Die Oes is Ryp

25 February, 2022
Luister Na Hierdie Dagstukkie Die Oes is Ryp

Johannes 4:27-42

VIDEO OUDIO

Die dissipels het terugekeer van die dorp af, waar hulle gaan kos koop het. Dit was maar half ‘n ongemaklike situasie, want hier moes hulle kos koop by Samaritane! Hulle ongemak het egter verder verdiep toe hulle terugkom by die put, want tot hulle afgryse moes hulle Jesus, hulle Rabbi aantref in gesprek met ‘n Samaritaanse vrou! Boonop een wat baie twyfelagtig voorgekom het. Hulle het besluit om doodstil te bly oor hierdie situasie, want hulle het net mooi gladnie verstaan wat aan die gang was nie. Boonop was dit maar ‘n bitter ongemaklike situasie om oor te praat! Hulle verligting was groot toe sy daar omspring en terughardloop dorp toe. Nou kon hulle die belangrike dinge van die lewe afhandel, soos byvoorbeeld om te eet.

Die manne het uit hulle pad uit gegaan om kos in die hande te kry. Hulle was moeg en honger, maar toe hulle vir Jesus Sy kos gee, moes hulle weereens terugdeins oor hulle Meester se optrede. Nee, Hy het kos gehad waarvan hulle nie weet nie! Hy sou nie eet nie, dankie! Die manne het vir mekaar gekyk met ‘n vraagteken op die gesigte. “Waar sou Hy kos vandaan gekry het?” Jesus het verduidelik dat Sy kos is om die wil van die Vader te doen.

Jesus wou die prioriteite van ‘n gelowige by die dissipels probeer inskerp. Hulle het gesukkel om te verstaan. Ja, baie later, eers nadat hulle die Heilige Gees ontvang het, het hulle hierdie dinge begin verstaan. Maar nou was al die begrippe wat Jesus gebruik het vir hulle totaal vreemd. Jesus het eintlik vir hulle probeer sê dat die normale dinge van die lewe, soos byvoorbeeld om te eet, minder belangrik is as die geestelike dinge. Hulle moes die wonderlike geestelike wêreld wat voor hulle oë besig was om te ontvou, raaksien. Ware honger is byvoorbeeld om dít te wil doen wat die Here van jou vra om te doen.

Jesus het oor die vlakte getuur en ‘n menigte mense uit die dorp na hulle sien stroom. Hy het geglimlag - ja, die vrou het gaan vertel, en nou wou almal in die dorp weet van “die Man wat haar alles van haar lewe vertel het.” Wat ‘n oes!

“Die oes is ryp,” het Hy sy dissipels meegedeel. Nou was hulle totaal uit de veld geslaan! Wat sou hulle Meester dan nou hiermee bedoel? Toe verduidelik Jesus van die lande wat vol ryp are staan, net reg om gëoes te word. Met hierdie “lande” het Jesus natuurlik gesinspeel op die Samaritane, wat op daardie stadium sekerlik ook alreeds ‘n baie sterk Messiasverwagting gehad het. Hulle het nét so swaar in die Romeinse verdrukking geleef as die Jode. Ja, hulle was ryp vir die oes - om Jesus se volgelinge te word. Die dissipels het half ongemaklik geraak toe hulle die groot skare Samaritane aangeloop sien kom.

Jesus het egter rustig voortgegaan en verduidelik hoe ‘n oes nou eintlik werk. Dis nie iets wat sommer net gebeur nie. En boonop is dit nie een persoon se werk nie, nee daar is spanwerk by betrokke om ‘n suksesvolle oes te kan lewer. In hulle gedagtes kon die manne ‘n prentjie vorm van wat daar op die land gebeur - eers die ou wat met sy ploeg agter die os aanloop en die grond omdolwe. Dan die kêrel met sy sak saad wat hy strooi. Later wanneer die koring ryp geword het, kom iemand anders met die sekel om die are af te sny en die gerwe in bondels te bind. Dis beslis nie ‘n alleen-werk nie! Almal spring gewoonlik in om te kom help.

Terwyl die opgewonde Samaritane haastig nader kom, begin die dissipels die prentjie kry, dat Jesus nie van ‘n gewone oes gepraat het nie, maar dat Hy gesinspeel het op die geestelike oes van Sy volgelinge.

Vandag is dit steeds net so waar. Daar is diegene wat die Woord saai, en daar is ander wat moet bossies uitkap - bossies van sonde - sodat die lewensplante kan groei. En dan is daar weer diegene wat die wonderlike voorreg het om die oes te kan insamel, want hier sien jy uiteindelik die vrug op die arbeid van baie ander geestelike werkers.

Ek het die groot voorreg om te kan saai deur hierdie dagstukkies. Ek sien eintlik weinig van die vrug op my arbeid, maar ek doen dit in die wete dat die saad wat ek saai op vrugbare aarde sal val, en dat iemand anders eendag jubelend sal kan oes van my poging.

Ja, daardie Samaritaanse vrou het die asemrowende voorreg gehad om te kon deel in Jesus se oes. Die lande was ryp, en al wat sy moes doen, was om die finale boodskap te gaan aflewer. Dit het sy gedoen met volle oorgawe, en die resultaat was dat die uitgeworpe Samaritane net eenvoudig nie genoeg kon kry van Jesus nie. Alhoewel die dissipels sekerlik niks van die idee gehou het nie, het Jesus tog besluit om twee dae daar oor te bly by hulle. Hierdie was ‘n belangrike oes - hoe kon Hy dit óóit so laat staan om op die lande te vrot?

Gebed:

Here, ek loof en prys U vir die wonderlike voorreg wat ek het om deel te mag wees van die span. Help my om die taak wat U my gee met volle oorgawe uit te leef!

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Voetewas
23 October, 2026
Salf vir Jesus se Voete
22 October, 2026
Jerusalem, Jerusalem!
21 October, 2026
Die Groot Gebod
20 October, 2026
Die Vyeboom
19 October, 2026