Die Noorde word Ingepalm

21 November, 2025
Luister Na Hierdie Dagstukkie Die Noorde word Ingepalm

Josua 11 en 12

VIDEO | LUISTER

Tot dusver het Josua slegs te doene gekry met die volke rondom die Dooie See in die suide van die land. Dinge sou egter verander en Jabin, die koning van Hasor begin ongemaklik raak. Alhoewel sy stad 150 kilometer noord van Gilgal geleë is, begin hierdie afstand vir hom ‘n bietjie klein raak wanneer hy luister na die gerugte van hierdie skrikwekkende volk Israel. Hy is nou wel die magtigste van al die volke in die noorde, maar dit maak hom nie minder gerus nie. Dus stuur hy boodskappe aan al die buurvolke tot so ver as die Jordaanvallei suid van die see van Galilea. Hy wil ‘n bondgenootskap met hulle aangaan teen hierdie klomp Israeliete.

Normaalweg sit hierdie spul beslis nie om dieselfde vuur nie, maar almal is bang vir Israel en daarom besluit hulle om vir hierdie een keer saam te staan. Wanneer hierdie mag uiteindelik saamtrek en ontplooi by die “Waters van Merom,” is daar soldate net waar jy kyk. Vir die Israeliete wat hulle gesien het, lyk hulle meer as die sand van die see! En dit is nie net voetsoldate nie. Nee, hierdie spul is gewapen tot die tande toe, met perde en strydwaens wat enige weermag inmekaar sal laat krimp van vrees!

Merom is vandag bekend as die Hula-vleilande, sowat 12km bokant die See van Galilea. Dit was ideaal vir Jabin, met volop water vir hulle perde en ‘n oop vlakte vir die strydwaens.

Vir Josua en sy manne is hierdie strydwaens en perde slegte nuus. Hierdie is gevorderde wapentuig! Maar God is in beheer, en al lyk die vyand oorweldigend met die mees gevorderde moderne wapens, is hulle steeds pionne in Sy hand. “Moenie vir hulle bang wees nie.” sê die Here vir Josua. “Môre dié tyd gee Ek hulle oor aan Israel, dan sneuwel hulle almal.” Dan leer die Here vir Josua iets meer oor oorlogstrategie: “Jy moet hulle perde se hakskeensenings afsny en hulle strydwaens verbrand.”

Die Israeliete was teen hierdie tyd al gesoute vegters wat te voet enige vyand sou aandurf. As hulle van hierdie gedugte vyand se strydwaens en perde ontslae raak, dan is hulle ook maar almal voetsoldate en sonder hulle troefkaart, die strydwaens is hulle leër erg verswak.

Josua doen dus wat die Here hom beveel en dan is hierdie oormag “soos die sand van die see” gladnie meer so skrikwekkend nie. Josua het ook al geleer dat ‘n verrassingselement jou vyand totaal onkant vang en ontwrig. Dit is dan ook presies wat hy doen, en onverwags oorval hy die vyand. Om ‘n lang storie kort te maak: Hulle word afgemaai en totaal vernietig.

Josua moet die yster smee terwyl dit warm is, en dan trek hy op na Hasor in die noorde. Die stad word ingeneem en verbrand. Hy stop nie hier nie en al die ander stede in die noorde word oorval. Vir Josua se soldate is dit alles baie goeie nuus want by elke stad wat hulle verower, kry hulle toestemming om die vee en buit vir hulleself te neem. Op hierdie wyse sorg die Here mildelik vir Sy volk. Hy gee nie alleen vir hulle ‘n nuwe blyplek nie maar voorsien ook mildelik in al die middele om te kan oorleef!

Ons moet besef dat Josua ‘n uitstekende leier was. Op ‘n tydstip toe die volk totaal leierloos was in Egipte het die Here voorsien in een van die grootste leiers wat die wêreld óóit geken het: Moses. Na sy dood, laat God nie die volk leierloos nie, en weereens voorsien Hy in ‘n wonderlike leier soos Josua op ‘n tyd toe die volk ‘n sterk leier broodnodig gehad het. Sonder Josua se leierskap sou dit onmoontlik wees om die land in te neem.

Josua is egter nie alleen ‘n goeie leier nie, maar hy leef in ‘n intieme verhouding met die Here net soos sy voorganger Moses.

Terloops, Josua was darem nie die enigste een wat grond verower het vir Israel nie. Aan die ooste kant van die Jordaan het Moses die eens magtige Amoriete asook Basan verslaan en hulle grond vir die volk ingepalm. Saam met die grondgebied wat Josua verower het, is daar nou genoeg grond vir al die Israeliete. Hulle het ook teen hierdie tyd oorgenoeg gehad van oorlog maak, en God gun hulle ‘n welverdiende ruskans.

Die volk het stelselmatig met die hulp van die Here die hele land in besit geneem. Nou kry Josua opdrag van die Here om die land te verdeel sodat elke stam sy regmatige plek sou kry. Die grense van elke stamgebied word noukeurig bepaal sodat daar nie later gestry sou word aan wie ‘n sekere stuk grond behoort nie.

Eerste aan die beurt is die stamme van Ruben, Gad en die halwe Menasse stam wat hulle grond aan die ooste kant van die Jordaan kry soos hulle destyds deur Moses belowe is. Daarna word die grond wat hulle in besit geneem het wes van die Jordaan onder die oorblywende stamme verdeel.

Dit is egter nie die einde nie. Daar word ook asielstede aangewys waar enigeen in veiligheid kon gaan bly wanneer daar onnodige bloedwraak ter sprake sou wees. Hiervan sal ons ‘n bietjie later meer lees. Verder word stede aangewys wat uitsluitlik vir die gebruik van Leviete sou wees.

Wanneer alles afgehandel is, trek die drie stamme wat grondgebied oorkant die Jordaan gekry het, terug. Op pad bou hulle ‘n altaar vir die Here by die Jordaanrivier.

Gebed:

Here, ek sien vanoggend weereens hoe U wonderbaarlik met liefde en deernis die volk gelei en gevestig het!

 

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

‘n Warm Patat
21 August, 2026
Die Ark is Gebuit!
20 August, 2026
Luister en Doen
19 August, 2026
Wanneer die Here Praat
18 August, 2026
Om Kinders Groot te Maak
17 August, 2026