Die Sewende Trompet

10 June, 2020
Luister Na Hierdie Dagstukkie Die Sewende Trompet

Openbaring 11:15-19

Uiteindelik tree die sewende engel na vore en laat sy trompet weergalm. Die sewende trompet word ook met gemengde gevoelens aangehoor. Die eerste ses trompette was die simboliese voorstelling van die oordeelsvoltrekking, en die goddelose mense word elke keer daardeur opgeroep en gewaarsku dat hulle tot bekering moet kom.

Die sewende trompet is egter hééltemal anders: dit verkondig God se koningskap! Ja, natúúrlik weet ons mos dat God alreeds heers van die begin van alle tye af. Maar ons kan dit eenvoudig nie genoeg herhaal nie. En boonop is dit nie almal wat Sy heerskappy erken nie. Om die waarheid te sê, is daar slegs ‘n handjievol mense wat Hom erken as Koning. Die meeste mense beweer dat God nie werklik bestaan nie, of dat Hy kragteloos is en beslis nie die Koning nie. Of dat hulle eerder onder ‘n ander “koning” se heerskappy wil wees, en dat hulle Hom dus verwerp.

Wanneer hierdie trompet blaas word Sy koningskap egter só verhoog dat die hele wêreld dit moet erken. Dit beteken dat dit nie alleen die gelowiges is nie, maar elkeen op aarde, ook die ongelowiges, die afgodsaanbidders en selfs die Sataniste!

Onder die gelowiges is daar groot vreugde as stemme uit die hemel dit uitbasuin: “Die koningskap oor die wêreld behoort aan ons Here en sy Gesalfde, en Hy sal as koning heers tot in alle ewigheid.” Die vier en twintig ouderlinge wat op hulle trone sit voor God, kniel in aanbidding. Simbolies verwys dit natuurlik na my en jou, die gelowiges. Die ouderlinge jubel ‘n lofgebed wat God se koningskap besing, uit. Hulle is baie dankbaar teenoor die Here dat hulle nou Sy groot almag kan aanskou en dat hulle kan sien dat Hy as Koning heers.

Almal is egter nie ewe entoesiasties oor God se koningskap nie, want saam met hierdie trompet van vreugde, is daar ook die geskal van oordeel. Die trompet kondig die finale oordeel aan oor húlle wat hardkoppig geweier het om God se heerskappy te aanvaar. Die nasies, met ander woorde die ongelowiges, is woedend oor die uitslag. Hulle wou eintlik ’n ander leier gehad het! Hulle verkies die Bose as hulle leier! Diegene wat hulle verlekker het om die aarde te vernietig, kry nou ‘n groot verrassing: húlle is nou aan die ontvangkant, en nou word húlle vernietig! Hulle loon is afgryslik.

Al hoe meer mense leef vandag asof daar nooit enige oordeel gaan wees nie. Elke dag word daar gekyk hoeveel hulle hulleself kan verryk, of dit nou finansieel is of liggaamlik. Vir hulle bestaan God nie! En ás hulle nog glo aan God se bestaan, dan is Hy vir hulle slegs Iemand wat die lekker uit hulle lewe wil wegneem en hulle wil beroof van hulle aardse plesier. En om daardie rede wil hulle hulle nie steur aan Hom nie, of wil hulle beslis nie in ‘n verbintenis met God gaan nie.

Die meeste ongelowiges ontken ook die werklikheid van die ewige verdoemenis. Ander verwys spottenderwys daarna as “ou Niek se plek”, asof dit ‘n groot grap is, en net so ‘n fabel soos Kersvader en die tandmuis. Ek het al dikwels gehoor dat iemand traak-my-nie-agtig sê: “Aag, ek gaan seker maar eendag warmplek toe!” Op hulle wag daar egter ‘n bitter onaangename verrassing! Die hel is ‘n konkrete werklikheid!

Maar wat van die gelowiges? Die loon van die gelowiges, aan die ander kant, is wonderlik! Of jy nou ‘n doodgewone Christen is, en of jy ‘n Billy Graham of Andrew Murray is - elkeen kry sy loon. Hierdie loon is deur Jesus Christus verdien aan die kruis.

Na die trompetgeskal gebeur daar ‘n wonderlike ding: God se tempel wat in die hemel is gaan oop sodat die verbondsark sigbaar word. Hierdie is ‘n selfbekendmaking van God. Soos wat die verbondsark in die Ou Testament die simbool van God se teenwoordigheid was, so word hierdie nou ook die simbool van God se ewige teenwoordigheid. Dit is ‘n wonderlike bemoediging vir alle gelowiges, want dit verseker hulle dat die Verbondsgod getrou bly aan al Sy verbondsbeloftes. Inderdaad word die goddeloses wel vernietig, hulle word verteer in die ewige verdoemenis. Die gelowiges word verlos om vir ewig in heerlikheid saam met God te wees!

Sien jy ook so uit na daardie groot heerlikheid om vir ewig saam met Jesus te wees?

Gebed:

Here, dankie vir die wonderlike versekering, die belofte wat U ook vanoggend aan ons as gelowiges gee, dat U getrou bly, en dat ons eendag aan U voete sal kan sit.

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Die Paasmaal
27 October, 2026
Voorberei vir die Dood
26 October, 2026
Voetewas
23 October, 2026
Salf vir Jesus se Voete
22 October, 2026
Jerusalem, Jerusalem!
21 October, 2026