2 Petrus 1:16-21
Iemand sê eendag vir my dat sy nooit óóit uit die Ou Testament lees nie: “Dis tog net propvol geweld, bloedvergieting en gruwelike stories! Maar die Nuwe Testament, dis dan mos van Jesus se liefde!” Nee, sy stel gladnie belang om die Ou Testament te lees nie, en sy weier selfs om te luister na my redenasies oor hoe belangrik die Ou Testament is, en dat dit deel van God se Woord is.
Ja, ons kan haar maklik veroordeel en sê: “Dom vroumens!” Maar wanneer ons die Bybel oopmaak om stiltetyd te hou, waar val hy gewoonlik oop? By die Nuwe Testament. Dan kan ons mos nie oordeel nie!
Ons sien in hierdie gedeelte wat Petrus skryf, hoe belangrik die Ou Testament werklik is vir gelowiges. Dit is beslis nie maar net bedoel vir die Jode van ouds nie. Ek het met groot huiwering ‘n paar jaar gelede een van die Ou Testamentiese boeke gebruik vir ‘n reeks dagstukkies. En was ek aangenaam verras! Sedertdien het ek alreeds 15 van die Ou Testamentiese boeke vir dagstukkie-reekse gebruik, en elkeen was vir my ‘n openbaring!
Petrus wil vir sy lesers die feit oordra dat die dinge wat hy in hierdie brief belowe nie maar net storietjies is nie, maar dat dit die reine waarheid is. Sy uitgangspunt is die boodskap van die Ou Testamentiese profete. Elke gelowige kan hierdie dinge nagaan. Lees maar gerus wat Jesaja geskryf het oor die Messias, honderde jare voor die koms van die Heiland. Maar Jesaja is nie die enigste nie, feitlik al die boeke van die Ou Testament wys op die een of ander manier na die belofte van die Messias wat moes kom om die verlorenes te red.
Ja, inderdaad is daar dinge in die Ou Testament wat ‘n mens laat gril! Sommige dele behoort moontlik selfs ‘n ouderdomsbeperking op te hê! As ons nie versigtig is nie, kan ons dalk vir God sien as ‘n God van oorlog en bloedvergieting in sommige verhale.
Daar is egter ‘n geheim in die lees van die Ou Testament, en dit geld ewe veel ook vir wanneer jy die Nuwe Testament lees. Jy moet die Heilige Gees toelaat om jou die ware boodskap te laat raaksien, selfs in die dele waar geweld seëvier.
Dit is baie belangrik dat ons moet weet teen watter agtergrond ‘n spesifieke gedeelte geskryf is, en watter boodskap die skrywer, onder leiding van die Heilige Gees vir sy lesers wou oordra. Om ‘n voorbeeld te gebruik: Die Israeliete was tydens die ballingskap totaal platgeslaan. Hulle is weggevoer uit hulle land, en hulle is ballinge in ’n vreemde land. Dan praat die skrywers van die Genesisverhaal hulle moed in deur te vertel waar alles vandaan kom - dat God die Skepper is van alles. Later in die verhaal verduidelik die skrywer van Abraham, en dat God die land aan hom en sy nageslag gegee het. Hy skryf van Isak, Jakob en Moses, en hoe die land uiteindelik ingeneem is. En regdeur dit alles maak hy dit baie duidelik dat dit nie die volk se goeie vegters, hulle wysheid en Godsdienstigheid is nie, maar slegs God se genade wat aan hulle die land besorg het. En daardie land is steeds hulle s’n! Hierdie gebeure is beskryf, in sommige gevalle selfs duisende jare nadat dit plaasgevind het.
Maar wat het dit nou met ons vandag te doen? Die wonder is dat daardie geskrifte deur die Heilige Gees geïnspireer is, en dat dit tydloos is. Vandag is die boodskap wat ons daaruit kry anders as die boodskap aan die oorspronklike lesers, maar dit is steeds nét so relevant, omdat ons dit vandag lees deur die bril wat die Heilige Gees ons gee.
Petrus het egter ook ‘n ander troefkaart wanneer hy hierdie wonderlike boodskap aan sy lesers oordra: hy was ‘n ooggetuie! Ja, inderdaad het hy Jesus persoonlik geken! Hy het vir ‘n volle drie jaar elke dag saam met Jesus deurgebring en hy het al daardie wonderwerke, die preke en die gelykenisse beleef. Hy was selfs een van die bevoorregtes wat daar saam met Jesus op die berg van verheerliking was, waar hulle die stem van God uit die hemel gehoor het: “Dit is My geliefde Seun oor wie Ek My verheug.” En by daardie geleentheid het die Ou Testament en Nuwe Testament bymekaar gekom toe Moses en Elia daar aan hulle verskyn het. Hy het dit met sy eie twee oë aanskou! Hy kan getuig dat dit die reine waarheid is!
Petrus het nie hierdie brief geskryf vir my en jou vandag nie, maar vir die mense van sy eie tyd. Hulle het gebukgegaan onder groot verdrukking. Boonop was daar dwaalleraars wat hulle allerhande verkeerde dinge wou leer. Dit was 2000 jaar gelede. Maar weereens was die Heilige Gees Petrus se inspirasie. Dit het gemaak dat daardie brief totaal tydloos is sodat ek en jy vandag nét soveel waarde daaruit kan put as Petrus se eerste lesers tydens Nero se regering.
Petrus sluit die hoofstuk af met twee uiters belangrike stellings: Eerstens, dat die Skrif ontstaan het deur die Heilige Gees se inspirasie. Tweedens, dat ons slegs die Bybel kan verstaan wanneer ons toelaat dat die Heilige Gees dit vir ons uitlê.
Gebed:
Here, dankie vir U Heilige Woord wat vandag steeds lewendig en relevant is.