Genesis 1:26-28
As ons oor liefde in die Bybel wil skryf, waar begin jy? Reg by die begin, by die skepping. Op die laaste skeppingsdag wou die ganse skepping bars van opgewondenheid, want uiteindelik was alles gereed vir die kroon op God se skepping.
Met groot sorg het God die heelal gevorm tot ‘n meesterstuk. Die aarde word uniek gemaak sodat lewe daar gevestig kon word. Met Sy fyn kunstenaarshande vorm God hierdie groen planeet en maak dit bewoonbaar. Hy vestig plante daarop om as kos te dien vir ‘n verskeidenheid diere, maar ook om broodnodige suurstof te vervaardig waarsonder diere nie kan lewe nie. Wanneer alles gereed is, vestig Hy die seediere, voëls en uiteindelik ook die landdiere. Dit is ‘n absolute juweel! Die aarde, alhoewel dit relatief klein is in die heelal, is die kroonjuweel van Sy skepping. God het gesien dat dit goed is! Maar dit was nog steeds nie klaar nie. Daar was nog één laaste item op God se agenda.
Dan uiter Hy die verrassende woorde: “Kom Ons maak die mens as ons verteenwoordiger.” God wou iemand op hierdie wonderlike “kroonjuweel” plaas om Hom te verteenwoordig. Daar moes iets van Homself wees in hierdie persoon, en Hy wou hom aanstel om Sy skepping te bestuur namens Hom.
Let wel dat God hier van Homself in die meervoud praat. Verwys dit na die Drie-eenheid, Vader, Seun en Heilige Gees? Ons kan nie met sekerheid sê nie, maar met wie God hier beraadslaag is nie belangrik nie. Die beeld wat gebruik word is wel van uiterste belang. Wanneer God sê: “Kom Ons maak die mens na Ons beeld,” sien jy dadelik die prentjie van ‘n groot koning wat beraadslaag met sy raadgewers wanneer hy ‘n baie besonderse en belangrike taak aanpak.
Die mens is vir God baie besonders, en hy word absoluut uniek en met groot liefde geskep, totaal anders as enige van die ander skepsele. Hy word God se verteenwoordiger en dit beteken dat daar ‘n besonderse verhouding tussen hom en God moes wees. As jy iemand verteenwoordig, stel jy jouself in daardie persoon se plek, en om dit te kan doen moet jy hom deeglik ken en moet julle mekaar verstaan. Jy sal weet wat hy sou wou hê. Jy is dus amper ‘n afbeelding van daardie persoon wie jy verteenwoordig. So was die bedoeling van God, dat die mens in ‘n besonderse verhouding met Hom sou staan en Sy wil doen. Omdat God die Koning by uitstek is, kry die mens dus ook outomaties Koningsgesag. Dus sê God dat die mens moet heers oor die diere. Hy kry volle gesag van God om te regeer oor die skepping namens God. Maar hy kry ook die opdrag om die aarde te vul en te bewerk.
Vandag weet ons baie goed dat mense nie almal dieselfde is nie. Maar één ding staan uit soos ‘n paal bo water, dat elke mens nog steeds vir God iets besonders is, nét soos met die skepping van die eerste mens. Ek en jy is steeds geskep na die beeld van God. Ons is steeds Sy verteenwoordigers, maak nie saak wie of wat ons is nie. As ons Hom verteenwoordig, moet ons ook iets van Sy beeld vertoon, iets van Sy regverdigheid, en veral van Sy groot liefde. Die Bybel leer ons dat God liefde is, dus moet daardie liefde ook in ons as Sy verteenwoordigers reflekteer.
Die héél belangrikste element is natuurlik dat daar ‘n verhouding moet wees tussen ons en God. Hoe kom jy in so ‘n verhouding? Eenvoudig, deur geloof in Jesus Christus. Hiermee bedoel ek nie slegs om te glo dat Hy bestaan nie, maar ook om Hom in die geloof aan te neem as jou Saligmaker. As Sy verteenwoordiger leef jy dan Sy beeld van liefde uit teenoor God in die eerste plek asook teenoor jou medemens, soos wat Jesus vir ons kom demonstreer het. Hy het fisies op aarde kom wys hoe so ‘n verteenwoordiger behoort te lewe.
Die wonderlike is dat dit nie maar net ‘n paar uitgesoekte, spesiale gelowiges is wat God kan verteenwoordig nie, maar dat elke gelowige die vermoë kry om dit te kan doen. Jy moet jouself net gewillig verklaar. Die Heilige Gees sal jou daarin lei.
In die tweede plek gee God vir my en jou as gelowiges ook elkeen dieselfde gesag om te heers as wat die eerste mens gekry het. Die mag om te kan heers is aan my en jou toevertrou. Jy kan dus besluite neem oor jouself asook ander mense en die skepping. Maar jy moet dit altyd baie goed onthou, dat die mag om te heers ook ‘n baie groot verantwoordelikheid inhou. Dit beteken byvoorbeeld nie dat jy maar kan maak en breek soos jy wil nie. Om jou mag te misbruik en ander mense uit te buit, is totaal verkeerd.
Om te heers beteken om met oorleg te bestuur, bou, beskerm, bewaar. Onthou, jy is die verteenwoordiger van God, en dus moet jy jouself altyd die vraag afvra of jy steeds namens God regeer en Sy belange in gedagte hou, en of dit dalk vir eie gewin gebeur.
Om te bewerk is eweneens ‘n groot verantwoordelikheid. Bewaar ek wanneer ek bewerk? Of buit ek God se skepping uit?
Gebed:
Here, dankie dat ek U verteenwoordiger kan wees. Maak my asseblief ‘n waardige verteenwoordiger vir U.