Lukas 8:16-18
Iemand beskryf onlangs hoe geweldig groot die skepping is en hoe verskriklik nietig en klein ek in hierdie groot heelal werklik is. Hy stel die son voor as die grootte van ‘n tafeltennisballetjie. Dan sal die aarde skaars ‘n derde van ‘n millimeter groot wees en 3,7 meter van die son af weg wees. As ons dan hierdie tafeltennisbal-son Saterdag op Loftus sou plaas tussen die onderste skare, 20m anderkant die noordelike doelpale, sal die verste planeet in ons sonnestelsel, Pluto, 4m anderkant die suidelike doodlyn wees, reg by die onderste sitplekke. En dit is maar net ons eie ou “klein” sterretjie, die son, en sy satelliete! Volgens hierdie skaalmodel sal die naaste ster aan ons, Alfa Centauri, op die strand in Jeffreys Baai wees, 1000km verder. Dan het ons nog maar skaars begin, want ons het slegs die buiterandjie van die Melkweg, die sterrestelsel waarvan ons deel is en wat uit miljoene sterre bestaan, bereik. Nog erger: die melkweg is maar een van miljoene sulke sterrestelsels, sommige van hulle baie, baie groter as die Melkweg!
Hoe klein is my ou lampie in vergelyking met die oorweldigende gloed van biljoene-der-biljoene sonne wat in die heelal hang, maar tóg is my liggie belangrik en die Here wil hê dat ek moet skyn vir Hom!
Jesus vertel nóg ‘n gelykenis, een van ‘n lamp. Die lampie waarna Hy verwys was ‘n klein ronde kleibakkie vol olie, met ‘n tuitjie waarin die pit gelê en brand het, baie primitief maar tóg prakties. Elke huishouding het van hierdie lampies gehad, en almal het presies geweet wat jy daarmee maak. Daarom het Jesus die alledaagse bekende goed gebruik om ‘n groot waarheid by die luisteraars tuis te bring.
In kort beteken dit dat die Woord van God soos ‘n lig moet wees wat die duisternis oorwin. Deur die lamp van die Woord hoog te sit, word die lig na elke uithoek versprei. In die praktyk beteken dit dat diegene wat verstaan wat die Koninkryk beteken, dit behoort bekend te maak aan diegene wat dit nie verstaan nie. Daar is absoluut niks geheimsinnig oor daardie Woord nie, en elkeen moet daarvan weet.
Om terug te kom by die sterre: ons naaste ster, Alfa Centauri is ‘n volle 40 miljoen miljoen kilometer van ons af, maar sy lig skyn so helder dat ons dit nie kan miskyk nie. Dit is die helderste van die twee aanwyser-sterre langs die Suiderkruis. Hierdie is nie die helderste ster in die hemelruim nie. Daar is baie ander wat selfs helderder is en baie, baie verder weg.
Die hartseer ding is dat die meeste gelowiges hulle ou lampies onder ‘n emmer sit en smoor sodat niemand kan sien dat hulle Christen-gelowiges is nie. Hulle lewens wys niks van die liefde van Jesus nie, en hulle sal g’n sprook sprak wat ooit hulle geheim sal verklap dat hulle gelowig is nie. Kyk, jy hoef nou nie heeldag te loop en uitblaker dat jy een van die “eksklusiewe” kinders van die Here is nie, maar deur jou voorbeeld moet jy ‘n olielampie vir Hom wees.
Hoe straal jy die lig van Jesus uit? Daar is baie maniere, en elkeen van ons het ander talente gekry waardeur ons hierdie lig kan laat skyn. Sommige se lampe is ‘n miljoen-kerskrag kollig terwyl ander maar fyn feëtjie-kersies is. Maar dit maak nie saak nie! Die belangrikste is dat albei die donker verdryf! Sommige se lampe kan skyn deur op ‘n kansel te staan en met selfvertroue die Woord te verkondig. Ander weer voel gemaklik om een-tot-een met iemand te gesels oor die Evangelie. Persoonlik leef ek my getuienis die gemaklikste uit wanneer ek kan sit en skryf, hetsy vir ‘n groot klomp mense of slegs ‘n enkel persoon. Vir sommige gelowiges beteken dit om hulle lamp te laat skyn, om bloot die liefde van Jesus uit te straal in hulle algemene optrede deur vriendelikheid of ‘n glimlag. ‘n Vrolike gesig is baie aansteeklik, en dit kan sommer in ‘n japtrap ‘n morbiede geselskap opkikker. Die belangrike is egter om aan Jesus die eer te gee vir jou opgeruimde gesiggie.
Dade preek baie harder as woorde. Die dominee preek in die kerk vir gelowiges. Hy gee hulle opleiding om die wêreld in die oë te gaan kyk. Hy vul hulle lampies as’t ware daar met olie sodat hulle deur die week helder kan skyn daar buite. Jou taak deur die week is dan nie noodwendig om die preek te gaan herhaal vir almal wat jy teëkom nie, maar om prakties uit te leef wat jy in die erediens beleef het. Terloops, as jy ‘n olielampie aanhou vol maak sonder dat hy behoorlik brand, gaan die olie naderhand die pit versmoor, en dan is die lamp totaal nutteloos. Dus, as jy nie jou lamp gebruik nie, gaan sy vlammetjie doodgaan. Aan die ander kant kan ‘n lamp ook nie sonder olie brand nie! Dit is dus absoluut noodsaaklik dat jy gereeld hervul word. Moenie kerkbyeenkomste afskeep nie - dit is noodsaaklik vir jou geestelike oorlewing en uitlewing.
Gebed:
Here, dankie dat ek ook vir U ‘n lampie kan wees. Help my asseblief om helder vir U te skyn!