Die Jode se Ongeloof

24 March, 2022
Luister Na Hierdie Dagstukkie Die Jode se Ongeloof

Johannes 8:21-30

VIDEO * OUDIO

Jesus was in gesprek met die Jode. Hulle het Hom allerhande vrae gevra en Jesus het hulle antwoorde gegee wat hulle gladnie verstaan het, of dalk wóú verstaan nie. Sy gesprek met die Jode is uit ‘n menslike oogpunt totaal onbegryplik. Ons sien ook in hierdie gesprek ‘n frustrasie opbou, beide van die Jode sowel as van Jesus af.

“Wie is jy?” vra die Jode, nadat Jesus al talle male vir hulle verduidelik het wie Hy is. “Waarom praat Ek eintlik nog met julle?” kom Jesus se moedelose antwoord. Hoeveel duideliker moes Hy dit dan nog stel? Maar tóg is daar ‘n diep geheimenis wanneer Jesus verduidelik, iets wat te groot is vir ons menslike verstand om ooit te begryp.

Hierdie gesprek is een van die belangrikste uitsprake van Jesus oor die dinge wat daar by die kruis gebeur het. Hy vertel vir die mense dat Hy weggaan, en dan sê hy verder ook vir hulle dat húlle nie kan kom waar Hy heen gaan nie. In Joh 7:34 het Hy dieselfde ding vir hulle gesê. Dit is ‘n dringende waarskuwing hierdie - ongelukkig een wat die Jode verkies het om te ignoreer. Hulle verkies om nie te verstaan wat Hy bedoel nie. “Gaan Hy dalk selfmoord pleeg?” wonder hulle. Lagwekkend! Hulle maak totale gekke van hulleself.

Terloops, daar was eenmaal ‘n beriggie in die koerant van ‘n gemeente wat ‘n reuse plakkaat op die kerkgronde opgerig het met ‘n Bybel aanhaling: “Die dwaas sê in sy hart dat daar nie ‘n God is nie!” ‘n Ateïs het erg aanstoot geneem, want hierdeur word hy mos uitgekryt as ‘n dwaas. Hy is hof toe hiermee, en hy het sy saak gewen, want dit is ongrondwetlik om iemand ‘n dwaas te noem as hy nie glo nie, al sê die Woord van God anders. Ja, hy mag dalk sy hofstryd gewen het, maar die arme man het ‘n baie groter geveg verloor, en dit maak hom die grootste dwaas wat bestaan. Want wat help dit jy het wel alles op aarde, maar jy verloor die reg om die ewige lewe te kan hê?

Jesus spel dit weereens vir die Jode uit - Hy is van daar Bo, nie van hierdie wêreld nie. Kon Hy dit duideliker sê? Hy is van die hemel af. En hiermee het Jesus baie beslis nie bedoel dat Hy ‘n engel is nie! Ja, Hy het wél die titel van Engel, maar dit is ‘n verhewe titel: Engel van die Here! Dit beteken egter nie dat Hy ‘n engel is nie, maar Hy is God. In Sy verduideliking gebruik Jesus die term “Ek is wat Ek is” om te sê Wie Hy werklik is.

Tydens die gebeure van Moses se roeping in Eksodus 3, waar Moses die brandende doringbos sien, lees ons dat die “Engel van die Here” in die gedaante van ‘n brandende bos aan hom verskyn het. Dit was dus die Seun, Jesus. Later in die gesprek, as Moses wil weet hoe hy vir die Israeliete moet sê, wie hom gestuur het, sê die Here vir hom: “Ek is wat Ek is” (JHWH of JAHWEH).

Moses moes sy skoene uittrek, want die Here het hom laat verstaan dat hy op heilige grond verkeer. By die aanhoor van hierdie woorde, moes die Jode eintlik ook in aanbidding voor Jesus neergeval het, want hier was hulle voor die Heilige God. Maar wat doen hulle? “Wie is jy?” vra hulle Hom. Hy het vir hulle so pas uitgespel Wie Hy is, en dan kom hulle met so ‘n simpel vraag! Dit is daarom dat Jesus vir hulle sê: “Waarom praat Ek eintlik nog met julle?”

Maar dan kom die totaal onbegryplike uitspraak van Jesus, dat Hy slegs sê wat Hy van die Vader gehoor het. Ons sien hier Jesus se ware menslikheid deurkom, dat Sy kennis beperk is tot wat die Vader Hom meegedeel het. Terselfdertyd sien ons Sy Goddelike kant as Hy vir hulle sê dat Hy hulle kan veroordeel. Later sal ons sien hoe Jesus se menslike kant nog sterker na vore tree, wanneer Hy bang en benoud is kort voor die kruisiging. Hy was waarlik mens, net soos ek en jy, maar met die groot verskil dat Hy geen sonde in Hom gehad het nie. Maar weereens sien ons ook in Sy Menslikheid, dat daar die Goddelike deurkom, in dat Hy ten volle bewus is wat vorentoe met Hom sou gebeur. Hy het presies geweet wat vir Hom sou voorlê tydens die kruisiging. Dit moes, menslik gesproke, absoluut skrikwekkend gewees het! Geen wonder dat Hy daardie verskriklike nag in Getsemane gebid het dat hierdie dinge asseblieftog nie met Hom moes gebeur nie! Dit was meer as wat enige mens sou kon verduur.

In die daaropvolgende deel van die gesprek praat Jesus van Sy “verhoging.” Hulle, die Jode, sou Hom verhoog, en eers daarna sou hulle begin besef Wie Hy werklik is. Hierdie “verhoging” dui natuurlik op Jesus se kruisiging. Maar dit het eintlik ‘n dubbele betekenis, want terselfdertyd dui dit ook op Sy verhoging tydens die hemelvaart, waar Jesus weer Sy regmatige plek ingeneem het in die troonsaal van die almagtige God, as heerser oor hemel en aarde.

Ten spyte van die hardnekkige ongeloof van die Joodse leiers, vertel Johannes vir ons dat daar nogtans baie mense tot geloof gekom het in Jesus oor hierdie dinge wat Hy vir hulle gesê het.

Vandag moet ek en jy as gelowiges nie moedeloos raak as ons die ongeloof rondom ons aanskou nie. Daar is steeds ‘n groot skare van gelowiges wat saam met ons die Here dien.

Gebed:

Here, dankie vir al die gelowiges wat U dien saam met my, en wat ook soos ek onvoorwaardelik glo in U.

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

‘n Warm Patat
21 August, 2026
Die Ark is Gebuit!
20 August, 2026
Luister en Doen
19 August, 2026
Wanneer die Here Praat
18 August, 2026
Om Kinders Groot te Maak
17 August, 2026