassend: “Dis nie mooi om die kinders se brood te neem en vir die hondjies te gooi nie.”

Wat wou Jesus hiermee sê? Dat Hy na die volk Israel gestuur was, dié volk waarmee God ‘n verbond gesluit het. Hier moes die groot versoeningsdaad plaasvind, want God het dit so bepaal nog lank voor die grondlegging van die wêreld. Hy het hierdie volk voorberei om Jesus, Sy Seun te ontvang, en nou het die finale voorbereiding gekom tydens Jesus se drie jaar lange bediening. Hierdie volk moes deur Jesus se prediking en bediening mense oplewer wat die Evangelie die wêreld kon indra. Natúúrlik sou die ganse wêreld later daar buite, oftewel die heidendom uiteindelik óók gekonfronteer word met die Evangelie. Die tyd was egter nog nie ryp daarvoor nie, en alles moes eers in Israel gevestig word.

Jesus gebruik beeldspraak om in een kort sinnetjie Sy dilemma aan haar te verduidelik. Haar insig is egter verstommend, want dadelik begryp sy presies waaroor dit gaan. Maar sy is desperaat, en sy laat haar nie hierdeur afsit nie: “Here, die hondjies onder die tafel eet darem van die kindertjies se krummels.” Sy sou selfs tevrede wees met die oorskiet! Inderdaad het sy maar ál te goed besef dat sy nie deel was van daardie uitverkore volk van God nie, en sy erken dat die Jode voorkeur moes kry. Maar ál wat sy wou vra was ‘n ou paar krummeltjies sodat haar dogtertjie gesond kon word. Wou Hy nie asseblief maar kom nie?

As ons terugdink aan die verhaal tot dusver, sien ons net keer op keer die absolute onvermoë van die Jode om te verstaan. Hulle kon net eenvoudig nie eers die mees basiese begryp nie. Hulle kon nie insien wie Jesus werklik was nie en hulle verstand het elke keer toegeslaan wanneer Hy ‘n wonderwerk gedoen het. Hulle het hulle blindgestaar teen die wonderwerke en nie die Persoon agter die wonders raakgesien nie. Selfs die twaalf manne wat Jesus so deeglik opgelei het en wat elke dag saam met Hom al hierdie dinge deurgemaak het, was steeds totaal in die duister. Nou kom hierdie heidense vrou wat nog nooit eers vir Jesus ontmoet het nie en sy het die dinge wat die Jode totaal dom gehad het, verstaan. As ons tussen die lyne lees, kan ons aflei dat dít wat hierdie vrou gehad het, suiwer geloof is!

Jesus het haar huistoe gestuur. Haar versoek was toegestaan en haar dogtertjie was reed genees. Weereens sien ons Jesus se asemrowende almag, want die dogtertjie was gesond sonder dat Hy eers naby haar was!

Ons sit vandag in die wonderlike bevoorregte posisie dat die Evangelie vir ons uitgespel is in die Bybel, nog baie duideliker as wat die Jode óf selfs daardie Fenisiese vrou óóit gehad het. Die vraag is: wat maak ons daarmee? Van kleins af word ons alles geleer, maar hoe sterk is ons geloof werklik? Het ons waarlik ter harte geneem wat ons deur die jare geleer het? Het ons dit ons eie gemaak soos daardie vrou? Ek werk elke dag met hierdie dinge, en ten spyte daarvan is my geloof dikwels maar klein.

Kom ons vertrou God met ons hele hart en wese!

Gebed:

Here, vergewe my dat my geloof soms wankel en dat ek die golwe rondom my raaksien en bang raak. Maak asseblief my geloof sterk, soos dié van daardie Fenisiese vrou!

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Voorberei vir die Dood
26 October, 2026
Voetewas
23 October, 2026
Salf vir Jesus se Voete
22 October, 2026
Jerusalem, Jerusalem!
21 October, 2026
Die Groot Gebod
20 October, 2026