Lukas 2:1-3
Dis die jaar 7vC. Voorbladnuus in die koerant van Rome is dat die hooggeagte Keiser Augustus so pas ‘n bevel uitgevaardig het dat daar ‘n wêreldwye sensus gehou gaan word van al die inwoners van die Romeinse Ryk.
Op die voorblad pryk ’n skets van die magtige wêreldheerser, keiser Augustus, ‘n ongeduldige half-god, half-mens. Een van die Keiser se slawe, wat om veiligheidsredes nie sy naam genoem wil hê nie, vertel dat Augustus geskree het: “Ek wil weet presies hoeveel onderdane ek in my ganse ryk het!” Sy amptenare het na bewering naarstigtelik rondgespring om sy bevel onmiddellik uit te voer.
In Sirië is dit egter Goewerneur Sirenius wat voorbladnuus haal. Hy het die reuse taak gekry om die keiser se bevel in werking te stel.
In die “Palestina vir Ewig,” die plaaslike Jerusalem koerantjie, handel die hoofberig oor die chaos in Betlehem. Die verslaggewer vertel dat hierdie ou stadjie uit sy nate bars. Van heinde en verre stroom ‘n groot menigte mense onophoudelik daarheen vir die sensus. Dit is interessant dat feitlik almal afstammelinge is van die groot Koning Dawid. Die niksseggende ou plekkie was destyds glo die persoonlike eiendom van Dawid.
Op bladsy 5 verskyn die aangrypende beriggie van ‘n timmerman wat ál die pad van Nasaret af na Betlehem moes kom vir die sensus. Saam met hom was sy hoogswanger bruidjie, skaars veertien jaar oud. Vir hierdie tweetjies was daar nêrens ‘n slaapplekkie nie, buiten in 'n vuil, stinkende stal. Die uitmergelende reis was glo een te veel vir die vroutjie, en haar Baba is nét daar in die stal gebore.
Lukas beskryf in enkele sinnetjies die geboorte van Jesus, so asof dit ‘n alledaagse gebeurtenis was. Daar is egter baie, baie meer in hierdie verhaal as wat die oog tref.
Eers is daar die hoofspelers: aan die een kant het ons twee magtige politieke figure, keiser Augustus en sy handlanger, Sirenius, goewerneur van die groot streek Sirië. Aan die ander kant sien ons twee doodgewone mense sonder enige status, Josef en Maria. Augustus se mag was astronomies, en baie mense het hom gesien en selfs aanbid as ‘n soort god. Hy was in beheer van die ganse wêreld. Josef se eenvoudige lewenswyse was géénsins noemenswaardig nie, en Maria, as jong vrou, se status was totaal niksseggend.
Augustus kondig ‘n wêreldwye volkstelling af. Dit was ‘n ongewone bevel van astronomiese omvang. Die Romeine het wél sensusse gehou vir hulle eie burgers asook vir die plaaslike bevolking vir belastingdoeleindes. ‘n Wêreldwye volkstelling was egter ongehoord, want die logistieke probleme rondom só ‘n aksie was net eenvoudig te groot. Om dinge te vergemaklik moes elke inwoner na sy voorgeboortelike dorp gaan, ‘n totale ontwrigting van die samelewing, want vir baie mense het dit ‘n reis van dae of selfs weke beteken.
Ten spyte van die omvang van Augustus se operasie, het die gebeurtenis totaal in die vergetelheid verdwyn, en selfs in die annale van die geskiedenis word dit nie eers vermeld nie. Die paralelle gebeurtenis, die geboorte van die twee feitlik onbekende mensies in die eenvoudige gehuggie van Betlehem se baba, word wêreldwyd selfs vandag, tweeduisend jaar later, steeds as die gebeurtenis van alle tye onthou. Waarom?
Die antwoord, in kort, is: GOD!
Die feit is dat dit Gód is wat vir Augustus gebruik het om hierdie ongewone ding te laat gebeur. Was dit nie hiervoor nie, sou Josef nooit, ooit vir Maria na Betlehem geneem het in haar toestand nie. En Jesus móés in Betlehem, die Dawidstad gebore word, só is dit immers voorspel deur die profete!
Tweedens was dit baie belangrik dat Hy in ‘n stal gebore móés word, en dat Sy eerste bedjie ‘n krip sou wees waaruit diere vreet. Só het Hy alreeds by geboorte die lydensweg begin. Dáárom die volkstelling. En daarom die horde mense wat Betlehem oorstroom het, sodat daar nêrens elders vir Josef en Maria plek sou wees as in ‘n vuil stal nie. Is dit nie absolute Goddelike ingryping nie?!
Baie mense wil hierdie dinge verklaar deur te sê dat dit ‘n wonderlike sameloop van omstandighede was. Nee! Die hele gebeurtenis was haarfyn deur God beplan om uit te werk tot op die sekonde en die presiese, regte plek. Kyk ons na die ander weergawes van hierdie gebeurtenis, dan sien ons dat selfs die sterre en planete presies reg gereageer het volgens God se bevel om hierdie groot gebeurtenis te beklemtoon.
Ons staar ons dikwels blind teen die Kindjie in die krip, en vergeet om die groter prent raak te sien, die prent van hoe die almagtige God alles laat gebeur het soos wat Hy dit beplan het. Om dit selfs duideliker vir ons as mense te maak, het Hy hierdie dinge in die Skrif laat opteken deur Sy profete, honderde jare voordat dit plaasgevind het. Voor só ‘n God kan ons net neerval in aanbidding.
Gebed:
Here, vanoggend staan ons in verwondering oor U almag. Ons loof en prys U grote Naam.