Die Ooilammetjie

24 January, 2024
Luister Na Hierdie Dagstukkie Die Ooilammetjie

2 Samuel 12:1-14

VIDEO | OUDIO

Vir Dawid is die nagmerrie verby en vir die eerste keer kan hy nou weer ontspan. Hy kan natuurlik nie help om skuldig te voel oor Urija nie - dit is so jammer dat so ‘n goeie soldaat moes sneuwel. Maar nou is sy huwelik met Batseba darem wettig en niemand sal ooit weer navraag doen oor die aangeleentheid nie. Hoe lief is hy nie vir hierdie mooi nuwe vroutjie van hom nie!

Die profeet Natan lê en rondrol op sy bed - hy kan nie slaap nie. Natan worstel met die Here, want hy het ‘n verskriklike opdrag gekry - om aan die geliefde Koning Dawid die verdoemende nuus te gaan oordra oor God se oordeel. Natan kan nou nog nie glo dat Dawid so laag kon daal nie! Hy is dan so vroom! Boonop skryf hy die mooiste liedere vir die Here? “Here, dit moet ‘n fout wees?” pleit Natan. Maar hy wéét: die Here maak nooit foute nie. “Hoe moet ek die saak behartig Here? Wat moet ek vir hom sê?”

Dan staan Natan op en maak hom reg om die koning te gaan spreek. Hy weet presies wat om te sê want die Here het dit vir hom op die hart gelê. Hy sal vir Dawid vertel van ‘n man met ‘n skaap - sy enigste ooilammetjie.

Wanneer Natan die paleis se trappies opstap, klap sy kniekoppe eintlik teen mekaar soos hy bewe van pure vrees! “Hoe gaan Dawid reageer?” Sy maag staan eintlik op ‘n knop van senuwees. Hy wil wegvlug, maar hy durf nie. “Here, help my asseblief....” huil hy.

Die wagte maak die reuse deure van die troonsaal voor Natan oop. Hy word begroet deur luuksheid wat drup van die mure af. Maar nou sien Natan dit skaars raak. ‘n Groot kalmte vloei skielik oor hom en hy voel hoedat die selfvertroue hom vul. “Dankie Here!” prewel hy saggies.

Die profeet word hartlik ontvang deur Dawid: “Watter nuus het jy vir my?” skerts die koning.

Natan se gesig word strak as hy vir Dawid die verhaal vertel van die arm man met die ooilammetjie wat hy vertroetel het en soos sy eie kind grootgemaak het. Menigmaal het die skapie op sy skoot kom lê en daar aan die slaap geraak. Sy het selfs uit sy eie beker gedrink.

Dawid glimlag salig: hoe verlang hy nie soms terug na daardie wonderlike kommervry jare toe hy nog skape opgepas het nie. Hoeveel maal het hy nie sélf met ‘n lammetjie op die skoot gesit nie......

“Maar daar was ook ‘n ryk man,” word Dawid uit sy droom geruk, “en die man het baie skape en beeste gehad.” Hy vertel dat die man eendag ‘n kuiergas ontvang het. Hy was te suinig om een van sy eie skape vir die gas te slag, toe laat haal hy die arm man se ooilammetjie en slag dié.

Dawid is geskok. Hy kyk na Natan, en dan sien hy hoe ernstig die profeet se gesig is. Is dit dan ‘n ware verhaal? Hy word bloedrooi van woede want van sulke vermetelheid het hy nog nooit gehoor nie! “Daardie ryk man moet doodgemaak word!” Dawid kan sulke wreedheid net eenvoudig nie verwerk nie!

Natan kyk Dawid weemoedig aan, dan lig hy sy vinger en wys dit reguit na Dawid: “Jy is die man!”

Skielik besef Dawid dat hierdie profeet alles weet van sy owerspel en sy koelbloedige moord. Sy knieë word lam en sy gesig spierwit. Asof in ‘n droom, luister Dawid na die aanklag van die profeet. Hy moet hoor hoedat die Here hom al die jare op die hande gedra het - hom beskerm het teen Saul se wrede vervolging. Hy moet hoor hoedat die Here vir hom alles gegee het - die koningskap, vrouens, rykdom. “Waarom het jy dit gedoen? Vir Urija doodgemaak en toe sy vrou gevat? Dawid, jy het hom vermoor!”

“Ek het teen die Here gesondig!” huil Dawid in egte berou. “Ek is skuldig voor die Here!”

“Dawid, die Here het jou sonde vergewe”, troos Natan, “maar daardie kindjie wat jy in ontug verwek het sal sterf.”

Later skryf Dawid die hartroerende boetepsalm 51: “Wees my genadig, o God, in U troue liefde, wis my oortredinge uit in U groot barmhartigheid!”

God se genade is oneindig groot - so groot dat Hy selfs die grootste sondes vergewe. En Hy vergewe nie maar net halfhartig nie - God se vergifnis is 100% volledig! Ongelukkig moet ons weet dat die gevolge van ons sonde dikwels nie ongedaan gemaak kan word nie. Dawid moes vir die res van sy lewe saamleef met die gevolge van sy verskriklike daad. Ons wil so maklik sê dat ons as gelowiges maar kan sondig - God sal mos vergewe! Maar ons moet baie mooi dink oor watter pyn en droefheid ons sondes kan veroorsaak. As ek owerspel pleeg, leef die pyn wat ek veroorsaak in almal wat daardeur geraak word, vir baie jare voort - nie net my vrou/man nie, maar ook my kinders en familie en vriende word geraak. En selfs my diepste berou is dikwels nie genoeg om hulle pyn te genees nie!

Gebed:

Here, maak my asseblief sterk om weg te draai van die versoekings af en om nie in die sonde te val nie!

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

‘n Warm Patat
21 August, 2026
Die Ark is Gebuit!
20 August, 2026
Luister en Doen
19 August, 2026
Wanneer die Here Praat
18 August, 2026
Om Kinders Groot te Maak
17 August, 2026