Markus 13:24-37
In die derde deel van die Profetiese rede verskuif die verskriklike verdrukking voor die wederkoms na Jesus se wederkoms sélf. Dit is die dag waarna elke gelowige met groot verwagting uitsien!
Wat gaan op daardie dag gebeur? Die wederkoms word voorafgegaan deur ’n paar gebeure wat beslis nie as “natuurlike verskynsels” beskryf kan word nie: die son gaan verduister en so ook terselfdertyd die maan. Die ganse hemelruim sal ontwrig word, en die sterre sal uit die hemel val. Kort daarna sal Jesus saam met Sy engele in heerlikheid verskyn.
Al die klem verskuif nou van die swaarkry, verdrukking en vervolging – dus menslike ervarings – na Jesus. Nóg ‘n baie groot klemverskuiwing is, dat Hy nou nie meer die Lydende Kneg is nie, maar Sy krag en majesteit word hier uitgebeeld. Tot op hierdie stadium was Jesus die lydende Messias wat gekom het om die mensdom te dien en om Homself as losprys te kom gee vir die verlossing van verlore sondaars. Maar by Sy wederkoms sien ons die ware heerlikheid van die Seun. Inderdaad is dit nog steeds tot voordeel van die mensdom, want Hy stuur Sy engele om al die gelowiges bymekaar te maak uit elke uithoek van die aarde.
Die vraag op elkeen se lippe is natuurlik: wanneer gaan dit gebeur?
Vers 31 beklemtoon dit dat die wederkoms ’n absolute werklikheid is. “Die hemel en die aarde sal tot 'n einde kom, maar my woorde sal beslis nie tot 'n einde kom nie.” Só sê Jesus. Sy woord is betroubaar. Die feit is egter dat die wederkoms 'n baie groot verrassing is en niemand weet wanneer dit gaan gebeur nie. “Slegs die Vader weet,” beklemtoon Jesus dit. Maar Hy lê hulle dit op die harte dat hulle dit binnekort moet verwag. Die “tekens van die tye” sal vir hulle wys dat die wederkoms naby is: “Leer hierdie les van die vyeboom: Sodra sy takke begin sag word en blare uitstoot, weet julle dat die somer naby is. So moet julle ook, wanneer julle hierdie dinge sien gebeur, weet dat dit naby is, voor die deur.” (v. 28)
Jesus wil by Sy volgelinge ’n wederkomsverwagting kweek: “Pasop en wees waaksaam!” Wat beteken dit? Sou dit meen dat hulle moet gaan sit en wag vir die wederkoms om plaas te vind? Nee, allermins! Hulle moet met alle ywer voortgaan met hulle taak. Hy verduidelik dit met behulp van die beeld van ’n man wat weggaan en sy slawe in beheer van die huishouding los. Hulle weet nie wanneer hy terugkom nie. Wat doen die slawe in die tussentyd? Sit hulle maar rond en niksdoen terwyl hulle vir die eienaar wag? Nee, beslis nie! Hulle gaan voort met hulle dagtaak en behartig die huishouding. Wanneer die eienaar die dag onverwags terugkom, sal hy natuurlik alles in orde vind soos wat hy dit graag wil sien. Daar sal mos nie nog ’n laaste-minuut-geskarrel wees om vinnig die plek aan die kant te kry wanneer hy voor die deur stilhou nie?
Op dieselfde wyse moet gelowiges te enige oomblik gereed wees vir Sy wederkoms, want dit kan enige tyd gebeur.
Maar dit was tweeduisend jaar gelede, en ons wag steeds! Baie mense het al moeg geword om te wag. Die probleem is dat baie gelowiges nie meer ’n wederkoms-verwagting het nie en dat jy eerder jou eie dood verwag as die wederkoms van Jesus. Dit maak ’n mens se geloofslewe arm, en dit maak jou verhouding met God arm. Ons moet weer begin om met opgewondenheid uit te sien na Sy wederkoms.
Ons moet egter baie versigtig wees om nie met allerhande soorte spekulasies te kom oor Jesus se terugkeer nie. Ek het al sóveel keer gesien hoe mense sekere Bybelversies manipuleer om ’n sekere datum of tydperk aan die wederkoms te koppel, soos die geval byvoorbeeld is van Desember 2012. En dan is daar boonop nog die Antichris wat geïdentifiseer word en alles wat daarmee saamgaan. Ek wil weer herhaal wat ek hier bo gesê het: Niemand weet wanneer die tyd daar sal wees nie! Jesus maak dit baie, baie duidelik! Die feit is dat ons elke oomblik gereed moet wees en ons moet leef daarvolgens!
Die vraag is: hoe verwag die Here dat ons vandag moet leef vir ’n wederkoms-verwagting? In die eerste plek wil Hy natuurlik hê dat ons volgens Sy wil moet leef. Ons moet die sonde afsterf en in liefde met God en ons medemens leef. Maar die belangrike is dat ons aktief sal wag op Sy terugkeer. Aktief, in die sin dat ons Sy Evangelie sal versprei aan elkeen wat wil luister. Juis omdat Jesus se wederkoms alreeds so naby is, moet daar by ons ’n dringendheid wees om die Evangelie uit te dra. Daar is soveel verlore siele daar buite – soveel mooi mense wat verlore sal gaan as Jesus vandag sou kom!
Wat is die evangelieboodskap wat ons moet verkondig? Natuurlik in die eerste plek van Jesus se verlossing, en dat daardie verlossing slegs in Jesus is en niemand anders nie. Maar ons mag dit ook nie ’n soetsappige boodskappie maak wat impliseer dat as jy in Jesus glo dan sal alles net goed gaan met jou nie. Daar is implikasies as jy Jesus wil volg. Die paadjie mag dalk besaai wees met vervolging en swaarkry. Maar die uiteinde is iets wat ek nooit sal verruil vir enigiets op aarde nie!
Gebed:
Here, hou my asseblief elke dag paraat en gereed vir Jesus se wederkoms. En kweek by my ’n dringendheid om die Evangelie te verkondig te alle tye.