Miga 5:1-5
Die intriges van die koningshuise boei die hele wêreld. Jy onthou seker nog die bohaai toe prins Albert destyds met onse mooie Charlene getroud is. Ons het ons vergaap aan die koninklike prag en praal. En natuurlik al die skandes waaroor daar in die wandelgange gefluister is.....
Die koningshuis van Brittanje is natuurlik ook gedurig in die nuus, en kort-kort moet Ouma Elizabeth net vure doodslaan vir haar kinders en kleinkinders se skandes. Harry en Meghan is gedurig op koerante se voorblaaie. Inderdaad gaan dit nou relatief goed in die koningshuis, as jy die streke van sommige van Brittanje se vorige konings in ag neem. Vat nou maar ou Henry die 8ste, en hoe hy op ’n streep van sy vrouens ontslae geraak het, elke keer as sy hormone hom pla en ‘n nuwe jong bokkie verbyloop.
In die Bybelse tye het dit nog erger gegaan, sommer véél erger! Daar is dik boeke geskryf oor die konings van Israel. En die enkele “goeie” konings kan jy op die vingers van jou een hand tel. Selfs die goeie konings het geraamtes in hulle kas gehad. Vat nou maar vir Dawid, die geliefde koning wat liedere geskryf het wat duisende jare later steeds gesing word. Hy was ‘n man wat die Here intens liefgehad het. Maar sy geraamtes is walglik. Hy pleeg owerspel. Hy laat die vrou wat hom so bekoor se man vermoor. Hy het geen beheer oor sy kinders nie. Oor manne soos Agab en sy goddelose vrou Isebel praat ons nie eers nie. Keer op keer lees ons in die kronieke van die konings: “Die koning het gedoen wat verkeerd is in die oë van God.” Israel se konings was deur die bank vir die volk ‘n reuse teleurstelling. In Psalm 72 word die ideale koning beskryf, maar hiervan het net mooi niks gekom nie.
En nou kom Miga met ‘n aankondiging wat soos ‘n vars briesie oor jou waai, soos heerlike soet, yskoue water in die hitte van die dor woestyn. Hy vertel van hierdie Koning wat nie korrup is soos al die ander nie. Elkeen wat lees wat Miga geskryf het, gaan regop sit, en lees dit weer. “Is dit ooit moontlik?!” Hierdie nuwe Koning waarvan Miga skryf sal beslis nie teleurstel nie. Hy voldoen aan al die vereistes wat God stel aan ‘n koning. En Hy lê boonop in die koningslyn van die geliefde koning Dawid. Maar Sy koningskap se wortels lê eintlik baie, baie verder terug as Dawid - dit strek “tot in die gryse verlede” (Miga 5:1).
Tóg kom hierdie Koning uit ‘n baie klein en onbelangrike ou dorpie, Betlehem Efrata. As jy daarvandaan kom, beteken dit dat jy maar ‘n baie nederige agtergrond het. Dawid kom ook daarvandaan! Hy was die jongste van Isai se seuns, en die laaste een wat oorweeg sou word vir moontlike koningskap. Hy was ‘n blote skaapwagtertjie, ‘n kind van die veld wat baie nagte onder die sterre moes deurbring en op die harde grond slaap. Tóg was hy die een wat Israel verenig het en uitgebou het tot ‘n groot en magtige nasie.
Maar dit is hoe die Here werk. Hy doen dinge op die mees onwaarskynlike en onverwagse maniere. Klein en onbenullige mensies word groot en belangrik in die hande van die Meester Pottebakker.
Maar Dawid was nie die een waaroor Miga geskryf het nie. Die Koning van alle konings is egter in dieselfde klein dorpie, Betlehem gebore in ‘n nederige stal, van alle plekke! Sy nederige lewe was relatief van korte duur, ‘n skamele 33 jaar, en toe word Hy gekruisig - aan ‘n vloekhout vasgespyker. Sy lewe was gekenmerk deur vrede en liefde en nederigheid. Hy het altyd die beste gesoek vir die mense wat Hom gevolg het. Hy het hulle siektes genees, vir hulle kos gegee en hulle geleer.
Maar toe kom die kruisiging en Sy hemelvaart. En nou wag ons in groot afwagting vir die dag wanneer Hy terugkeer. Miga sê dat dit net ’n kort rukkie sal wees, so lank as dit ’n vrou neem om ’n kind in die wêreld te bring. Hoe lank is daardie kort rukkie? Niemand weet nie, nie eers die engele nie. Ons kan dit ook nie letterlik opneem, dat dit nege maande sou duur nie. Dit is “profetiese perspektief” wat bloot beteken dat daardie dag onverwags gaan wees, net soos wat ‘n normale geboorte onverwags is. Al die tekens is wel daar dat dit binnekort moet gebeur, maar dit bly steeds ‘n groot verrassing. Diegene wat uitwerk dat die wederkoms op ‘n sekere dag gaan plaasvind, mislei mense. Die tekens is alreeds baie duidelik daar dat Jesus se wederkoms enige oomblik kan plaasvind. Dit kan selfs vandag of môre wees, maar dit kan ook nog jare duur. Die groot ding is dat ons gereed moet wees, soos wat die man van die swanger vrou gereed moet sit vir die oomblik wanneer die geboortepyne begin.
O, watter wonderlike vooruitsig is daar nie! Met Jesus se wederkoms gaan absoluut alles verander. Sien jy ook uit daarna? En is jy gereed om Jesus te ontmoet?
Gebed:
Here, ek sien uit met groot verwagting na die wonderlike dag van U wederkoms.