Die Plaasvervanger

29 April, 2025
Luister Na Hierdie Dagstukkie Die Plaasvervanger

Handelinge 1:9-26

VIDEO | OUDIO

Petrus se maag is op 'n knop getrek van pure senuwees. “Doen ons ooit vandag die regte ding?” wonder hy. Maar dan skud hy die gedagte weer af: “Ja, dit kom beslis van God af – vandag moet ons 'n nuwe apostel kies!”

Die leierskap lê nou vierkantig op Petrus se skouers. Na al die teleurstellings en trane en sy besef dat hy nie waardig is nie, is dit tóg uiteindelik hy wat die leiding moet neem. Hoe gaan hy as eenvoudige visserman wat dinge sê voordat hy gedink het, hierdie kudde van Jesus oppas en lei?

Terwyl gelowiges van regoor Jerusalem en die omgewing begin bymekaarkom, gaan Petrus se gedagtes weer terug na die afgelope twee maande se gebeure. Hoe wonderlik was dit nie elke keer as Jesus aan hulle verskyn het nie. Hoe het sy hart nie gebrand met vreugde by elke geleentheid nie.

En toe kom daardie dag, veertig dae na die verskriklike Vrydag (waarvan hy liewer wil vergeet), die dag toe die Here in die hemel opgevaar het. Terwyl hulle almal daar op die Olyfberg bymekaar was, het Jesus vir hulle gesê dat alle mag aan Hom gegee is. En toe gee Hy hulle die opdrag om na al die nasies toe te gaan en dissipels te maak van ál die mense.

Petrus kan nog nie mooi hierdie opdrag kleinkry nie – beteken dit dan dat heidene óók ingesluit is in die opdrag? Dit kan vir hulle gróót probleme beteken, want wat van al die reinheidswette? Boonop is nie een van daai heidene besny nie - sou dit dan beteken dat hulle almal eers besny moet word? Petrus skud die gedagte van hom af – dit is iets waaroor hy hom later sal bekommer. Nou is daar eers 'n ander dringende saak wat afgehandel moet word.

“Shalom!” groet Petrus die hóéveelste gelowige wat aankom. Ja, so het Jesus hulle ook vir oulaas gegroet daar op die berg. En Hy het daardie dag kort voor Sy vertrek vir hulle belowe dat Hy saam met hulle sal wees tot aan die voleinding van die wêreld. En Hy het ook vir hulle belowe dat die Heilige Gees oor hulle sal kom en dat Hy vir hulle krag sal gee om Sy getuies te wees in Jerusalem, Judea en Samaria en tot aan die uithoeke van die wêreld.

“Shalom! Shalom! Hartlik welkom!”

Ja, en toe het Hy in die hemel opgevaar. Hulle monde het oopgehang toe Hy stadig in die lug begin opstyg. Op daardie oomblik het Hy vir hulle gelyk soos 'n magtige Koning wat vertrek na Sy koninkryk. Al hoër en hoër het Jesus opgestyg, totdat 'n wolk tussen Hom en hulle ingeskuif het en Hy in die hemel verdwyn het.

En toe skielik, asof van nêrens verskyn die twee manne in spierwit klere voor hulle. Hierdie “vreemdelinge” het soos hemelse wesens gelyk en hulle het vir die verbaasde dissipels gevra waarom hulle dan so in die hemel staan en opkyk? Toe sê die twee dat Jesus eendag weer gaan terugkom nét soos wat Hy die hemel in opgevaar het.

Hulle sou almal na Galilea toe gegaan het waar dit baie veiliger was, maar Jesus het hulle beveel om in Jerusalem aan te bly. Dus het hulle daardie middag afgestap na Jerusalem en daar bymekaar gekom en saam gebid en gesels oor al die dinge wat met hulle gebeur het. Die elf manne was daar asook 'n paar vroue, onder wie Jesus se moeder. Selfs Jesus se broers, wat aanvanklik Sy bediening so heftig teengestaan het, was daar saam met hulle. Hoe héérlik was dit nie om almal so saam te kon wees nie!

Petrus staan op as die laaste paartjies instap: “Ons het vandag 'n baie belangrike saak om af te handel.” Jy kan 'n speld hoor val en alle oë is op Petrus gerig. “Soos julle weet is Judas nie meer met ons nie. Die hartseer is dat hy een van ons was – hy was gekies om 'n aandeel in ons werk te hê, maar hy het ons Meester verraai. Hy het tragies gesterf deur sy eie toedoen.”

In detail vertel Petrus van presies hóé grusaam Judas se dood was en dat dit immers jare gelede al so voorspel was deur die profete, by monde van niemand anders nie as Dawid homself in sy Psalms. Almal gee hulle misnoë te kenne met 'n ge-kopskud en 'n ge-tongklap.

“Maar nou moet daar iemand anders in sy plek aangestel word as apostel, iemand wat 'n getuie was van Sy opstanding en wat die hele tyd saam met ons Here Jesus was tydens Sy optrede.”

Twee manne word uitgesonder as goeie kandidate vir die amp. Dan lei Petrus die vergadering om saam te bid oor die saak, want hy het mos van Jesus geleer hoe belangrik gebed is, veral vir so 'n belangrike besluit. Mattias word, deur die lot te werp, aangewys as die apostel in Judas se plek.

Simbolies is dit belangrik dat die getal twaalf gehandhaaf word, nie alleen om al twaalf stamme van Israel te verteenwoordig nie. Dit dui nou op die volledige getal van al die nasies! Niemand is uitgesluit uit God se genade nie!

Petrus se leierskap het met hierdie vergadering sterk na vore getree. Maar hoe het dit dan gebeur dat so 'n patetiese mens in so 'n dinamiese leier kon verander?

Bloot sy verhouding met Jesus! Later sou die Heilige Gees sy leierskap nog verder versterk, maar Petrus se innige, eerlike verhouding met Jesus het hom alreeds totaal verander.

Hoe lyk my verhouding met Jesus? Is dit maar net 'n besef dat Jesus my Verlosser is? Of is dit 'n lewende wandel elke dag met Hom?

Gebed:

Here, ek wil asseblief 'n ware lewende verhouding met U hê. Ek smag daarna om elke oomblik van die dag aan U voete te wees!

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Die Ark is Terug
24 August, 2026
‘n Warm Patat
21 August, 2026
Die Ark is Gebuit!
20 August, 2026
Luister en Doen
19 August, 2026
Wanneer die Here Praat
18 August, 2026