Die Nagmerrie Gemeente

13 January, 2026
Luister Na Hierdie Dagstukkie Die Nagmerrie Gemeente

1 Korintiërs

VIDEO | LUISTER

Baie jare gelede het die pragtige Karoodorp Graaff Reinet deur ‘n verskriklike tweestryd gegaan. Die NG Kerk het in twee geskeur oor politiek! Daar was twee leraars in die kerk, die een dominee was ‘n vurige Nasionalis en die ander ‘n geharde Sap. Só erg was die stryd, dat hulle ‘n tweede kerk moes bou om albei te akkommodeer! Glo my, gemeentes skeur dikwels uitmekaar oor totale onbenullighede - ek het dit al persoonlik ‘n paar keer beleef!

Stel jou voor, jy loop die Sondagoggend in ‘n kerkgebou in as vreemdeling in die gemeente. Iemand kom gryp jou aan die mou: “Welkom hier, Vriend,” sê die kêrel oorvriendelik, “ek is van Ds. Poggenpoel se groep. Jong hy is darem nou ‘n man na wie jy kan luister, preek jou tot trane!” En dan karring hy aan oor die voortreflikhede van daardie Ds. Poggenpoel.

Terwyl die kêrel nog so voortbabbel, tik iemand anders jou op die skouer en fluister: “Kom saam met my!” Jy het nie juis ‘n keuse nie, en hy verlei jou na Ds. Swanepoel se groep.

“Daardie Poggenpoel klomp is ‘n spul huigelaars, bly weg van hulle af!” vermaan hy jou. “Ons luister net na die minsame Ds. Swanepoel. Ons is die heiligste groep hier in die gemeente. Weet jy dat een van daardie spul - nogal ‘n ouderling - ‘n verhouding het met sy skoonma!”

Jy voel naar! “Ons Swanepoelers is voorstaanders van die uitgebreide Nagmaal en ons eet almal heerlik saam.” Uit die hoek van jou oog sien jy ‘n reuse tafel gedek eenkant in die kerk, oorlaai met berge kos. Jou oë rek! Daar is tot ‘n speenvark, kompleet met appel in die bek! “Ek sien jy ry ‘n spoggerige motor, jy is seker baie welaf, nê? Ek sal sorg dat jy ‘n goeie plek aan die tafel kry!”

Baie gou kom jy agter dat die “gewone” mense daar eenkant eet en net die rykes kry ‘n plekkie by die tafel.

Maar weereens word jy weggelok deur ‘n derde persoon. Baie gou verduidelik hy jou van die skynheilige klomp by die tafel, en dat Ds. van Niékerk se groep die wáre groep is. “Ons maak géén geheim daarvan dat ons sonde doen nie”, lag hy. “Wat’s nou fout met ‘n bietjie dans en dobbel en lekker rinkink? Dis mos die geestelike in jou wat belangrik is en wat jou vlees doen is totaal onbelangrik!” Hy babbel voort en vertel dat dit nogal baie jolig kan gaan by hulle. Hulle het selfs so in die stilligheid die dienste van ‘n bordeel bekom! “…. as jy dalk sou belangstel....”

‘n Naar gevoel styg in jou op en ongemerk glip jy by die kerk uit en kies die hasepad! Met só ‘n spul wil jy niks te doene hê nie!

‘n Storie? Beslis ’n nagmerrie! Miskien wel, maar hierdie is presies wat Paulus teëgekom het in die gemeente in Korinte, selfs die Ouderling wat ‘n verhouding met sy skoonma gehad het! Die dinge waarmee hierdie gemeente geworstel het, laat behoorlik jou hare regop staan. Maar wat het dit vandag met ons te doen? Dis mos dinge wat tweeduisend jaar gelede al gebeur het? Dis mos vandag irrelevant! Of is dit?

Hierdie hartseer brief van Paulus aan die weerbarstige gemeente in Korinte, is vandag nog steeds relevant, want hierdie dinge gebeur steeds in gemeentes! Dalk in ‘n ander vorm, maar ons hoor vandag steeds van dinge wat gebeur in die kerk wat jou hare laat regop staan. Kort-kort is daar berigte in die koerante van ’n ouderling wat sy vrou verneuk het met sy diaken se vrou of ’n dominee wat in dobbelverslawing verval het. Of selfs ’n getroude leraar wat n skelm verhouding het met een van sy gemeentelede. Morele verval het nie die kerk gesystap nie! Daagliks lees ons van die verskriklike dinge wat gebeur – selfs ook met gelowiges.

Ons Westerse samelewing is gegrond op die morele waardes wat deur die vroeë kerk vasgelê is. Baie van hierdie waardes het hulle oorsprong by Paulus en daarom kan ons vandag baie beslis weer gaan leer wat Paulus oor hierdie dinge gesê het.

Die gemeente in Korinte was sterk onder die invloed van die heidense wêreld waarin hulle geleef het en hulle het riglyne nodig gehad oor hoe om te leef volgens Goddelike beginsels. Dieselfde riglyne geld vandag steeds vir ons as gelowiges.

‘n Studie van 1 Korintiërs kan ons help om onsself beter te verstaan. Wat is die verhouding tussen liggaam en siel? Hoe behoort ons verhouding met ander mense te lyk? Mag ek as gelowige maar ‘n bietjie losbandig leef?

Paulus verduidelik wat die Here van my verwag en volgens watter reëls ons moet saamleef. Hy verduidelik waarom ons nog steeds kerk is en hoe ons kerk daar moet uitsien.

Korintiërs is noodsaaklik vir elke gelowige om deeglik te bestudeer. Hier ontdek ons weer opnuut die roepstem om as vrygekoopte kinders van God ons roeping as gelowiges uit te leef te midde van ‘n sondige en gebroke wêreld, om so die gemeenskap van God in die wêreld te vorm. Dit is natuurlik van uiterste belang dat ons onsself nie uit die wêreld onttrek en in afsondering leef nie, maar dat ons júís ons geloof uitleef te midde van die sondige wêreld, sodat God se Koninkryk uitgebrei kan word.

Gebed:

Here, dankie vir Paulus en hierdie wonderlike brief oor hoe om ons lewens te rig!

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Nog ‘n Grote Val
16 February, 2026
Is Sakramente Genoeg?
13 February, 2026
Lewenswedloop
12 February, 2026
Verantwoordelike Vryheid
11 February, 2026
Onderhoud met Paulus
10 February, 2026