Die Reddingsboei

25 September, 2025
Luister Na Hierdie Dagstukkie Die Reddingsboei

Hebreërs 2:1-4

VIDEO | LUISTER

Stel jouself voor - jy is op ‘n salige vakansie by die Victoria waterval. Alles is só idillies en jy het nie ‘n bekommernis in die wêreld nie! Iemand nooi jou uit vir ‘n bootrit op die magtige Zambesi. Jy bruis behóórlik van opgewondenheid, want die rit neem jou op ‘n opwindende vaart bokant die waterval tot byna op die randjie van die afgrond. Die skipper verseker jou dat absoluut niks verkeerd kan loop nie. Dan skerts hy al laggende dat sy boot nog nooit oor die rand van die waterval gedryf nie!

Die kragtige enjins van die boot brul as hy die groot rivier aandurf. Nader en nader kom hy aan die waterval, en jy hoor die magtige donder van waar miljoene liters water oor die afgrond tuimel in ‘n digte rookwolk van waterdamp. Jy word met groot ontsag vervul deur hierdie onbeskryflike natuurwonder. Jy leun behaaglik op die tou-reëling van die boot en vergaap jou aan die asemrowende gesig hier voor jou.

Skielik gee die tou mee - jy word yskoud as jy voel hoe alles onder jou inmekaar tuimel. Jy verloor jou balans - gryp na iets - daar is niks! Hulpeloos stort jy na benede. ‘n Ysige skok tref jou as jy in die onstuimige water beland. “Help!” wil jy nog skree, maar die koue water ontneem jou van jou stem. Magteloos reik jy na die boot, maar dit is ‘n vrugtelose poging. Met angs moet jy toekyk hoe jy al verder van die boot af wegdryf, ten spyte van jou verbete pogings om te probeer swem. ‘n Gladde klip kom verby - jy gryp daarna, maar dit glip deur jou vingers. Jy voel hoe die donderende waterval jou nader suig. ‘n Takkie doem op uit die niet - dit verkrummel as jy waansinnig met altwee hande daarna gryp. “Dis verby……. verby met my!” snik jy histeries terwyl die waterval grynslaggend nader kruip.

Met ‘n swaar slag land daar skielik iets in die water langs jou. ‘n Reddingsboei! Dankbaar gryp jy dit vas en klou verbete terwyl jy ingekatrol word na die veiligheid van die boot. Trane van dankbaarheid stroom oor jou wange - jy is gered van ‘n gewisse riller-dood. “Dankie, dankie, dankie!” hou jy aan prewel, terwyl jy aan die reddingsboei klou, en die kragtige enjins van die boot hier by jou hoor dreun.

n Rillerstorie? Miskien, maar soveel mense beleef hierdie situasie in hulle geestelike lewe. Etlike lesers van hierdie dagstukkie vandag, is drenkelinge in ‘n klaarblyklik-hopelose situasie, waar dit vir hulle voel asof hulle ingesuig word deur ‘n donderende waterval van verlorenheid - dalk is jy een van hulle! Elke halmpie word na gegryp - enige ding wat dalk kan red, maar dit is hopeloos, en ‘n grusame einde grynslag vir hulle…...

Maar ……. daar is ‘n reddingsboei - Hebreërs 2:1! “Daarom moet ons soveel te meer aandag gee aan dit wat ons gehoor het, sodat ons nie dalk wegdryf nie.” Waarna gryp ek? Hoe lyk hierdie reddingsgordel? As jy in die moeilikheid is, gryp jy na enigiets wat verbykom. Baie mense gryp na die wettisisme van die Ou Testament: Ek móét kerk toe gaan; Ek móét Bybel lees; Ek móét bid; Ek móét my tiende vir die kerk gee; Ek móét die tien gebooie onderhou tot in die fynste detail; Ek móét iets gee vir bedelaars - alles baie mooi en edele dinge. Maar dit is soos gladde klippe en bros takkies waarna jy vergeefs gryp! Hulle glip deur jou vingers of verkrummel bloot wanneer jy daarna gryp.

Die probleem is dat hierdie ‘n grashalmpie-godsdiens is, want met die beste bedoelings in die wêreld kan jy nie eers naastenby God se wil uitleef nie. Elke oortreding en elke ongehoorsaamheid móét regmatig deur God gestraf word! Die kwelvraag is dan: wat is die antwoord? Is daar ooit enige redding? Alles lyk so hopeloos en verlore!

Die antwoord lê opgesluit in die Woord van God. Juwele uit die Woord is soos reddingsboeie - woorde soos wat byvoorbeeld opgeteken is in Joh. 3:16. Gryp daarna en hou dit vas! Wanneer iemand Jesus se geskenk van saligheid aanvaar, dan gebeur daar skielik dinge: Lewens word verander, en waar daar wanhoop was is daar skielik hoop. Nou is dit nie meer jy wat jouself probeer red met takkies en gladde klippe nie, maar Jesus wat jou red. Al wat jy moet doen is om Sy reddingsboei vas te gryp - Hy doen die res.

Nou word die lysie van “Móét -doen dinge” hier bo “Wíl-doen dinge!” Skielik is dit lekker om kerk-toe te gaan en Bybel te lees en te bid. Nou doen ek die dinge nie meer uit pligsbesef nie, maar omdat ek wíl! Skielik gee ek nie meer my tiende omdat ek móét nie, maar omdat dit deel van my liefdeslewe saam met Jesus geword het. Weldra kom ek agter dat ek nie meer die drenkeling in die verhaal is nie, maar dat ek deel geword het van die span mense wat op die boot staan en reddingsboeie vir ander drenkelinge gooi!

My dringende vraag aan jou vandag is: Waar staan jy op hierdie oomblik? Is jy nog ‘n drenkeling wat magteloos na strooihalmpies gryp, of deel jy al sélf reddingsboeie uit?

Gebed:

Here, dankie dat ek vandag met dankbaarheid kan getuig dat U ook vir my ‘n reddingsboei gegee het en my gered het van ‘n gewisse dood. Help my om met vrymoedigheid reddingsboeie aan ander uit te gooi!

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Die Ark is Terug
24 August, 2026
‘n Warm Patat
21 August, 2026
Die Ark is Gebuit!
20 August, 2026
Luister en Doen
19 August, 2026
Wanneer die Here Praat
18 August, 2026