Openbaring 5
‘n Baie dramatiese toneel speel af rondom God waar Hy sit op Sy troon. In Sy regterhand hou Hy ‘n verseëlde boekrol vas, maar daar is niemand wat dit kan oopmaak nie. Johannes raak diep bedroef omdat niemand waardig is om die boekrol oop te maak nie. Wat gaan hy tog doen? Dan draai ‘n ouderling na Johannes toe en troos hom. Daar is tóg Iemand wat dit kan oopmaak - die Leeu uit die stam van Juda, die Oorwinnaar.
Die visioen bereik ‘n klimaks wanneer die LAM, wat tussen die Troon en die ouderlinge staan, in plaas van die Leeu, die boekrol in ontvangs neem. Dan volg 'n huldebetoning van almal wat die Troon omring - die ouderlinge en die lewende wesens. Hulle bring hulde aan God en die LAM met siters en wierook uit goue bakke (die gebede van die gelowiges). En hulle sing ‘n splinternuwe lied: “U is waardig om die boek te neem en die seëls daarvan oop te maak omdat U geslag is en met U bloed mense vir God losgekoop het uit elke stam en taal en volk en nasie. U het hulle ‘n koninkryk en priesters vir ons God gemaak en hulle sal oor die aarde regeer.”
Die vraag is: wat beteken al hierdie dinge dan? Dis tog nie maar net ‘n mooi droom nie! Inderdaad het elke klein detail groot waarde. Die hele toneel is propvol gepak met simboliek.
Kom ons begin by God se regterhand. Dit simboliseer Sy krag en almag waarmee Hy die skepping regeer.
Die boekrol is simbool van die ganse geskiedenis. Inderdaad moet daar nog baie dinge gebeur. Hierdie boekrol bevat God se Meesterplan vir die wêreldgeskiedenis.
Die feit dat die boekrol verseël is met 7 seëls, sê vir ons dat dit volkome geslote en ontoeganklik is. Belangrike Romeinse dokumente was só opgerol en verseël.
Die vraag is, waarom maak God dan nie Self die boekrol oop nie? Natuurlik kon Hy dit self oopmaak, maar hier gaan dit nie oor ‘n Magsdaad nie maar oor ‘n Middelaarsdaad. Verder moes die Een wat dit oopmaak ook uitvoering gee aan die inhoud van die boekrol.
Wanneer niemand gekry kan word wat die boekrol kan oopmaak nie, raak Johannes bitterlik bedroef, en hy bars in trane uit. Waarom? Dit is trane van teleurstelling en ontsteltenis. As God se Raadsplan nie uitgevoer word nie, dan is daar geen beskerming vir Sy kinders nie. Daar sal geen oordeel wees oor die wêreld wat die kerk so wreed vervolg nie. Maar Johannes word getroos deur een van die ouderlinge wat, soos ons gister gesien het, die kerk verteenwoordig: Die Leeu uit die stam van Juda, die Oorwinnaar, Hy sal die boekrol oopmaak.
Nou word die Lam wat geslag was, beskryf: Hy het sewe horings en sewe oë. Die horings dui simbolies op Jesus Christus se volkome Mag en Heerskappy. Die oë dui op Sy volkome gesigsvermoë, oftewel Sy Alwetendheid. Die sewe oë word ook beskryf as die 7 Geeste van God, met ander woorde die Heilige Gees. Die verwysing na die Lam wat geslag was sê dat Jesus Christus God se Paaslam is. Hy het in ons plek op Golgota gesterf. Jesus Christus is alreeds die Oorwinnaar, maar vir ons is Sy heerskappy dalk nog nie volledig sigbaar nie. Met Sy wederkoms sal elke oog Hom egter sien en Sy koningskap sal dan volledig sigbaar wees.
Die groot oomblik breek aan wanneer die Lam die boekrol neem. Die ouderlinge en die lewende wesens kom kniel voor Hom neer, en dan weerklink die hemelse klanke van ‘n nuwe lied. In die eerste strofe word die waardigheid van die Lam besing, en ons as vrygekooptes kan alreeds deel in die heerskappy. Ons kan leef as mede-oorwinnaars in Christus. In die tweede strofe besing miljoene der miljoene engele die waardigheid van die Lam: Mag, rykdom, wysheid, sterkte, eer, heerlikheid en lof, almal God se eienskappe, word nou aan die LAM toegedig. Die derde strofe is die klimaks van die nuwe lied. Hierin bring die ganse skepping lof aan God en die Lam, as die grootste loflied van alle tye deur die hemelruim weerklink.
Vandag kan ek en jy as God se vrygekoopte kinders jubel en juig en in Dankbaarheid en Aanbidding neerval voor Hom, die Koning van die Konings, die Geslagte Lam. Inderdaad het Hy ook vir jou en my uit die duisternis van die sonde geruk tot Sy Wonderbare Lig! Ons troos is dan ook, in hierdie tye van verskrikking en misdaad, oorlog, verdrukking, massamoorde, rooftogte, verkragtings, bedrog en nou nog boonop die verwoestende Kovid 19 virus wat so oor ons land en oor die ganse wêreld spoel, dat wat ookal gebeur, niks vir jou en my ooit van Jesus se liefde kan skei nie! Watter wonderlike troos, sekerheid en vrede is dit nie!
Gebed:
Ek val vanoggend voor U neer in aanbidding, Here Jesus, want U is waardig! Aan U kom toe, al my lof en dank en aanbidding.