Lukas 19:1-10
Hy is ‘n eensame mens, Saggeus, verstote deur die samelewing. Almal probeer hom vermy maar ‘n ontmoeting met hom is onvermydelik want die een of ander tyd móét almal hom sien om tolgeld te betaal! Ja, hy het baie hard gewerk om te kom waar hy is. Sedert hy die dag die kontrak gekry het by die Romeine om tolgeld in te vorder, het hy homself opgewerk tot die onbenydenswaardige pos van Hooftollenaar. Ongelukkig het daar saam met die werk ‘n reuse prys gekom: almal wat hy sy vriende kon noem het een-vir-een hulle rug op hom gedraai. Dit het hom aangespoor om net harder en harder te werk.
Vandag is Saggeus ‘n gemaakte man met alles wat jy kan begeer - alles buiten behoorlike vriende. O ja, daar is die ander tollenaars en Romeinse amptenare, maar ‘n mens kan hulle skaars vriende noem! ‘n Gure spul!
Maar daar is die afgelope ruk iets wat aan Saggeus knaag. Sedert daardie Johannes-profeet die wêreld aan die brand gepreek het, sit hy nou al met hierdie gevoel van onvergenoegsaamheid – daardie lastige stemmetjie in hom wat bly sê dat daar iets baie groter in die lewe is as hierdie vals bestaan wat hy voer. Stadigaan het daar ‘n gedagte by hom begin posvat dat daar iewers baie groot fout is in sy lewe, en dat hy vinnig op pad is na die ewige verdoemenis! Ja, en nou kan hy nie eers meer met Johannes daaroor gesels nie, want Herodus het mos die man se kop gaan staan en afkap! Simpele vent! Wonder wat hom besiel het!
Maar alles is nie verlore nie - daar is nog die opwindende Profeet, Jesus! Saggeus het baie van hierdie Man gehoor, en hy brand om hom te sien. Hy het juis verneem so al met die druiwerankie langs dat hierdie Jesus op pad is na Jerigo. Dalk is daar nou ‘n geleentheid om Hom te kan sien.
Daar heers gróót opgewondenheid in Jerigo. Jesus, die Groot Profeet van God is op pad. Al wat leef en beef stroom na die stad om Hom te siene te kry. Die nuus van die blinde wat so pas hier buite die stadspoorte genees is, laat dit gons deur die hele stad. Dit bereik ook Saggeus se ore en hy is opgewonde. “Vandag is die dag wat ek dalk ook met daardie Jesus sal kan praat!”
Hy waggel-waggel op sy kort beentjies agter die skare aan deur die stowwerige strate van Jerigo. Maar dan sak sy hart in sy skoene as hy die duisende mense sien wat om Jesus saamdrom. Met sy kort gestalte kan hy nie eers sien waar Jesus Hom bevind in die skare nie! Hy probeer deurdruk tussen die mense in, maar hulle stamp hom vererg weg. Wat het hierdie verraaaier verloor tussen hulle!?
Maar Saggeus gee nie moed op nie. ‘n Ent vorentoe staan daar ‘n reuse ou vyeboom langs die straat. Saggeus hardloop ‘n wye draai om die skare en al hygende en blasende klouter die koddige ou mannetjie in die vyeboom in. Hy glimlag baie in sy skik want hiervandaan kry hy ‘n prima-uitsig op die stoet wat verbykom. Hoekom het niemand anders daaraan gedink nie? Natuurlik doen dit niks vir sy waardigheid om te staan en boomklim op sy ouderdom nie! Maar wat-wo!
Stadig beweeg die massas onder hom verby. En dan mis sy hart ‘n slag: Jesus! Dis Hy! En Hy kom staan hier reg onder sý boom! Saggeus wil met Hom praat, maar skielik is daar nie woorde nie. Sy keel is droog en sy hart klop só woes dat hy nie ‘n woord uitkry nie! Dan gebeur die wonder as Jesus opkyk na hom: “Saggeus, kom gou af! Ek wil by jou tuisgaan vannag.”
Saggeus kan sy ore nie glo nie! Jesus het met hóm, ellendige ou Saggeus gepraat! En Hy wil by hom kom oorslaap! Dis mos onmoontlik! Is dit nie dalk maar net ‘n droom nie?
Daar gaan ‘n gebrom op uit die skare. Almal ken tog vir Saggeus, die afperser, die verraaier! Hoe kan Jesus Homself so verneder, so besoedel deur by hierdie ellendeling te wil tuisgaan? Selfs Jesus se dissipels kyk Hom snaaks aan. “Meester, hierdie is ‘n sondige man, ons kan mos nie by hom gaan bly nie?”
In Saggeus se luukse huis is alles in rep en roer. Alles moet nét reg wees want Jesus kom! Saggeus het klaar ‘n besluit geneem - hierdie waansinnige glanslewe van hom is nou iets van die verlede. Vandag is die keerpunt in sy lewe, want hy gaan sy rug draai op die gierigheid wat hom tot hier gedryf het. Hy gaan regmaak waar hy verbrou het, en helfte van sy besittings afstaan aan die arme mense wat hy deur die jare so gemelk het vir hulle swaarverdiende ou geldjies. Met trane in sy oë vertel hy later die aand vir Jesus dat hy al baie mense afgepers en verneuk het. Maar hy gaan dit alles regmaak! Hy gaan daardie geld vierdubbel vir sy slagoffers teruggee. Opregte berou, is wat Jesus in die hart van hierdie gebroke man sien. “Vandag het daar redding vir hierdie huis gekom.” Jesus se woorde is soos heerlike salf op die rou wonde van Saggeus, die man wat sy hart vir Jesus oopgemaak het.
As jy moontlik vandag in ‘n vyeboom sit, dalk uiters onwaardig, kan jy verséker wees dat Jesus reeds daar is! Hy wag alreeds lankal geduldig vir jou. As jy wil luister sal jy hoor dat Hy liefderyk vir jou sê: “My kind, klim af, Ek wil vandag deel van jou lewe wees. Ek wil saam met jou feesvier!” Sal jy nie maar gehoor gee nie? Sal jy nie ook maar soos Saggeus jou hart vir Hom oopmaak nie?
Gebed:
Here, my innige gebed gaan uit vir elkeen wat vandag hierdie dagstukkie lees, wat soekend is na U.