Die Pad na Emmaus

13 April, 2020
Luister Na Hierdie Dagstukkie Die Pad na Emmaus

Lukas 24:13-35

Twee droewige manne is op pad. Dit is Sondagmiddag, en hulle harte is baie swaar waar hulle loop en gesels oor die verskriklike en uiters onverstaanbare dinge wat die afgelope paar dae gebeur het. Eers was dit Jesus, die Meester wat hulle die afgelope ruk gevolg het, wat deur die Joodse leiers gevang en tereggestel is, en toe, vanoggend die verskriklike ontstellende nuus dat Sy liggaam nou ook onverklaarbaar verdwyn het. Hulle verstaan hierdie dinge net eenvoudig nie. Dit maak gládnie sin nie! Niks maak meer sin nie!

Kleopas en sy vriend het sulke hoë aspirasies gehad. Hierdie Messias was die Een - so het hulle tenminste gedink - wat hulle sou verlos van die Romeinse oorheersing. Daardie dag toe hulle Jerusalem triomfantlik binnemarsjeer het - was dit nie wonderlik nie! Maar toe begin dinge skeefloop, en die kerkleiers het al heftiger teen die Messias begin reageer.

Enkele dae later verkrummel al hulle drome toe Hy gevange geneem word en soos ‘n misdadiger aan die vloekhout-kruis sterf. En nou, vanoggend se ontstellende gebeure! ‘n Paar vroue het vertel dat hulle engele gesien het wat glo vir hulle sou vertel het dat Jesus opgestaan het. Verbeel jou! Hulle was seker so ontsteld oor die leë graf dat hulle vir hulle dinge begin verbeel het! Petrus en Johannes het ook gaan kyk na die graf, en die onverklaarbare ding is dat hulle die doeke gekry het waarin Jesus toegedraai was. Waarom sou enigiemand die liggaam vat sonder die doeke? Hulle kan dit net eenvoudig nie verstaan nie!

Hierdie dinge het die twee manne só ontstel dat hulle besluit het om liewer uit Jerusalem pad te gee. Hulle bestemming is die dorpie Emmaus, sowat drie ure se stap van Jerusalem af. Hulle het alle hoop verloor, en nou onttrek hulle hulle maar aan die groep gelowiges wat nog hardnekkig vasbyt.

En toe kom Jesus by!

God het eers die twee manne se oë toegemaak sodat hulle nie vir Jesus herken het nie, en toe Hy hulle uitvra oor die bekommernis op hulle gesigte, wil hulle weet of Hy dan die enigste vreemdeling in Jerusalem is? Almal weet tog van die afgelope naweek se gebeure! Dit was voorbladnuus in al die koerante!

Maar weldra kom hulle agter dat hierdie “Vreemdeling” baie meer weet as wat Hy wil voorgee! Hy verduidelik vir hulle uit die voorgeskiedenis presies hoe hierdie Messias-ding werk, en waar hulle Meester in die prentjie ingepas het. Hy verduidelik vir hulle van al die profete se voorspellings en hoe dit heengewys het op Jesus, en dat Hy waarlik die Messias, die Christus is. Toe hulle weer sien, is dit al skemer, en toe is hulle ook al by Emmaus.

Dan toets Jesus hulle en Hy maak asof Hy verder wil gaan. Hulle slaag die gasvryheid-toets, en die “Vreemdeling” word uitgenooi om saam te kom eet en sommer daar te oornag ook by hulle. Wat was hulle motief? Was dit maar net gasvryheid wat hulle gedring het om Hom uit te nooi? Of was dit dalk omdat hulle nog meer wou weet, nóg wou hoor van hierdie wonderlike dinge wat hierdie vreemde Man vir hulle vertel het? Wat ookal die geval, hierdie Man het veroorsaak dat hulle harte warm geword het, letterlik gegloei het, want skielik het hulle begin verstaan van Jesus.

En dan gebeur nog ‘n onverstaanbare ding: Jesus is hulle gas vir die aand, maar aan tafel tree Hy op as die Gasheer! Hy is die Een wat die brood breek en uitdeel. En skielik herken hulle Jesus! Die skille val letterlik van hulle oë af. En dan eensklaps verdwyn Hy net. Maar Jesus se Goddelike teenwoordigheid by hulle, al kan hulle Hom nie meer sien nie, versterk hulle geloof in só ‘n mate, dat hulle net daar en dan opspring en haastig in die donker nag die pad terug na Jerusalem toe hardloop. Hulle móët hierdie nuus gaan deel met die ander dissipels!

Hulle is opgewonde! Sulke wonderlike nuus mag nie eers bly tot die volgende dag nie. Terug in Jerusalem word hulle begroet met ‘n ewe-opgewonde dissipelkring: “Die Here het waarlik opgestaan!” word hulle meegedeel, nog voor hulle eers hulle eie wonderlike verhaal kan vertel. Petrus vertel hulle hoedat Jesus aan hom verskyn het!

Dit is alreeds 2000 jaar later, en ek is steeds opgewonde oor Jesus se opstanding. Daardie “kraakvars” nuus word steeds opgewonde oorvertel deur ‘n skare van gelowiges. Dit behoort by elkeen van ons ‘n obsessie te wees om dit oor en oor te vertel aan almal wat oor ons pad kom.

Gebed:

Here, ek is vanoggend opgewonde saam met die Emmausgangers oor U opstanding. Jesus leef waarlik! Ek wil dit uitskreeu vir die ganse wêreld!

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Die Ark is Terug
24 August, 2026
‘n Warm Patat
21 August, 2026
Die Ark is Gebuit!
20 August, 2026
Luister en Doen
19 August, 2026
Wanneer die Here Praat
18 August, 2026