Johannes 7:40-52
“Nee, ek lees nie die Ou Testament nie!” sê sy vir my. “Die ou dinge het mos verbygegaan! Dis net die Nuwe Testament wat vandag van toepassing is op ons gelowiges!” ‘n Frons vorm op haar gesig: “En boonop is die Ou Testament tog net propvol geweld! Al daardie afgryslike, wrede verhale van bloedvergieting en oorlog en moord! Dit gee my koue rillings! Ek het eenmaal gehoor dat die Ou Testament die verhaal is van die Jode. Dit het geëindig die dag toe hulle vir Jesus verwerp het, dus hoef ons net die Nuwe Testament te lees. Niks in die Ou Testament is in elkgeval meer op ons van toepassing nie!”
Ek staar haar verstom aan, ek het nie woorde nie! Haar redenasie is só ver van die waarheid af!
Sommer in die héél eerste hoofstukke van die Ou Testament lees ons al van moord en doodslag. Ons sien hoe Kain sy eie broer, Abel vermoor net omdat hy jaloers was omdat die Here Abel se offer aanvaar het en nie syne nie. Enkele verse later sien ons al hoe geweld oor die aarde spoel. Later, wanneer die konings, Saul, Dawid en die ander eers op die toneel verskyn, dan ken die bloedvergieting géén einde nie. Dikwels gaan dit gepaard met owerspel, verkragting en korrupsie.
Beteken dit dat ons die ou Geskrifte maar moet laat lê en stof opgaar?
Nee, beslis nie! Ons moet in die eerste plek vir onsself die vraag afvra: Wat is die boodskap van die Bybel as ‘n geheel? Die antwoord is eenvoudig, maar terselfdertyd ook baie kompleks. Jy kan dit nie in een sinnetjie weergee nie. Ek sien die boodskap in die eerste plek as een wat wil vertel van die liefde en genade van God. Die Bybel wil ons iets leer van die Skepper van alle dinge. In die Nuwe Testament word die boodskap oor en oor gegee dat die mens sondig is en dus verlore, maar Jesus, die Seun van God het na die aarde neergedaal en die prys betaal om diegene wat in Hom glo, te red. Weereens God se liefde en genade wat hier na vore tree.
Maar wat van die Ou Testament? Sien ons daardie selfde liefde en genade? En wat van Jesus? Buiten vir ‘n paar profesieë oor Hom, sien ons niks van Jesus in die Ou Testament nie. Is dit werklik so?
Dan het ek vanoggend vir jou ‘n verrassing! Ja, inderdaad sien ons die lelike kant van die mens in die Ou Testament en daar word nie doekies omgedraai as dit beskryf word nie. Maar terselfdertyd sien ons God se liefde reg van die héél eerste woorde in die Skrifte af soos ‘n goue draad deurloop reg tot op die laaste bladsye van die boeke. Boonop sien ons Jesus, die Seun van God optree dwarsdeur die ganse Ou Testament.
In Johannes 7:40-52 hoor ons hoe die mense geredekawel het oor Wie Jesus werklik was. Sommige het beweer dat Hy die Profeet was wat die Messias sou vooruitgaan terwyl ander weer van mening was dat Hy die Messias was. Waar het hulle hiervan gehoor? Nie bloot uit oorlewering nie, maar uit die Ou Testament! Later sien ons dat die skrifgeleerdes en Fariseërs ook betrokke geraak het by die debat. Hierdie mense het natuurlik ‘n deeglike studie gemaak van die Ou Testament!
Die feit is dat die mense wat in die Ou Testamentiese tye geleef het, vir Jesus geken het. Nee, hulle het Hom nie in dieselfde gedaante geken as wat die Nuwe Testamentiese mense Hom leer ken het nie, maar nogtans was daar baie mense wat in die Ou Testamentiese tye geleef het wat ‘n persoonlike verhouding met Jesus gehad het.
Die héél eerste keer dat ons met Jesus kennis maak is in die heel eerste versie in die Bybel, waar gesê word dat God in die begin die hemel en die aarde geskep het. “Maar dis mos nie Jesus nie?” sou jy dalk sê. Johannes 1:1-3 verduidelik dat Jesus die Skepper is. In Gen 1:26 sê God: “Kom ONS maak die mens as ONS verteenwoordiger, ONS beeld”. Hier sien ons die Vader, Seun en Heilige Gees saam optree. In Gen 3 lees ons hoedat dieselfde Skepper (Jesus) met Adam en Eva gesels het. Daar was alreeds sprake van ‘n liefdevolle, sinvolle verhouding.
In Gen 18 lees ons van die besoekers wat Abraham ontvang het. Twee van hulle was engele, en die derde was Jesus, die Seun van God. Abraham het ‘n baie lang gesprek met Hom gehad. Na Abraham het Jakob selfs met Jesus gestoei by die Jabbokspruit. Daar het Jesus hom geseën. In Eksodus 3 lees ons van Moses se roeping, toe die “Engel van die Here” (Jesus) in die brandende doringbos aan hom verskyn het (Eks 3:2). Na ‘n lang gesprek met Moses, stel Hy Homself bekend as JAHWEH (Duidelike bewys dat Jesus God is!) In Eks 33 lees ons hoedat Jesus gedurig met Moses in gesprek was in die tent van samekoms. In Rigters 6:11 lees ons van die “Engel van die Here” (Jesus) se gesprek met Gideon.
Hierdie is maar enkele uittreksels van Jesus se verskyning en omgang met die mense van die Ou Testament. Daar is nog talle voorbeelde en ons sien die groot teenstelling tussen die mens se sondige lewe en Jesus se liefde, genade en vergifnis regdeur die Ou Testament. Gaan lees dit gerus met ‘n nuwe bril, en sien Jesus daarin raak!
Gebed:
Here, dankie vir U groot liefde en genade aan die mensdom deur soveel duisende jare. U is waarlik liefde!