Johannes 1:29-34
Händel het jare gelede die asemrowende Paaskantata “Die Messias” geskryf. Meeste mense onthou egter net die Hallelujakoor daaruit. In die kantata is daar egter 'n hele reeks wonderlike liedere. Vanoggend weerklink een van die aangrypende gedeeltes uit Händel se Messias in my gedagtes: “Behold: The Lamb of God! Behold: The Lamb of God!” Dit eggo deur my hele wese. “Dáár is die Lam van God”.
Wat het Johannes só ‘n ding maak sê? Sékerlik moes Johannes vir Jesus geken het as kind en jong man. Hulle was immers familie. Johannes moes ‘n vermoede gehad het wie Jesus waarlik was, want as ons die gedeelte oor Jesus se doop lees in Matteus 3:13-17, sien ons hoe Johannes terugdeins wanneer Jesus hom versoek om Hom te doop. Hy het homself nie waardig geag om Jesus te doop nie. Maar die bevestiging op sy vermoede het eers gekom direk na die doop, toe die groot wonder gebeur wat Johannes in sy diepste wese geruk het. Die wonder van die hemel wat voor sy oë oopgegaan het, en die Heilige Gees wat neerdaal op Jesus in die vorm van ‘n duif. En dan daardie stem uit die hemel, die stem wat alleen aan God kan behoort: “Dit is My geliefde Seun. Oor Hom verheug Ek My.”
Baie mense is onder die indruk dat die Heilige Gees slegs in die Nuwe Testamentiese konteks gemeld word. Dit is egter nie waar nie. In die eerste verse van Genesis (Gen 1:2) sien ons al dat die “Gees van God” betrokke was by die skepping. Ons sien ook telkemale dat die Heilige Gees op belangrike persone met ‘n spesifieke taak gekom het, soos konings, profete en rigters. In 1 Samuel 10:10 lees ons só van Saul: “Die Gees van God het kragtig in hom gewerk”. Mense soos Gideon, Simson en Dawid is byvoorbeeld deur die Heilige Gees gesalf.
Wanneer die Heilige Gees dus op Jesus kom, kry Hy ‘n spesiale taak wat Hy moet uitvoer, waarvoor die Gees Hom ‘n besonderse krag gee. Sy openbare bediening begin van hierdie dag af, en mense staan verstom oor die dinge wat deur Hom gebeur.
Drie jaar later gebeur die grootste wonderwerk egter, toe Jesus die Heilige Gees “aangee” aan alle gelowiges. Skielik is die krag van die Heilige Gees nie meer beperk tot slegs uitgesoekte, spesiale mense nie, maar is dit tot beskikking van elkeen wat deel is van die gesin van Jesus.
Dit is hierdie gebeure wat Johannes die profetiese woorde laat sê het: “Dáár is die Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem”. Hierdie “Lam” na wie Johannes verwys kon ook een van ‘n paar betekenisse hê: Dit kon die Paaslam wees wat geslag is ter herinnering van Israel se verlossing uit Egipte. Of die Offerlam wat elke dag volgens die voorskrifte in Eksodus 29:38-42 geoffer is. Dit kon egter ook die skaap of bok wees wat op die groot Versoendag in die woestyn ingestuur is om die volk se sondes weg te neem.
Dit maak egter nie saak watter een van hierdie moontlikhede ons kies nie, die boodskap bly presies dieselfde. Al het Johannes dit op daardie stadium nie besef en verstaan nie, was Jesus die Lam wat geslag/geoffer sou word in die ware sin van die woord. Hy sou drie jaar later wreedaardig “geslag” word as finale offer tot versoening van die volk se sondes. Maar dié slag nie alleen vir Israel se sondes nie, maar vir die ganse wêreld s’n. As Paaslam kan ons vandag Sy slagting herdenk. Nie oor die Israeliete se verlossing uit Egipte nie, maar oor óns verlossing van die mag van die sonde.
As ons mooi oor die ware betekenis van hierdie woorde dink, dan kan ons maar net in dankbaarheid voor ons Verlosser neerval, want die prys wat Hy betaal het is onmeetlik groot. Die feit is dat God ‘n regverdige Regter is, en dat Sy heilige Wese so skoon en rein is, dat Hy nie anders kan as om die swaarste straf te gee vir sonde nie. Daar is nie plek vir sonde in God se Koninkryk nie, dus moet die persoon wat teen Hom sondig die straf van die hel kry, ‘n ewige straf, weg van die aangesig van God af. Jesus het egter as Offerlam met Sy lewe betaal, en die straf op Hom geneem sodat ek en jy vrygespreek kan word van daardie verskriklike straf. Daar is egter ‘n voorwaarde, een wat Johannes later onomwonde uitspel: Om jou geloof in Jesus te vestig.
En daarom kan elkeen wat deel het aan daardie offer van die Lam vandag Jubel en die Here dank deur ‘n lewe van dankbaarheid te leef. Die “pakket” wat Jesus egter bied is baie groter as net ‘n lewe van dankbaarheid, want soos ons reeds gesien het is die Heilige Gees deel van hierdie nuwe lewe wat Hy gee. Die Heilige Gees maak die Woord van God vir jou lewend, en nou is die Bybel nie meer net ‘n geskiedenisboek vol mooi stories en gedagtes nie, maar dit word God se riglyn vir jou totale lewe. Soos wat die Heilige Gees vir Jesus krag gegee het en toegerus het vir Sy bediening, en so ook later vir die apostels, so doen Hy vandag ook vir my en jou as ons Hom toelaat.
Gebed:
Dankie Here, dat U ook die Heilige Gees vir ons gegee het.