Die Pad na Golgota

8 April, 2020
Luister Na Hierdie Dagstukkie Die Pad na Golgota

Lukas 23:26-32

Hier op die plaas waar ons bly, hoog in die heuwels, buite Ballito, beleef ons dikwels grys dae. Dis gewoonlik vroeg in die oggend, wanneer 'n grys wolkkombers laag oor die heuwels hang en die klowe onder ons vul met 'n miswolk. Vanoggend hang hier ook ‘n grys misbank oor my, wanneer ek skryf van die optog na Golgota. Daardie dag was egter grys op ‘n héél ander manier. Die grys kombers daardie dag was nie wolke nie, maar die sonde van die wêreld wat swaar gehang het oor al die gebeure.

Na Jesus se uitmergelende verhoor, waar Hy letterlik van bakboord na stuurboord gestuur is, en toe boonop nog gegésel, gespot, geslaan en verneder is, lei hulle Hom weg na die kopbeenplek om gekruisig te word. Dit was tradisie dat die veroordeelde sélf die dwarsbalk van sy kruis moes dra. Teen hierdie tyd was Jesus egter al so swak en uitgeput van al die fisiese en geestelike mishandeling, dat Hy net eenvoudig nie meer daardie swaar houtbalk waaraan Hy vasgespyker moes word, kon dra nie. Iemand anders word opgekommandeer deur die soldate om dit vir Hom te dra.

Daar is oor die jare al baie gegis rondom hierdie Simon van Sirene wat Jesus se kruis moes dra. F A Venter het jare gelede 'n skitterende roman geskryf oor hom getiteld: “Man van Sirene.” Dit was onlangs op RSG uitgesaai. Sirene was ‘n stad in Libië, in Noord Afrika, dus kan ons met veiligheid aanneem dat hy doodonskuldig op reis was deur Jerusalem. Toevallig (?!) beland hy in die optog waar Jesus na Golgota geneem word, en ‘n soldaat gryp hom. Wat moes in die arme man se kop omgegaan het? As dit jy was, wat sou jy gedink het? Die arme Simon het nie ‘n keuse gehad nie. Hy moes net eenvoudig deel word van al hierdie gebeure, al was hy dalk nie eers ‘n Jood nie. Ek sou dink dat hy hierna dadelik sy goedjies sou pak en so gou moontlik verkas terug na Sirene, maar blykbaar het dit nie gebeur nie. In Markus 15 word na hom verwys as die pa van Aleksander en Rufes. Dit wil by ons die vermoede laat ontstaan dat hy later ‘n bekende persoon geword het in die gemeente, en dat hierdie deelname wat hy gehad het aan Jesus se kruisiging, so ‘n groot invloed op hom gehad het, dat hy gelowig geword het.

Lukas skryf dat daar ‘n groot skare mense was wat kom kyk het wat aangaan. Jesus se teregstelling was beslis baie groot nuus! Derduisende mense het met Hom te doen gehad, en het Hom dalk eerstehands leer ken, en nou wil hulle kom kyk wat gebeur. Dit is so ironies dat die mense wat enkele dae tevore nog aan Jesus se lippe gehang het, en elke woord van Hom ingedrink het, nou slegs nuuskieriges is, of dalk nog erger, deel van die groot skare wat saamgeskreeu het “Kruisig Hom, kruisig Hom!”

Maar daar was ook die vroue wat simpatie met Jesus gehad het, en geloop treur en huil het. Was hulle vroue wat tot ander insigte gekom het? Of was hulle dalk van die vroue wat alreeds lankal besef het wie Jesus werklik is? Lukas sê nie. Wat ons wél in sy verhaal sien, is dat Jesus baie jammer gevoel het vir hierdie vroue. Selfs terwyl Hy in die verskriklikste pyn en nood verkeer het, en op pad was na die aller-aakligste dood, het Jesus steeds tyd gemaak om met hierdie vroue te praat.

Enkele dae tevore het Jesus triomfantlik die stad Jerusalem binnegery, maar toe voorspel Hy die verskriklike oordeel oor die pragtige stad. Nou is Hy op pad uit die stad uit, en weereens bevestig Hy daardie oordeel. In Sy gesprek met die vroue lê Hy klem op die verskrikking van daardie oordeelsdag. Uit die geskiedenis leer ons dat dit 40 jaar later plaasgevind het, en dat slegs ’n puinhoop oorgebly het van Jerusalem en die pragtige tempel!

Wanneer 'n grys wolkkombers somber oor jou hang, en swaar reën uitsak oor jou, dan voel jy gewoonlik baie mistroostig! Maar dan moet jy besef dat die reën diep in die grond indring en stikstof en lewe gee vir die plante. Dit is bitter nodig, want daarsonder sal alles doodgaan.

Op dieselfde wyse het daardie verskriklike gebeure daardie dag by die kopbeenplek, wat so neerdrukkend was, lewe gebring. Die wonderlike reën van God se genade het nie alleen lewe gebring vir die huilende vroue wat Jesus gevolg het nie, maar dit het ook lewe gebring vir Simon van Sirene en die misdadiger wat langs Jesus gekruisig is. Dit het ook lewe gebring vir die splinternuwe kerk wat kort daarna ontstaan het en dit gee steeds vandag lewe vir jou en my.

Deur te sien op die kruis, is daar lewe en heil, is daar lewe vir jou en vir my”, sing ons. Ja, ons kan dit uitjubel, want Jesus het oorwin! Hy het al die verskriklike aanslae van die duiwel omskep in die grootste triomftog van alle tye. Jerusalem is wél in 70nC verwoes, maar in Openbaring lees ons van die nuwe, wonderlike Jerusalem wat gaan kom, en ek en jy gaan deel hê aan hierdie stad van goud en edelstene.

Gebed:

Here, dankie vir die wonderlike troos wat U vir ons gee deur U Woord. Dankie dat ons kan uitsien na ‘n wonderlike ewige lewe, die lewe wat U Seun Jesus vir ons (baie duur) gekoop het.

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Samuel Salf Dawid
9 September, 2026
Gehoorsaamheid
8 September, 2026
Saul Verloor Vertroue
7 September, 2026
Samuel se Afskeidsboodskap
4 September, 2026
Saul se Vuurdoop
3 September, 2026