Die Krag In Ons

16 April, 2026
Luister Na Hierdie Dagstukkie Die Krag In Ons

2 Korintiërs 13:1-13

VIDEO | SPOTIFY

Baie jare gelede nooi ‘n sendeling my eendag om saam met hom ‘n Hindoe fees by te woon. Dit is nou nie eintlik my gewoonte om by sulke feeste rond te hang nie, en ek wil dit ook nie vir enige gelowige aanbeveel nie, want daar kraai die duiwel letterlik van die lekkerkry! Jy kan sy walglike teenwoordigheid ruik en voel en sien! Ons wou egter vir onssélf sien wat daar gebeur, want niemand kan dit vir jou beskryf nie. Ons het ook wel dééglik besef dat ons daar met die opperhoof van onheil te doen sou kry, en daarom het ons ons besoek biddend gedoen! Wat ek egter daardie dag beleef het, het ek my in my wildste drome my nie kon indink nie. Dit is ingebrand in my geheue, en elke keer as ek daaraan dink, sidder ek opnuut!

Dis ‘n koue, nat dag en die reën sif saggies neer. ‘n Kleurvolle waentjie iewers tussen die dansende aanbidders trek my aandag: dit is twee meter hoog en versier met blomme en prente van Hindoe-afgode wat die waentjie versier. Daar is ’n gedierte met ’n mens se gesig en ’n olifant-slurp, ’n mens met ’n aapgesig, en ’n verleidelike vrou met ses arms. ’n Vaal, patetiese, brandmaer mannetjie, geklee net in ‘n kortbroekie, staan sopnat gereën en bibber van die koue langs sy karretjie. ‘n Priester in ’n wit gewaad kom ingesweef. Hy prewel al singende ’n onverstaanbare rympie terwyl hy en die maer outjie ‘n olielampie aansteek. Al bibberende en prewelende begin die patetiese kêrel rondom sy waentjie loop. Ek skrik my yskoud as ek sien hoe die bedremmelde figuur algaande ’n metamorfose ondergaan, van bewende swakkeling na ‘n selfversekerde wese. Ja, ‘n “wese” - beslis nie meer ‘n mens nie! Sy wilde, rollende oë spoeg vuur na my - die oë van ‘n wilde dier! Hy bult sy spiere. Die koue het skielik vir hom totaal verdwyn!

Die priester bring iewers uit sy wit gewaad ‘n handvol vishoeke te voorskyn, nie die soort waarmee jy sardientjies vang nie - dis gróót menere wat vir haaie bedoel is! Ek maak my oë toe as hy die hoeke een-vir-een deur die man se rugvel haak. Ek sidder. Hy knip nie ‘n oog nie! Nie ‘n druppel bloed nie….. Sy gesig is wild en sy oë rol. Hy steek sy tong ver uit, soos ‘n bees met malsiekte. Die priester druk ‘n dik breinaald deur sy tong, en nóg ‘n halfdosyn, ook deur sy wange, eenkant in en anderkant sy mond uit. ‘n Naarheid styg uit my maag op. Die swaar waentjie word met toutjies aan die hoeke in die man se rug vasgemaak, en hy begin aanstap daarmee. Hy sleep sy wa al dansende oor die bult en verdwyn.

Ek het genoeg gehad van hierdie onheil! Ek wil huistoe. Ek wurm my deur die dansende, wriemelende massas. Ek sien vroue met kokosneute wat aan hoeke aan hulle borste hang terwyl hulle dans en die swaar kokosneute op en af spring. Wilde gesigte wat kyk maar nie sien nie - dierlike wesens met penne besteek soos ystervarke, staar na my uit alle rigtings. Elkeen is gevul met ‘n ongekende bose krag wat hulle liggame totaal oorgeneem het.

Die duiwel is ‘n werklikheid wat jy nie mag miskyk nie! Hindoes leef gedurig in vrees en bewing. want hulle weet dat die demone hulle enige tyd kan oorval. En hulle is bitter bang!

As ek en jy Hom toelaat, sal die Here ook óns lewens vul, maar op ‘n totaal ander wyse! Die Hindoe het nie meer beheer oor sy lewe nie, want die duiwel oorheers hom. Die Here gee my egter volle beheer van my lewe. Ek kan sélf besluit in hoe ‘n mate ek wil toelaat dat Hy my beheer. Die duiwel gee die Hindoe uiterlike krag - die Here vul ons met innerlike krag. Die Hindoe se god vul hom met vrees - God almagtig vul ons met vrede, liefde en lewensvreugde. Die mag van die duiwel is beperk - die mag van God is onbeperk, en absoluut niks is vir Hom onmoontlik nie!

Jy kan ook sélf bepaal tot hoe ‘n mate die Heilige Gees jou lewe kan vul. Ja, inderdaad is die Heilige Gees binne-in jou as jy ‘n kind van God is, maar jy moet plek maak vir Hom as jy meer van Hom in jou lewe wil hê. Hoe meer ek van die sonde in my lewe ontslae raak, en hoe meer intens ek God dien en in ‘n verhouding ek met Hom leef, hoe meer plek is daar vir die Heilige Gees in my!

Ons het gesien dat die duiwel ‘n werklikheid is, maar is God ‘n werklikheid? Ja, duisendmaal JA! Paulus sê dat Christus deur hom praat. Dit is byvoorbeeld een bewys dat God ‘n werklikheid is. Nét só gebeur hierdie oordenkinge ook nie maar toevallig nie, maar God het ‘n doel met elkeen van hulle, al is dit net om een enkele mens se hart aan te raak. Nee, dit is nie ék wat die goeie skrywer is nie. Ek laat maar net die Heilige Gees toe om my te gebruik om die boodskap oor te dra. Is dit nie al klaar genoeg bewys dat Hy ‘n werklikheid is nie?

Paulus sluit sy brief aan die gemeente in Korinte, asook aan jou en my, af met ‘n vermaning: “wees altyd bly, streef na vervolmaking, aanvaar vermaning, wees eensgesind, leef in vrede.” Dan groet hy met die wonderlike woorde: “En die God van liefde en vrede sal met julle wees!

Gebed:

Here, ek bid vir elke persoon wat hierdie reeks oordenkinge oor Korintiërs gelees het. My innige gebed is dat dit tot groot seën in elkeen se lewe sal wees!

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Die Ark is Terug
24 August, 2026
‘n Warm Patat
21 August, 2026
Die Ark is Gebuit!
20 August, 2026
Luister en Doen
19 August, 2026
Wanneer die Here Praat
18 August, 2026