Die Seun in die Tempel

10 December, 2019
Luister Na Hierdie Dagstukkie Die Seun in die Tempel

Lukas 2:41-52

Skaars het ek aan die slaap geraak, of Pa maak my wakker met ‘n “Opstaan! Opstaan!” Flink spring ek uit die kooi, bewend van opgewondenheid. “Ons gaan Wildtuin toe!” borrel dit deur my. Waterval Boven se ysige Hoëveldluggie tintel op my vel as ek in die groen Zephyr Zodiac ingebondel word. Ure later - dis nog steeds pikdonker - wys Ma vir my die silhoeët van Leeukop teen die lug wat begin verkleur. Ek spring op en af van opgewondenheid: dit beteken dat die Wildtuin nou naby is! By Numbi hek staan die tou motors kilometers ver en wag om in te gaan. Ek spring uit en hardloop langs die ry karre af. Die heerlike geur van die Bosveld vul my longe. Ouma haal ‘n koekblik uit, dis propvol toebroodjies, hardgekookte eiers en wors. Ons brêkfis om die tyd om te kry. Die stomende koffie uit die fles gee ‘n heerlike gloed in my maag.

Na ‘n opwindende dag van leeus en olifante en allerhande wonderlike gediertes, kom ons laatmiddag op Onder Sabi aan. Ons word begroet deur ‘n kamp met rye en rye vaalgroen tente. In die middel knetter die reuse kampvuur van Hardekoolstompe alreeds vrolik. Weldra kom almal in die kamp rondom die gesellige vuur sit en gesels. Ondervindinge van die dag word uitgeruil, en mettertyd word rooiwarm kooltjies uitgekrap om ‘n worsie te braai. En as die leeu brul, dan bly almal stil om eers te luister...… Ai! Nostalgiese tye!

Tweeduisend jaar vroeër was die opgewondenheid in die dorpie Nasaret ewe groot: Dit was tyd vir die jaarlikse Paasfees, en vir weke lank al was Maria besig om voorbereidings te tref. Die donkie se saalsakke word gepak met padkos en kooigoed. En dan, een oggend vroeg-vroeg word daar in die pad geval. Ma ry op ‘n donkie en die jong seun Jesus hardloop opgewonde saam met sy maats vooruit op die lang pad na Jerusalem. Hoe verder hulle vorder, hoe groter raak die groep. Nefies en niggies wat mekaar ‘n jaar laas gesien het koek saam, totdat dit ‘n reuse fees word van saamsing en skerts en speletjies speel.

Vir die twaalfjarige Jesus is daar egter ‘n ander soort opgewondenheid: Volgende jaar, op dertien, word hy ‘n “seun van die wet,” ‘n stappie nader aan Sy groot doel hier op aarde.

Die reis duur byna 'n week voordat hulle in Jerusalem aankom. Wanneer die ander kinders in Jerusalem speel en kattekwaad aanvang, hang die jong seun, Jesus rond by die groot leermeesters, en Hy drink elke woord in wat hulle sê. Natuurlik steur die grootmense hulle nie aan wat die kinders doen nie, want die hele spul kuier mos saam. En so vertrek Josef en Maria terug na Nasaret wanneer die fees uiteindelik verby is, salig onder die indruk dat Jesus tussen die bondel nefies en niggies is.

Maar Jesus is elders, tussen die ringkoppe met hulle grys baarde. Nou is Hy nie meer die een wat aan die ou manne se lippe hang nie, maar húlle hang aan Sý lippe, want sulke wysheid het hulle nog nooit uit die mond van ‘n jong seuntjie gehoor nie! Skielik word die bordjies verhang, want die leermeesters word nou die leerlinge en Jesus die Groot Leermeester wat almal oortref!

Die res van die verhaal het ons al oor en oor gehoor, van hoe Maria later begin agterkom het dat Jesus nie meer by die groep is nie, en dat hulle begin soek het, en Hom uiteindelik drie dae later eers kon opspoor waar Hy steeds besig was om met die Skrifgeleerdes te gesels oor “die dinge van My Vader.” Wanneer Maria Hom aanspreek oor hierdie “onverantwoordelike” ding, is die heel eerste woorde wat Lukas van Jesus aanteken: “Waarom het u na My gesoek? Het u nie geweet dat Ek in die huis van my Vader moet wees nie?” Hiermee wil Lukas die sluier lig oor wat ons van Jesus te wagte moet wees in die res van die verhaal. Nie alleen sien ons Jesus se wysheid en toewyding en die vooruitskou van Sy onderrig wat later sou kom nie, maar ons sien ook dat Hy Hom aan die wil van God onderwerp.

Twintig jaar later word hierdie onderdanigheid aan God tot die uiterste toe beproef wanneer Hy die laaste treë moet stap na die kruis, daardie aand voor die dag van verskrikking, toe Hy in doodsangs gebid het dat die Vader asseblieftog die gruwel wat op Hom wag sou ter syde sou stel. Maar in dieselfde asem het Hy Hom ten volle aan die wil van die Vader oorgegee, want dit was die enigste weg waardeur Hy versoening kon bewerk vir die mens wat verlore is in sonde.

Nêrens in die Bybel lees ons enigiets meer oor Jesus se jeugjare nie, buiten dat Lukas sê dat Hy aan sy ouers onderdanig was, en dat Hy in groot guns was by almal om Hom. Alhoewel Hy aan sy ouers gehoorsaam was, was God die prioriteit nommer een in Sy lewe.

Die vraag is: waar lê óns prioriteite? Is dit my werk of my vriendekring? Dalk my sport of stokperdjie? Niemand, nie eers ons eie gesin, mag prioriteit inneem bo die Here nie. Rondom Hom moet ons al die ander dinge beplan.

Gebed:

Here, ek moet vanoggend bely dat daar so baie ander dinge in my lewe is wat voorrang geniet. Leer my asseblief om U voorop alles te stel.

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Eensgesindheid
16 January, 2026
Die Groot Geskenk
15 January, 2026
Genade en Vrede!
14 January, 2026
Die Nagmerrie Gemeente
13 January, 2026
Briewe aan ‘n Gemeente
12 January, 2026