Inleiding tot Filemon
(Die 2020 Bybelvertaling word deurgaans gebruik)
Ek onthou nog die angswekkende verhale van die berugte muur in Berlyn. Die kommuniste het hierdie muur gebou om die Weste van die Ooste te skei. Agter daardie muur het die allerverskriklikste dinge gebeur, veral met Christengelowiges. Die Christendom was dáár gladnie welkom nie, en enigeen wat sy geloof daar sou probeer uitleef is wreedaardig vervolg.
Besoekers aan die rooi wêreld agter die muur was maar skaars, en hulle is met groot agterdog bejeën. Die verhale wat mense soos ds. Dana Minnaar en Broer Andrew vertel het, het jou hare laat regop staan. Hulle was smokkelaars! Hulle het Bybels ingesmokkel vir die gelowiges agter die ystergordyn.
Alhoewel besoekers wél toegelaat was, was die inwoners nie toegelaat om uit te gaan nie, uit vrees dat hulle Rusland sou verlaat. Die verskriklike muur het gesinne van mekaar geskei, en enigeen wat dit sou waag om te vlug, is koelbloedig doodgeskiet!
En toe val die muur!
Daar was gróót vreugde toe die Berlyn-muur die dag, 9 November 1989 afgebreek is, en mense weer vryelik deur kon beweeg!
Lees meer oor hierdie muur by: https://af.wikipedia.org/wiki/Berlynse_Muur
Daar is so baie mure en heinings in die lewe wat ons skei en inperk en in klein kompartementjies indeel. Inderdaad is ons mure nie van baksteen en beton nie, maar dit is figuurlike mure wat ons self opgerig het, mure wat mense van mekaar skei: mure van kultuur, ras, status, rykdom, armoede. Hierdie selfde mure word gewoonlik ook mure tussen ons en God. Christus het gekom as die Een wat sulke mure kom afbreek. Hy breek die skeidings af wat sonde gebring het en wat ons van God skei. Hy breek ook die mure af wat mense van mekaar skei, en maak jou bekrompe, beperkte wêreldjie oop en vry sodat jy geestelik kan asemhaal en beweeg en jou lewe ten volle uitleef.
Paulus het hierdie brief geskryf terwyl hy in die tronk was, fisies beperk deur verstikkende tronkmure, maar geestelik so vry soos die wind! Hy skryf die brief aan ‘n geestelike leier in die gemeente in Kolosse, Filemon, ’n Griekse grondeienaar. Hierdie ryk man het sy huis tot beskikking van die gemeente gestel, sodat hulle gereeld daar kon bymekaarkom. Hy het ‘n slaaf gehad met die naam Onesimus. Dié het weggeloop, en sy paadjie het op die een of ander manier met Paulus s’n gekruis. Daar het hy tot bekering gekom. Paulus oortuig Onesimus dat ‘n mens nie vir jou probleme kan weghardloop nie, maar dat hy terug moes gaan na sy eienaar. En nou skryf hy hierdie brief aan Filemon om te vra dat hy vir Onesimus moet vergewe vir sy lafhartige daad en hom ontvang as ‘n medegelowige. Hy moet dus nie toelaat dat die sosiale mure wat deur die jare gebou is, en veral nou met Onesimus se weglopery nog meer versterk is, tussen hulle moet kom staan nie. Hulle moet hulle eenheid in Christus beleef en uitleef ten spyte van die mure.
Alhoewel Paulus die brief persoonlik aan Filemon rig en persoonlik met hom praat, vra hy ook dat die hele gemeente die brief lees. Wat dus op Filemon en Onesimus van toepassing is, geld ook vir die res van die gemeente en ook vir elkeen van ons vandag. Die persoonlike briefie wat Paulus aan Filemon geskryf het is ‘n pragtige voorbeeld van so ‘n bevryding wat mure afbreek. Dit is ook uiters taktvol geskryf, en dit wys vir ons baie duidelik hoe Christus se krag ‘n mens se lewe en sy verhouding met ander mense totaal kan omvorm.
Paulus probeer vir geen oomblik om die norme en standaarde van die samelewing omver te werp nie. Slawerny is wel ‘n euwel, maar Paulus sê nie ‘n woord daarteen nie, want dit sou beslis net ‘n mors van asem wees. Wat Paulus wél doen, is om die eienaar van ‘n slaaf te vra om met nuwe oë - Christelike oë - na sy slaaf te kyk. Hierdie slaaf van hom is ‘n gelowige, en is dus sy broer in Christus. Inderdaad het sy slaaf weggeloop - gedros, en dit kon hom die doodstraf kos, maar nou pleit Paulus vir die slaaf, Onesimus, omdat hy intussen tot bekering gekom het. Hy vra van Filemon om in ‘n nuwe verhouding met sy slaaf te kom. Inderdaad bly die slaaf steeds sy slaaf, en hy wat Filemon is bly steeds die baas, maar daar het ‘n nuwe gemeenskaplikheid tussen hulle gekom wat die verskriklike gaping tussen baas en slaaf oorbrug: in die Here is hulle nou broers, wat albei vir God as Vader het.
In ons eie samelewing vandag is daar soveel standverskille wat nog baie meer kompleks is as dié van Filemon en Onesimus, soos kleur- en kultuurvooroordele. As iemand ‘n ander kleur as jy het, het jy reeds klaar jou vooroordele nog lank voor jy hom as mens leer ken. Ander mure wat ‘n mens vir jouself bou is dié van status, rykdom, geleerdheid, denkrigting, seksuele oriëntasie of ‘n bepaalde persoonlikheidseienskap. In hierdie brief roep God vir my en jou om net soos Filemon die eenheid en kindskap in Christus met ander mense, wat dalk anders as ons is, te beleef en daadwerklik uit te leef. Kom ons breek die mure af en behandel daardie afgeskeide medegelowiges as ons broers en susters in die Here.
Gebed:
Here, daar is so baie mure in my lewe - help my asseblief om hulle af te breek en my medegelowiges almal as broers en susters te aanvaar.