Die Jode Verwerp Jesus

14 April, 2022
Luister Na Hierdie Dagstukkie Die Jode Verwerp Jesus

Johannes 12:37-50

VIDEO * OUDIO

Deur die eeue, en veral in die vroeë Christelike kerk, was daar dikwels die knellende vraag: Waarom was daar so min Jode wat uiteindelik in Jesus geglo het? Hy het immers ál hierdie wonderwerke voor hulle oë gedoen en selfs mense uit die dood opgewek! Hulle het verstom gestaan oor alles en die wyshede wat uit Sy mond voortgevloei het was ver verhewe bo die menslike. Waarom het die Jode Hom nooit aanvaar nie? Inderdaad was dit die heidenwêreld wat uiteindelik aan die brand gesteek is deur Jesus se optrede!

Was dit maar bloot deel van God se plan? Ons sal nie weet nie, maar een ding is baie seker: Hy het geweet dat dit sou gebeur! Hy het dit immers al baie jare tevore voorspel deur Sy profete. In Jesaja 6:9,10 lees ons hoedat die Here vir Jesaja gesê het dat die volk die dinge sou aanskou en hoor en dit nogtans nie raaksien en begryp nie. En in Jesaja 53:1 sug die profeet dat die volk nie die mag van die Here sal raaksien in hierdie gebeure nie en dat hulle dit nie sou glo nie!

O, daar was wel ‘n klein handjievol wat uiteindelik geglo het, ‘n baie klein persentasie van die reuse groep wat gesing het: “Hosanna! Hosanna!” Daar was selfs van die Joodse leiers wat geglo het, maar so tragies, het hulle in die geheim geglo, want as dit in die openbaar sou uitkom, was hulle uit die sinagoge en die samelewing, wat vir hulle so baie beteken het, geban!

Ons wil vandag so maklik sê: “Maar dit is so onregverdig! Hulle is dan die volk van God! Hy het hulle mos uitverkies!”

Is dit rêrag onregverdig? Dit wil amper vandag lyk asof die Here die Joodse volk verwerp het. As dit die geval was - sou ons kon sê dat die Here nie regverdig was teenoor hulle nie? ‘n Skrikwekkende bewering!

Kom ons gaan blaai ‘n bietjie in die geskiedenisboeke van die Joodse volk en dan besluit ons maar self. Alles het alreeds begin by die oervaders, Adam, Noag en Abraham, waar die wonder van God uitgespel was aan hierdie manne. Hulle het God intens beleef en as ons mooi gaan lees, sien ons dat hulle dikwels persoonlik met God te doene gekry het. Hy het saam met Adam in die tuin gewandel en met hom gesels. Abraham het Hom soos ‘n mens gesien en selfs saam met Hom geëet en met Hom gesels. Jakob, die vader van die Israeliete, het selfs met Hom gestoei by die Jabbokdrif en hy het God op Sy troon gesien sit. Moses het Hom persoonlik ontmoet op die Sinaiberg. Later, gedurende die uittog was Moses gedurig in gesprek met Hom in die tent van samekoms, en die volk het dit in verwondering aanskou. God het daar in volle heerlikheid verskyn!

Wat was die volk se reaksie? Na alles wat hulle gesien en ondervind het, het hulle gedurig gekerm en gemor en gekla en selfs afgode aanbid. Dit was ‘n klap in die gesig van God. Toe hulle, ten spyte van hulle ongeloof en weerbarstigheid, uiteindelik in die beloofde land aankom, kry hulle die wonderlikste leiers in Samuel, Dawid, Elia, Jesaja en nog baie meer, wonderlike mense wat met God gewandel het en die volk van Hom geleer het. Wat doen hulle? Hulle het baklei, afgode aanbid, die profete vermoor en keer op keer hulle rug op God gedraai!

In kort kan ons sê dat die Joodse volk vir Jesus oor duisende jare intens beleef het soos geen ander volk op aarde nie. Tóg verwerp hulle Hom. Maar steeds is die Here se genade nie uitgeput nie en Hy stuur Jesus om in ‘n menslike vorm as Sy gesant na die aarde neer te daal. Waarheen? Na hierdie einste Joodse volk! Wat doen hulle met Hom? Hulle misken Hom en maak Hom dood! Sou dit onregverdig wees as Hy sou besluit om hulle te verwerp? Ek vra maar net.......

Maar steeds is God se genade onbeskryflik groot, want selfs die Jode wat Hom verwerp het, kry nog ‘n kans. Al wat hulle moes doen, was om in Jesus te glo. Hy het nie gekom om te veroordeel nie, maar om te red. Hy was dus bereid om selfs al daardie verskriklike sondes van hulle uit die verlede te vergeef en daarvan te vergeet, as hulle net in Hom sou glo. Deur in Jesus te glo, glo jy ook in God, die Almagtige, want hulle is Een.

Jesus se aanbod geld egter nie net vir die Joodse volk nie, maar ook vir die res van die wêreld - ook vir jou en my. Géén mens se sonde is te groot om vergifnis te kry nie. As jy dalk vandag sou dink dat die ewige lewe jou nooit beskore kan wees nie as gevolg van jou verlede, dan is jy verkeerd. As Jesus selfs die weerbarstige Jode ‘n tweede kans kon gee, dan kan ek en jy ook een kry.

Gebed:

Here, dankie dat U my ‘n tweede kans gegee het, en dat U ook vir my gered het, ten spyte van al my baie sondes.

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Die Ark is Terug
24 August, 2026
‘n Warm Patat
21 August, 2026
Die Ark is Gebuit!
20 August, 2026
Luister en Doen
19 August, 2026
Wanneer die Here Praat
18 August, 2026