Het jy al gewonder oor die Ou en Nuwe Bedelings? Ons, die Christen-gelowiges leef vandag in die Nuwe Bedeling. Paulus probeer met beeldspraak hier die verskille verduidelik.
Die Ou Bedeling (Ou Testamentiese tyd) het natuurlik ‘n baie lang aanloop gehad. Dit het begin met Adam en Eva, waar die Here ‘n verbond met hulle gesluit het in die Tuin van Eden. Dit het oorgegaan na Noag, Abraham en Jakob. Maar die Ou Bedeling het waarlik eers sy piek bereik met Moses.
In Egipte het die Jode vir die eerste keer waarlik ‘n volk geword. Oor ‘n tydperk van ‘n paar honderd jaar het hulle aangegroei van ‘n klein handjievol kinders van Jakob tot 3½ miljoen mense. As ons tussen die lyne lees, wil dit voorkom asof hulle geloof totaal afgestomp was deur die oorweldigende afgodediens van die Egiptenare. Hulle het nie meer geweet wat reg en verkeerd was nie, en baie van hulle het waarskynlik nie eers meer geweet wie God is nie. Daarom dat Moses met sy eerste ontmoeting met die Here by die brandende doringbos vir Hom vra, hoe hy vir die volk moes verduidelik, Wie hierdie God is wat hom gestuur het - wat is Sy Naam?
In opdrag van die Here, het Moses die volk uitgelei tot by die berg Sinai, daar waar Hy die Here aanvanklik ontmoet het. Hier sou die volk waarlik die heerlikheid van God aanskou, en sou hulle geloof, wat tot dusver maar op krukke geloop het, versterk word. Vir die volk was hierdie aanskoue van die Heilige God ‘n skrikwekkende groot ervaring. Hulle het Hom nou wel nie self gesien nie, maar net Sy heilige teenwoordigheid ervaar, maar dit was al klaar te veel vir hulle, en Moses is gestuur om God op die berg te gaan ontmoet.
Vir Moses moes hierdie ‘n geweldige, onbeskryflike ervaring gewees het. Hy het nie net alleen met die Here verkeer nie, maar God het ook hier vir hom die wet gegee het om aan die volk oor te dra. Onthou, die volk het nie geweet wat reg en wat verkeerd is nie, en hulle moes van vooraf geleer word hoe jy moes optree teenoor mekaar en teenoor die Here. Vir die volk was dit die begin van ‘n totale nuwe tydvak, waar hulle soos babas van vooraf moes leer loop in die geloof.
Vir Moses was die hele ervaring só groot, dat sy gesig eintlik geskitter het. Dit het die mense bang gemaak om na hom te kyk, en uiteindelik was Moses verplig om ‘n sluier te dra. Moses was in ekstase, en die volk was ook op 'n groot hoogtepunt.
Dit het egter nie baie lank gehou nie, en geleidelik het hierdie wonderlike ervaring begin verflou. Moses se gesig het nie meer so gestraal nie, en omdat hy bang was dat die volk sou agterkom dat hy nie meer hierdie glans met hom saamdra nie, het hy eenvoudig aangehou om die sluier te dra. Vir die volk was die wet aanvanklik ‘n riglyn oor hoe om te lewe en hoe om God te dien. Oor die jare wat gevolg het, het dit egter vir die meeste Jode eerder begin gaan oor die onderhouding van die wet ter wille van die wet. Hulle het die doel daarvan totaal misgekyk.
Die vraag wat dikwels gevra word, is of God dan ‘n fout gemaak het met die wet? Nee, beslis nie! Moses en die wet het ‘n bepaalde plek en betekenis gehad in die geskiedenis van die mens. Dit was egter ‘n tydelike maatreël, iets van verbygaande aard. Dit moes die weg voorberei vir daardie groot gebeurtenis van verlossing wat aangebreek het met Jesus. Jesus se koms as Verlosser was natuurlik alreeds beplan, baie millennia voor Moses.
Saam met Jesus se Verlossingsdaad het daar egter iets anders gebeur van uiterste belang: die uitstorting van die Heilige Gees. Hierdie twee gebeure het eensklaps die Ou Bedeling tot ‘n einde gebring, en ‘n totale Nuwe Bedeling tot stand gebring. Daar is twee aspekte betrokke by hierdie bedeling: eerstens natuurlik Jesus se verlossing. Soos ons as gelowiges almal deeglik van bewus is, is Jesus die enigste Weg na God en na die saligheid.
Maar wat dan van die wet? Is dit nou gladnie meer nodig om die wet te onderhou nie? Dit is waar die tweede aspek inkom - die Heilige Gees. Omdat Hy nou deel is van elke gelowige se lewe, is Hy die Een wat die wet in ons harte skryf. Nou is dit ook nie meer die rigiede wette wat Moses aan die volk moes voorhou nie, maar soos ons in die vorige dagstukkie gesien het, die wet van liefde. Die Heilige Gees lei ons in hierdie nuwe wet, sodat ons al meer aan die beeld van Jesus gelyk kan word. Paulus skryf dat die glans op Moses se gesig verdof het, maar dat die glans van die heerlikheid van God wat ons moet weerspieël, al helderder en helderder moet skyn, soos wat die Gees ons lei.
Die verlossing van Jesus en die leiding van die Gees is onlosmaaklik deel van mekaar, en as gelowiges durf ons nooit die twee van mekaar skei nie. Luister dus na die Stem van die Heilige Gees, en gehoorsaam Hom.
Gebed:
Here Jesus, dankie dat U my verlos het. Lei my asseblief ook om U Heilige Gees gehoorsaam te wees.