Die Manne Kry Stry

5 November, 2024
Luister Na Hierdie Dagstukkie Die Manne Kry Stry

Handelinge 15:35-41

VIDEO | OUDIO

Hoe belangrik is ‘n mens se integriteit? Op Paulus en Barnabas se eerste sendingreis het Johannes Markus hulle vergesel. Toe hulle in Pamfilië kom, het hy egter nie meer kans gesien om verder saam met hulle te gaan nie, toe draai hy om. Ons is nie seker wat sy redes was nie maar dit wil lyk asof hy net eenvoudig nie meer kans gesien het vir daardie harde pad nie. Kom ons wees maar eerlik, daardie eerste sendingreis was geensins maanskyn en rose nie! Dit was dikwels bitter moeilik want mense het hulle uitgejou, verwerp, vervolg en selfs gestenig! Paulus en Barnabas was egter só vasberade om die evangelie te verkondig, dat hierdie ou “terugslaggies” maar net so terloops gekom het. Hulle het dit afgeskud soos water van ‘n eend se rug en bloot voortgegaan met dít wat God vir hulle bestem het. Johannes Markus kon dit egter nie verwerk nie en hy het kop uitgetrek.

Wanneer jy so ‘n reuse taak vir die Here aanpak, moet jy eers gaan sit en baie goed bereken wat die koste sal wees. Dit is beslis nie vir elke mens om daardie soort van taak wat Paulus-hulle aangepak het, op jou skouers te neem nie. Debbie was 'n jong meisie wat destyds pas haar onderwys studies voltooi het toe sy besluit het om eers vir 'n ruk op ‘n sendingstasie iewers in die noorde van Mosambiek te gaan werk. Dit klink alles so romanties om daar op die uithoeke van die wildernis te werk. Sy moes egter ook eers die ware koste gaan bereken. Daar was beslis baie gevare daaraan verbonde en boonop was die afgesonderdheid en die harde lewe wat sy daar sou kry beslis nie vir sissies nie! Inderdaad het Debbie haar tydperk daar voltooi, maar eers nadat sy eers cholera opgedoen het en later ook malaria. Sy het bittere frustrasies beleef, veral met die burokrasie van die Mosambiekse regering. Die pad daarheen was bykans onbegaanbaar en die verbinding met die buitewêreld en haar geliefdes het vir alle praktiese doeleindes gladnie bestaan nie. Boonop was die naaste primitiewe winkeltjie ure se ry daarvandaan. Dit was ‘n harde tydperk in Debbie se lewe, maar sy het die integriteit gehad om deur al die dinge vas te byt en steeds haar volle vertroue op die Here te hou!

Dit het tyd geword dat Paulus en Barnabas die gemeentes gaan besoek waar hulle op hulle eerste sendingreis die evangelie versprei het. Uiteraard was daar nie ‘n leraar met jare se opleiding in die teologie in elke gemeente agtergelaat nie. Hulle moes dus gaan seker maak dat dít wat hulle die mense daar geleer het, wel ingesink het en beoefen word. Barnabas wou weer vir Johannes Markus saamneem en hom ‘n tweede kans gee om reg te maak waar hy verbrou het. Vir Paulus was hierdie egter ‘n baie seer sakie. As hy hulle eenmaal in die steek kon laat, kon hy dit dalk weer doen! Dit het ‘n hewige argument tussen hierdie twee goeie maats tot gevolg gehad, soveel só dat hulle besluit het om liewer elkeen sy eie koers te loop. Barnabas sou na die eiland Siprus gaan en Johannes Markus saam met hom neem terwyl Paulus na die gemeentes in Sirië en Silisië sou gaan. Silas sou hom op hierdie moeisame reis vergesel.

Wat hier gebeur het, was baie beslis nie ‘n lekker ding nie! Dit was tragies dat die twee reuse in die sendingveld moes stry kry oor ‘n helper. Hierdie twee bondgenote het saam die gemeente van Antiogië uitgebou tot ‘n modelgemeente wat vandag steeds vir ons ‘n wonderlike voorbeeld is. Saam het hulle ‘n hele aantal gemeentes tot stand gebring in Klein-Asië. Saam is hulle ter wille van die Evangelie vervolg, verjaag en uitgejou. Saam het hulle gestry vir die regte van die heidene op die historiese sinodevergadering in Jerusalem. En nou dít!

Aan die een kant wys dit maar net vir ons dat selfs die groot geeste soos Paulus en Barnabas ook maar net mense is wat soms ernstige meningsverskille kan hê. Maar aan die ander kant sien ons hierin dat Paulus kwaliteite soos volharding en integriteit só hoog geag het, dat hy selfs bereid was om eerder sy jarelange bondgenoot te verlaat as om met ‘n halfhartige helper in die Here se diens te staan. Ja, Paulus is die man wat so pragtig oor die liefde kon skryf - lees gerus maar 1 Korintiërs 13. Dieselfde Paulus staan egter só absoluut onverbiddelik teenoor die basiese beginsels!

Gelukkig kon Paulus ook vergewe! Ons lei af uit Paulus se briewe dat hy en Johannes Markus vrede gemaak het en dat die man selfs later as een van Paulus se helpers opgetree het en dat Paulus hom hoog geag het. (Filemon 24; Kol. 4:10 en 2 Tim 4:11). Inderdaad het Johannes Markus gaan regmaak waar hy verbrou het en ‘n nuttige werktuig in God se Koninkryk geword. Jou dade kan verrykende gevolge hê, veral wanneer dit ander mense raak. Besin dus eers baie mooi voordat jy ‘n besluit neem. En as jou besluit verkeerd was, is dit nóg belangriker om later te gaan regmaak waar jy verbrou het. Ewe belangrik is dat jy kan vergewe, net soos God bereid is om jou te vergewe vir jou oortredinge!

Gebed:

Here, vergewe my asseblief vir die talle male in my lewe waar my integriteit my in die steek gelaat het. Ek weet dat ek al soveel skade veroorsaak het!

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Om na God te Luister
26 August, 2026
‘n Volk Kom tot Inkeer
25 August, 2026
Die Ark is Terug
24 August, 2026
‘n Warm Patat
21 August, 2026
Die Ark is Gebuit!
20 August, 2026