Die Hofuitspraak

3 March, 2022
Luister Na Hierdie Dagstukkie Die Hofuitspraak

Johannes 5:30-47

VIDEO OUDIO

Daar is tans in Suid-Afrika etlike groot hofsake aan die gang waarby reuse in die samelewing betrokke is. Telkens moet ons lag (of dalk eerder huil) as ons hoor hoe die ou grotes lieg en kleitrap om uit die moeilikheid te probeer bly. Vandag verloop hofsake natuurlik totaal anders as in klassieke tye. Toe was daar nie spanne advokate wat met hulle boekgeleerdheid skuldige mense op tegniese punte kon lospraat nie. In daardie jare was ‘n hofsaak maar baie eenvoudig - dit was net die aanklaer, die getuies, die beskuldigde en die regter. Die beskuldigde moes sy eie verdediging waarneem, en op grond van sy getuienis en dié van die getuies vir en teen hom, moes die regter ‘n besluit maak.

In Johannes 5:30-47 speel ‘n tipiese hofsaak af waar Jesus, die beskuldigde, getuig oor Homself. Ek en jy is die regter wat ‘n uitspraak moet maak oor Hom. Ons moet probeer vasstel wie Jesus waarlik is?

Soos in enige hofsaak, moet ons getuies roep. Die wet vereis dat daar getuies moet wees, omdat die getuienis van ‘n aangeklaagde alleen nie goed genoeg is nie. Dit wil egter nie beteken dat Jesus nie die waarheid praat nie en ons kan sonder twyfel aanvaar dat Jesus se getuienis alleen genoeg is. In vers 34 sê Jesus self dat Hy nie nodig het om te steun op mense se getuienis nie. Maar vir die doel van die “hofsaak” gaan ons ook ander getuies inroep, net om die stempel te plaas.

Die eerste getuie wat ons in hierdie saak roep, is Johannes die Doper. Sy getuienis is helder en duidelik. In Joh 1:29-34 getuig hy van Jesus deur te sê: “Dáár is die Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem.” Hy sluit sy getuienis af met: “Hy is die Seun van God.” Ek en jy kan dalk reeds klaar besluit dat hierdie getuienis dalk goed genoeg is. Met sy getuienis is daar absoluut niks verkeerd nie. Jesus sê egter sélf dat Hy nie Johannes se getuienis nodig het nie. Al was dit waar, was hy maar ’n blote mens. Hy is verganklik en hy is maar ook nes ‘n ou lampie wat ‘n ruk gebrand het en toe weer doodgegaan het. Selfs Johannes se getuienis is maar baie tydelik en dalk sal baie mense hom vandag nie eers meer glo nie! Jesus se eie getuienis is egter baie groter en gewigtiger as dié van Johannes en baie, baie beter. Kom ons gaan kyk ‘n bietjie na hierdie getuienis:

Die eerste stukkie getuienis wat Jesus noem, is Sy werke. Gaan kyk maar na die dinge wat gebeur het en al die wonderwerke wat Jesus verrig het in die drie jaar van Sy bediening. Hy het mense genees, duiwels uitgedryf, storms stilgemaak en skares kos gegee. Hierdie soort dinge kan alleen van God af kom! Sulke dade kan beslis nie aan die duiwel toegeskryf word nie! Is dit nie al klaar genoeg getuienis nie?

Maar daar is meer: Jesus sê verder dat selfs die Vader oor Hom getuig. Waar kon jy byvoorbeeld ooit ‘n beter getuienis kry as die dag van Jesus se doop, toe die Stem van die Vader klokhelder uit die hemel weerklink het: “Dit is My geliefde Seun.…?” Jesus swaai die hofsaak om, wanneer Hy die aanklaers die beskuldigdes maak met hierdie beskuldiging aan die Joodse leiers: “Sy Woord lewe nie werklik in julle nie!” Hulle is blind en doof vir die Woord van God. Ja, hulle ondersoek die Geskrifte wat juis van Jesus getuig, maar hulle lees aspris daar verby. Hulle sien God nie raak daarin nie en hoor nie Sy stem nie. En die ergste is dat hulle Jesus verwerp, omdat hulle Hom nie in die geskrifte herken nie!

Die derde getuienis is dan juis ook hierdie Geskrifte, die Bybel. Vir die Jode het hierdie Skrif absolute krag gedra en wat daarin geskryf was, was wet. Hulle het ook maar ál te duidelik besef dat hulle daarin die pad sou vind wat sou lei na die ewige lewe. Maar die Skrifte het vir hulle geword soos ‘n doolhof wat na nêrens lei.

Ja, dit is tóg moontlik om die Bybel te lees en totaal daarin verdwaal te raak! Dit gebeur wanneer jy jou nie laat lei deur die Heilige Gees nie. Die Bybel is soos ‘n padkaart, ‘n padkaart na Jesus. Jy sal met my saamstem dat as jy doelloos na ‘n padkaart kyk, dan is dit net ‘n deurmekaar spul strepe. Die Joodse leiers het ook nooit Jesus se Naam in hierdie padkaart ingelees nie. Hulle wou net eenvoudig nie! Net soos die Jode van ouds, sal ons ook nie by Jesus uitkom as ons nie hierdie Padkaart wat die Here ons gegee het, ernstig opneem nie. Al die aanwysings wat ons nodig het is daar. Moses het uit die Ou Testament aanwysings gegee en só ook Jesaja. En in die Nuwe Testament is daar talle. Al hierdie dinge is deel van die getuienis wat God gee aangaande Jesus.

Die getuienis lê op die tafel. Ek en jy as regters, moet nou ‘n uitspraak lewer. Wie sê jy as regter, is Jesus? Stem jy saam met die Joodse leiers? Of aanvaar jy die getuienis wat God Sélf gee? Die keuse, liewe leser, is joune!

Gebed:

Here Jesus, ek aanvaar die getuienis uit die Woord van God aangaande U onvoorwaardelik en met my hele hart en siel en verstand. Ek aanvaar U as my Verlosser!

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Die Ark is Terug
24 August, 2026
‘n Warm Patat
21 August, 2026
Die Ark is Gebuit!
20 August, 2026
Luister en Doen
19 August, 2026
Wanneer die Here Praat
18 August, 2026