Amos - Inleiding
Ons begin ‘n nuwe reeks oor die boek Amos, een van die Ou Testament se sogenaamde “klein profete.” Maar voordat jy hierdie skrywe sommer onder die mat invee oor dit “outyds” is, wil ek sommer met die intrapslag sê, dat al is hy ‘n Ou Testamentiese profeet, is sy boodskap vir ons vandag vars en nuut. En al was hy dan ook ‘n doodgewone plaasboer, is sy preke en boodskap uit die boonste rakke, nes die van ons geliefde plaasboer-prediker Oom Angus Buchan!
Amos was egter nie alleen die prekende plaasboer nie, hy was ook die plaaslike koerant vir die mense van sy tyd, ‘n koerant wat aktueel, vars en nuut was, en die nuus van die volke rondom Israel vir sy lesers weergegee het.
Sou jy vandag ‘n koerant oopmaak en deur die opskrifte blaai, kom jy sommer dadelik agter wat die politieke of sosiale agtergrond van die redakteur is. Die redakteur wat pro-regering is sal poog om positiewe berigte oor die regeringsaktiwiteite te plaas, en die opposisie afkraak en verkleineer. Die redakteur wat weer uit die oogpunt van die opposisie skryf, sal rede soek om die regering te piets net waar hy kan. Alles wat verkeerd en korrup is word uitgesnuffel, en die redakteur gee nie op voordat geregtigheid geskied nie. Die benaming: “Nuushond”, is baie gepas, want hierdie manne en vroue is dikwels soos bloedhonde op ‘n spoor!
Amos se “koerant” was, om die minste te sê, opwindend, en het sy lesers aangegryp. Mense kon nie wág om die volgende uitgawe te hoor nie. Hy het vir hulle vertel van al die dinge wat aangaan rondom Israel, en hy het dit ingevryf hoe korrup hulle bure werklik was. Dit het natuurlik die mense geskok, maar dis mos wat jy graag wil lees in ‘n koerant, daardie skokkende dinge van jou teenstanders! Amos het egter nie net van die slegte bure geskryf nie, hy het óók oor Israel geskryf, en soos dit ‘n goeie koerantman betaam, het hy die korrupsie in hulle eie geledere self óók tot op die been oopgevlek.
Amos het egter nie maar sy eie kop gevolg nie. Daar was ‘n baie groot faktor wat sy beriggewing beïnvloed het. Amos het nie maar sy eie oordeel uit menslike perspektief gevel nie, maar hy het dit beoordeel uit God se perspektief. En dit maak Amos vir ons vandag net so aktueel as wat dit was in sy eie tyd. Amos se “koerant” kan jy gerus lees, want die nuus is vandag steeds nét so vars en nuut en aktueel as byna 3000 jaar gelede toe die boek geskryf is.
Amos het geleef in die tyd van koning Jerobiam II, dus so ongeveer 760vC. Dit was ‘n tyd van vrede en voorspoed. Die groot moonthede soos Assirië en Damaskus was uitgebaklei teen mekaar, en hulle het nie lus gehad om Israel te kom karnuffel nie. Israel het ‘n bloeitydperk beleef, en die rykes het nog ryker geword van al die welvaart wat die land beleef het. Die droewige deel was egter dat die armes al hoe armer geword het. Daar was dus ‘n duidelike skeidslyn tussen ryk en arm. Daar was mense wat groot mag vir hulleself verwerf het, en dan was daar die werkersklas wat vir ‘n hongerloon vir hulle geswoeg het. Hierdie dinge het Amos gegrief, en hy het baie duidelik vir hulle gesê dat jy nie jou mag so durf misbruik nie.
Amos wil dit egter ook duidelik maak dat God se heerskappy strek, nie alleen oor Israel nie, maar ook oor die res van die wêreld. Die ongeregtigheid en onmenslikheid van die volkere rondom Israel, word ook deur God raakgesien. Hy is God oor alles en almal, en Israel is maar net ‘n deeltjie van die groot prent. Hy het mag oor die ganse heelal. Nogtans maak Hy spesiale bemoeienis met hierdie nietige volkie, Israel. Hy lei hulle uit Egipte se slawerny na die beloofde land, en Hy kies hulle uit bo al die magtige nasies as Sy volk.
Maar God verwag van daardie volkie om ‘n lewensstyl te handhaaf wat pas by hulle verkiesing. Die ongeregtigheid wat deur die volk vloei, sal nie geduld word nie. Mense moet leer om mekaar met respek te behandel, en selfs die magtiges moet van hulle troontjie afklim en die arme ouens daar onder behandel soos wat God voorskryf.
Amos wil dit egter ook beklemtoon dat God nie ongenaakbaar is nie. Hy is ‘n liefdevolle, genadige, vergewende en barmhartige God. Hy pleit by Sy volk om tot inkeer te kom. Oor hulle liederlike dade moet hulle veroordeel word, maar as Amos vir hulle pleit, sal God selfs besluit dat Hy die oordeel sal ophef.
Amos se werke is eers baie jare later op papier vasgelê, en tydens die ballingskap kon die Israeliete dit vir die eerste keer lees as vertroosting. Daar sien hulle die wonderlike beloftes van herstel en heropbou.
Klink hierdie dinge nie alles bekend nie? Is dit nie maar wat in en om ons land aangaan nie? Amos is ‘n tydlose boek, geskryf vir die Israeliete van 760vC, maar ook vir my en jou vandag in 2020nC.
Gebed:
Here, dankie vir profete soos Amos, wat die Woord van God vir ons aktueel en vars en nuut maak.